Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

As ons as dissipels van Christus funksioneer, sal ons weer die klanke hoor van Handelinge 5:13: “… die volk (het) hoë agting vir hulle gehad”.

Watter kwalifikasies moet ’n mens hê om met die ASM te mag praat?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Die Algemene Sinode van 2023 het so pas finaal gekies: eerder kerkskeuring as oop gesprek deur onpartydige mediasie.

LEES OOK: Alle beriggewing HIER | Amptelike besluite HIER

Vir agt jaar lank het behoudende gemeentes en lidmate alle moontlike kerklike kanale benut om die skeuring wat verskeie van die Algemene Sinode se besluite, veral dié van 2015 en 2019, in die NG Kerk veroorsaak het, te probeer stop. Aangesien elke beswaar op dowe ore geval het, het talle gemeentes uit alle sinodale gebiede besluit om amptelik te doleer in ’n poging om te wys hoe ernstig hierdie saak is. Ook dit was tevergeefs. Kairos Netwerk wat namens talle behoudende gemeentes en selfs duisende lidmate praat, het ’n skriftelike versoek aan die ASM gerig om, ter wille van die eer van God en die ware eenheid van sy Kerk, deur die proses van onpartydige mediasie saam te soek na ’n oplossing vir die groeiende krisis in die kerk. Die aanbod is botweg geweier.

LEES OOK: Selfdegeslagbesluit: ChatGPT help kerk ‘luister’ in soeke na pad vorentoe te midde van verdeeldheid by Algemene Sinode

Op 4 Mei 2022 het 56 gemeentes van oor die hele land as ’n kategoriale sinode bymekaargekom met een gemeenskaplike doel naamlik reformasie van binne die NG Kerk. Die 56 gemeentes het besluit om weereens gesamentlik ’n amptelike uitnodiging vir gesprek deur mediasie aan die ASM te rig. Vir die derde keer is die versoek geweier. Die heel laaste versoek is toe direk aan die Algemene Sinode van 2023 in sitting gerig. Die versoek vir onpartydige mediasie is toe die vierde keer geweier sonder om enige werkbare alternatiewe voor te stel. Daardeur het die Algemene Sinode ook finaal gekies vir kerkskeuring eerder as mediasie. Die rede vir hulle weiering was telkens dat die 56 gemeentes volgens hulle nie locus standi het om met die AS of ASM te mag praat nie. Snaaks, of hierdie 56 gemeentes “locus standi” het om nog aan te hou om sinodale bydraes te gee, het hulle nie gesê nie. Die implikasie van hulle standpunt is egter duidelik.

Aangesien die woord “locus standi” wat die ASM en ATR so vernuftig gebruik, nêrens in die Kerkorde staan nie, is dit ’n onkerkordelike besluit. Ons sal bly wees as die ASM en ATR nou vir ons kan verduidelik watter kwalifikasies ’n mens volgens hulle moet hê om met die ASM te mag praat? Baie van ons behoudendes het ook al baie jare lank in daardie posisies gedien. Vir ons was dit nie ’n status nie, maar ’n diens in die kerk. Ons kan nie onthou dat ons ooit enige gesprekke wat die welsyn van die kerk raak ontduik het omdat iemand wat met ons wou praat kwansuis nie die nodige locus standi gehad het nie. Na die Algemene Sinode 2023 verby is, is een saak bitter jammer, maar baie seker, en dit is dat die Algemene Sinode van die NG Kerk met hulle herbevestiging van die on-Skriftuurlike en on-kerkordelike besluite, nou finaal gekies het vir kerkskeuring eerder as onpartydige mediasie. Blykbaar beskik hulle wel oor die nodige “locus standi” om dit te mag doen?

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.