Johannes Bernardus Linde is op 22 Junie 1931 gebore op Swellendam. Sy vader was Hans Jurie Linde, ’n bouer van beroep en sy moeder was Margaret Stone. Jan begin sy skoolopleiding in 1937 aan die Laerskool Swellendam en later aan die Laerskool Stellenbosch. In sy skooljare presteer hy in rugby en atletiek. In 1945 word hy leerling aan die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch waar hy aan die einde van 1948 matrikuleer. Hy voel geroepe om onderwys te gee en behaal die BA en HOD aan die Universiteit Stellenbosch. Hy presteer in Matieland in rugby, stoei en gewigoptel. Hy behaal in 1957 die MA-graad in Geografie met ’n verhandeling oor “Klimaatsverandering in historiese tyd, drywende kontinente”. Hy skryf ook oor die katoenverbouing langs die Oranjerivier.
Jan gee van 1957 tot 1960 onderwys tot die roeping om predikant te word so sterk word dat hy terugkeer na die Kweekskool op die walle van die Eersterivier op Stellenbosch. In 1961 klim hy as student die marmertrappies van die Profeteskool waar hy vier jaar lank teologie studeer en op 3 Desember 1964 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer word. ’n Roepstem bereik proponent Jan Linde en hy word op 25 Februarie 1965 in die NG Gemeente Goedvertrou, ’n gemeente langs die grootpad by Lykso tussen Kuruman en Vryburg, bevestig. Na ’n besondere tyd tussen die gasvrye boeremense word hy in die winter van 1968 leraar van die NG Gemeente Caledon. In hierdie pragtige dorp in die Ruens, beleef hy goeie jare en behaal groot sukses onder die jeug.
Ds Jan Linde word op 11 Oktober 1974 bevestig as leraar van die NG Gemeente Tygerberg, ’n gemeente waar hy werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 29 September 1991. Hy beleef die skorsing van sy kollega tydens sy lang dienstyd in Tygerberg as ’n traumatiese ervaring. Hy dien op die ringskommissie van die Ring van Reivilo en ook op die RKLAS van die Ring van Parow.
Ds Jan Linde sterf op 24 November 2022.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM