Daniel Frederik Berrange Nelson is op 9 Mei 1958 gebore te Schweizer-Reneke. Sy vader was Lourens Jacobus Nelson, ’n onderwyser van beroep en ’n boorling van Boetsap naby Reivilo. Sy moeder was Elizabeth Johanna Strydom en word groot in Jansenville en Schweizer-Reneke. Danie begin sy skoolopleiding in 1965 aan die Laerskool Sweizer-Reneke en matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Sweizer-Reneke.
In 1978 word hy student aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO waar hy die BA (Admissie)-graad verwerf. In 1983 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) in Pretoria, waar hy die BD-graad verwerf en spesialiseer in Vaderlandse Kerkgeskiedenis. Hy skryf sy skripsie onder prof PB van der Watt met die tema: “’n Biografiese skets van prof FJ Botha”. Hy word aan die einde van 1986 gelegitimeer. Gedurende vakansietye werk hy vir sakgeld in die goudmyne aan die Rand, hoofsaaklik aan die Vaal Reefs-myn. Hy werk ook twee jaar lank by Binnelandse sake. Hy trou op 3 Desember 1983 met Petro Nelson, ’n gekwalifiseerde apteker van beroep. Die troue was te Naboomspruit en uit die huwelik is ’n seun en ’n dogter gebore.
Prop DFB Nelson word in 1987 leraar van die NG Moedergemeente Warmbad, waar hy ’n leeftyd lank die leraar is tot in 2010 toe die band tussen hom en die gemeente losgemaak is. Intussen het die dorp se naam ook verander na Bela Bela en hy was iemand wat met liefdesbande verbind was aan die gemeente en gemeenskap. Hy was ’n termyn lank voorsitter van die Kleuterskool Bosveldspruitjies en ook van die Laerskool Warmbad. Hy het ook op die uitvoerende bestuur gedien van die Rusoord Ouetehuis en die Christelike Maatskaplike Raad.
In die winter van 2011 verhuis ds Danie en Petro Nelson na die NG Gemeente Vryheid-Suidoos, waar hulle in diens van die Here gestaan het. Gemeentelede van Bela-Bela en Vryheid het ds Nelson beskryf as ’n leraar met buitengewone gawes om jongmense te bemoedig. Hy was onder “Warrie-leerders” bekend as “Dan The Man”, ’n bynaam wat hy met trots gedra het. Hy het elke leerder by die naam geken en was ’n geesdriftige ondersteuner langs die sportveld en het kulturele aktiwiteite getrou bygewoon.
Ds Danie Nelson het homself op 16 November 2022 in Vryheid doodgeskiet, kort voordat hy op Sondag 20 November 2023 sy afskeidspreek in die gemeente sou lewer. Mense het hom beskryf as ’n man van insig, wysheid, ’n goeie vriend en puik leraar. Hy sal ook onthou word vir sy vinnige kwinkslae en vir sy omgee vir die gemeenskap. Ds Danie Nelson het die gebroke mense in die wêreld raakgesien en geïnspireer om in hulleself te groei, en dat die werke van die Here duidelik in sy gemeente sigbaar was, strek hom tot eer. Die mense van Vryheid het sy heengaan as ’n enorme leemte in die gemeente beskryf.
’n Begrafnisdiens vir ds Danie Nelson is op Woensdag 23 November 2022 vanuit die NG Kerk in Vryheid gehou. Die diens is ook herlei na die NG Gemeente Bela Bela se groot skerm. So kom ’n mooi lewe op ’n tragiese wyse ten einde.
– Dr Gerdrie vd Merwe VDM