Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Deelnemers aan die onlangse eendagkonferensie oor ekologie het van verskeie Afrika-lande gekom. Skermgreep via Youtube.com/@kaapkerk1665

VIDEO: Gemeentes het unieke rol te speel in bewusmaking rondom klimaatsverandering


Ekoteologie, klimaatsverandering en die rol wat godsdienstige gemeenskappe in die bevordering van omgewingsbewaring kan speel. Vier sprekers het op 8 November tydens ’n eendag-geleentheid by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington hulle kundigheid oor onder meer hierdie drie onderwerpe gedeel met plaaslike navorsers asook kollegas uit verskeie Afrikalande. Mias van Jaarsveld vertel meer.

 

Prof Annalet van Schalkwyk, ’n ekofeminis en missioloog wat gekoppel is aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, het haar navorsing oor agro-ekologie en grond binne die konteks van klimaatsverandering in Afrika gedeel. Sy het die klem gelê op gemeenskapstuinprojekte wat naasteliefde, bemagtiging en menswaardigheid bevorder. Van Schalkwyk het gepleit vir ’n teologie van bewaring wat beklemtoon dat ’n mens met en binne die skepping moet werk, eerder as om oor dit te heers.

 

Nog ’n spreker, prof Ernst Conradie van die Universiteit van Wes-Kaapland, het die gehoor geboei met sy verkenning van “ekoteologie”. Deur die term op te breek in “oikos” (huis), “theos” (God) en “logos” (studie of woord), het Conradie beklemtoon dat ’n omvattende benadering tot Christelike ekoteologie nodig is wat beide Westerse en nie-Westerse perspektiewe insluit. Hy het teen oormatige eise van kundigheid gewaarsku en aangemoedig tot ’n tweerigtingkritiek tussen Christenskap en ekologiese vraagstukke. Conradie se praktiese insigte het ’n oproep ingesluit vir bedagsame betrokkenheid by Christelike teologie, waarby die onderlinge verband tussen armoede en ekologie beklemtoon word.

LEES OOK: Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek

Dr Jan Jorrit Hasselaar, direkteur van die Sentrum vir Godsdiens en Volhoubaarheid aan die Vrije Universiteit Amsterdam, se aanlynaanbieding het gefokus op die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte wat deur die Verenigde Nasies gestel is. Hy het die radikale onsekerheid van klimaatsverandering bespreek en die potensiaal vir hoop deur samewerking met verskeie kulture, godsdienste en gemeenskappe deur waardegedrewe dialoog beklemtoon. Sy klem op praktiese projekte wat met Kaapstad verband hou, het die rol van godsdienstige gemeenskappe in die aanspreek van klimaatsverandering beklemtoon.

Ds Dewald Hoffman, voormalige leier van die Groen Span in die NG Kerk. Foto: DJ Muller

Ds Dewald Hoffman, voormalige leier van die Groen Span in die NG Kerk in die Wes-Kaap, het oor die teologie(ë) gesels wat hom (hulle) geïnspireer het om by ekoteologie en ekologiese projekte betrokke te raak, insluitend Steve de Gruchy. Hy het na konkrete voorbeelde van projekte waarby hulle betrokke is, verwys, met die klem op die feit dat klein projekte nooit onderskat moet word nie, en dat klein kopskuiwe tot groot impak kan lei.

LEES OOK | Ekologie: Groenvinger-dominees maak hande vuil in grendeltyd

Die konferensie is afgesluit met ’n paneelgesprek, waar die sprekers ’n geleentheid gebied is om oor hulle navorsing te reflekteer en die dringendheid van die aanspreek van klimaatsverandering en ekologiese krisisse te beklemtoon. Alle sprekers was dit eens dat hierdie kwessies nie tot politiek beperk is nie; dit raak almal.

Daar is ook gesê dat gemeentes die infrastruktuur, die platform en die roeping het om hulle lidmate te begelei om meer sensitief te wees wanneer dit kom by sake wat oor omgewingsbewaring gaan, hetsy deur fisiese projekte aan te pak of gevestigde projekte te ondersteun. Daarbenewens het gemeentes ’n unieke geleentheid om hulle roeping te vervul aan die hand van liturgieë, eredienste en preke wat spesifiek fokus op ekologie gedurende die kerkjaar. Hierdie holistiese benadering sal die belangrikheid van ekologiese bewustheid in die breër kerklike gemeenskap bevestig en ’n omgewingsvriendelike lewenstyl deur geloofspraktyke bevorder.

CLF beoog ook om artikels aan te vra wat fokus op Afrika se unieke reaksie op ekologie en dit in ’n boekformaat uit te gee in volgende jaar. Die mini-konferensie is gereël in samewerking met NetACT, Clairvaux Skrywershuis en CLF.

  • Dr Mias van Jaarsveld is redakteur by CLF en was een van die organiseerders van hierdie konferensie.

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.