Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Versoening: ’n Geskenk wat die NG Kerk nie weer mag weier nie


“Die Here gee aan sy kerk die gawe van versoening om sy koninkryk in hierdie wêreld te bou.” Hierdie woorde van ’n vorige moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, ds Freek Swanepoel, maak dit duidelik hoe belangrik versoening as deel van die kerk se roeping in hierdie wêreld is. Tog vertel die geskiedens van die NG Kerk die verhaal van ’n kerk wat nie juis ’n onderskeiding in die module sou kry nie.

Terwyl die Algemene Sinode van 1994 ’n groot uitsondering is omdat versoening tydens en na die vergadering rigtinggewend vir die kerk se roete na 1994 was, is die geskiedenis van die NG Kerk deurspek met voorbeelde waar onversoenbaarheid tot groot pyn en skade vir die kerk gelei het. In breë verband dink ’n mens onwillekeurig aan die ontstaan van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in 1853, die ontstaan van die Gereformeerde kerk in 1859, die Loedolffsaak van 1862, die Du Plessis-stryd van 1932 en die ontstaan van die Afrikaanse Protestanste Kerk in 1987. Konflik, onversoenbaarheid en skeuring maak egter ook die hartseer verhaal van baie gemeentes uit.

LEES OOK: Cas Wepener: Kersfees en ’n Ma se Mahala

Geborg

Nou is die gerugte en tekens na die Algemene Sinode weer daar. Die groot vraag is wat die NG Kerk hierdie keer gaan doen of nie gaan doen nie. Miskien is dit nodig dat elkeen wat ’n rol van watter aard ook speel, op pad na Versoeningsdag en Kersfees eerlik en diep daaroor nadink – oor die gawe van versoening wat die Here ook aan die NG Kerk gegee het. Miskien kan dit gebeur dat die NG Kerk hierdie geskenk in 2024 opnuut aanvaar en daarmee erns maak. Dit mag beteken dat daar vergeet moet word van water wat reeds spreekwoordelik onder die brug deur is en van die koeël wat deur die kerk is.

Dit mag dalk vra dat ons moet ophou met verdagmakery op sosiale media en eerder opnuut na mekaar moet luister en met mekaar moet praat ter wille van die kerk en die koninkryk! Dit mag dalk vra dat daar ook kerkordelik teruggegaan moet word na die tekenbord, dalk na ’n skoon vel papier om ook kerkregtelik ruimte te skep terwyl ons mekaar bly vashou. Wyle aartsbiskop Desmond Tutu het op ’n keer gesê: “Don’t ever underestimate God. He is a God of surprises”.

2024 word dalk net die jaar van buitengewone verrassings vir die NG Kerk as die kerk regtig erns gaan maak met die gawe van versoening. Dit is ’n gawe wat die kerk nie weer mag weier nie.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “Versoening: ’n Geskenk wat die NG Kerk nie weer mag weier nie”

  1. Meer nog as die gawe van versoening, is die gawe van Sy Seun, Jesus Christus. Versoening met God kan nie kom ten koste van die Persoon en waarheid van God se grootste geskenk nie.
    Wanneer mense sê, hier is ‘n lyn wat nie oorgesteek kan word nie, dan is dit om Christus as eerste gawe te behou. Meeste van die tyd, deesdae…..

  2. Ware versoening het met bekering te doen. Skrif is vol van oproepe van bekering en terugkeer na God. So is daar nie sprake van ware versoening binne die kerk sonder die aanspreek, erkenning en indien nodig bekering van die sake wat die verwydering, skeiding veroorsaak het nie. Dit is hoe ‘n skoon bladsy in God sé oë begin.

  3. Prof. Johan van der Merwe se rubriek is ’n aangename vars briesie in die huidige verwarrende kerklike atmosfeer. Sy oproep “dat elkeen wat ’n rol van watter aard ook speel, op pad na Versoeningsdag en Kersfees eerlik en diep daaroor nadink – oor die gawe van versoening wat die Here ook aan die NG Kerk gegee het” is baie dringend en tydig. Miskien moet ons eerder sê op pad na Geloftedag, aangesien Geloftedag (al val dit op dieselfde dag as Versoeningsdag), ons juis herinner aan die gawe van versoening vanuit ‘n vertikale perspektief.
    Met groot respek teenoor die skrywer is daar tog ‘n belangrike element van egte versoening wat in die rubriek skort, naamlik die verhouding tussen waarheid en versoening. Daarom is dit nie duidelik wat Johan bedoel met: “Dit mag beteken dat daar vergeet moet word van water wat reeds spreekwoordelik onder die brug deur is en van die koeël wat deur die kerk is.” Bedoel hy dat ons nou maar moet vergeet wat die Woord ons leer oor al die on-Skriftuurlike koeëls waarmee die kerk steeds gebombardeer word? Verstaan my asb reg, daar is geen twyfel oor die feit dat die meeste behoudendes soek na ware versoening nie. Dink maar aan die drie skriftelike uitnodigings tot onpartydige mediasie wat Kairos Netwerk en Kononia Sinodale Diensgroep namens ‘n groot getal lidmate en gemeentes aan die vorige ASM gerig het, plus ‘n soortgelyke skriftelike uitnodiging aan die 2023 Algemene Sinode in sitting. Soos u weet was almal geweier met die flou verskoning oor “locus standi” wat geen kerkregtelike of regsgronde het nie, en nog minder vanuit die Woord en die eis van christelike liefde, geregverdig kan word. Ten spyte daarvan is die meeste behoudendes steeds oop vir Bybelse versoening. Juis daarom is Koinonia Sinode se konsep “Skrifgetroue gemeentes- en lidmate se pad vorentoe” ook aan die nuwe ASM gestuur en steeds oopgelaat vir kommentaar voordat dit na raming teen einde Januarie gefinaliseer sal word.
    Een ding is dus seker: Meeste behoudendes is oop vir versoening. Egte versoening groei egter slegs vanuit ‘n vertikale perspektief. Dus geen versoening ten koste van die waarheid van die Woord nie. Slegs as ons mekaar op gelyke voet ontmoet in eerlike openlike gesprekke vanuit die Woord, kan ons weer eenheid kry soos Paulus in Ef 4: 15 sê: “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam”. In vers 3 noem hy hierdie eenheid in waarheid: “…die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het…”. Egte versoening kan nie die on-Skriftuurlike koeëls wat reeds deur die kerk is, en wat die kerk steeds bombardeer, onder die tafel invee terwille van eenheid ten koste van die Bybelse waarheid nie.
    Ja, egte versoening is noodsaaklik, maar slegs op die pad van reformasie, terug na Sola Scriptura.

  4. My vraag in die verband is:
    Moet net die NG Kerk praat oor versoening.
    Wat is die prys, gemeet teen Wereldse Standaarde, wat die ” Kerk” bereid sal wees om te betaal.

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.