“Dit wat by ons leef, is om hierdie hoofstuk toe te maak en ons bid dat vrede sal kom na almal wat nou swaarkry.”
Só vertel ds Johan Lötter (56) by navraag oor hoe dit met hom en sy gemeente in Amanzimtoti gaan. Ons gesprek vind plaas ’n dag ná die eerste hofverskyning van ’n verdagte in verband met die moord op die NG Gemeente Suidkus se vorige leraar, ds Liezel de Jager (38). Dit is meer as 25 maande sedert berig is haar man, Werner, het haar dood gevind in die oprit van die pastorie na sy van ’n vroeë drafsessie teruggekom het.
“Dominee Liezel,” soos almal haar onthou, is deur kollegas en vriende beskryf as ‘n “fenomenale jong vrou wat in die fleur van haar lewe weggeruk is”, het Kerkbode berig op 14 Oktober 2021. Voor sy op 7 Julie 2019 by hierdie groot gemeente aan die Natalse Suidkus as medeleraar bevestig is, was sy vir nege jaar gemeenteleraar by die gemeente Kanoneiland in die Noord-Kaap. Sy en haar man het twee dogtertjies, Ila en Lané.
Die nuus dat haar man nou van haar dood verdink word, was ’n ontnugtering vir baie in die gemeente, sê Lötter. Daar is mense wat swaarkry, maar as kerk staan hulle almal by, groot en klein.
Hy beleef egter ook in die dorp en by die meeste lidmate ’n hoop en verwagting dat hierdie uitmergelende lang en hartseer hoofstuk nou sal kan afsluit sodat almal kan aanbeweeg, brei Lötter uit.
Lees ook: In Memoriam: Liezel de Jager (1983 – 2021)
Die saak het meer as twee jaar gesloer. Ian Cameron van die drukgroep Action Society sê in ’n onlangse verklaring hulle en Liezel se ouers, Hennie en Salomé van Zyl, het byna 100 oproepe en boodskappe gestuur na die polisie sonder om antwoorde te kry oor vordering met die ondersoek. Op 31 Oktober het hulle die hooggeregshof in Gauteng genader vir mandamus (bevelskrif) om die polisie te dwing om al die nodige stappe te neem vir ’n deeglike ondersoek. Cameron het gesê hulle is baie dankbaar dat ‘n nuwe ondersoekspan oorgeneem het en in twee weke gedoen het wat twee jaar gelede gedoen moes wees.
‘Ons het by haar die aflosstokkie oorgeneem’
In November is dit een jaar sedert hy die nuwe en enigste gemeenteleraar geword het van hierdie gemeente van meer as 1 600 lidmate. Lötter vertel dit was toe ’n gemeente wat op verskeie maniere deur ’n “woestyntyd” gekom het. Dit was tyd om te herstel en herbou.
Hiermee meen hy is hulle as gemeente mooi op weg. In die kerk se gedenktuin is ’n monument vir dominee Liezel en bouwerk is ook aan die gang vir ’n nuwe konferensiesaal wat moontlik na haar vernoem sal word. Die gemeente se bedrywighede word ook goed ondersteun met Sondag se Kinderkerssangdiens wat glo deur ’n “rekordgetal” mense bygewoon is.
Soos hy vir haar pa, Hennie van Zyl, wat vroeër vanjaar die gemeente besoek het, kon sê, “ons het (by haar) die aflosstokkie oorgeneem”.