Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ds Liezel de Jager. Foto: Argief

Liezel de Jager (1983 – 2021)


Salomé Liezel de Jager (Van Zyl) is op  23 Julie 1983 gebore op Olifantshoek,  ’n boerderygemeenskap tussen Kuruman en Upington. Haar ouers is Henk en Salomé van Zyl, wat met haar geboorte  verbonde was aan die Suid-Afrikaanse Polisiemag op Olifantshoek.

In 1997 word Henk bestuurder van die SAPD  Kollege (Polisie-akademie) op Graaff Reinet, toe Liezel in graad 9 was  aan die Hoër Volkskool. Ds Johan  Esterhuysen, toe leraar van die Groot Kerk op Graaff-Reinet, skryf: “Ek  onthou die skraal skooldogter by ons aan huis as skoolmaat van ons dogter.  Liezel was die verpersoonliking van  ’n positiewe, opgewekte, energieke,  sosiale en intelligente skepping van ons Heer. In haar ouerhuis is die fondasie  gelê van ’n ware verbondshuis, sodat  sy met hierdie fondament die bediening  kon betree. Henk was ouderling in ons  gemeente en hy en Salomé was baie  betrokke in die kerklike lewe en gemeenskap – twee staatmakers! Liezel se  twee jonger sussies was ’n tweeling, ook  goeie afdrukke van hierdie gesinslewe.”  Ds Louis Venter van die Nuwekerk,  beskryf die gesin as “Bybels-gelowige  belydende Christene”, mooi mense en  ’n aanwins vir Graaff-Reinet.

Liezel was baie betrokke by die SKJA op Graaff-Reinet, ’n aksie van albei gemeentes, waar sy in 2000 met toestemming van die kerkraad  belydenis van geloof aflê in die NG  Nuwekerk onder leiding van ds Louis  Venter.

Nadat Liezel in 2001 aan die Hoër  Volkskool in Graaff-Reinet matrikuleer, voel sy geroepe om predikant te word en begin studeer aan die Teologiese  Fakulteit van die UOVS in Bloemfontein.

Na ’n tyd onderbreek sy haar studie om te trou met Werner de Jager, waarna hulle twee jaar lank  oorsee gaan werk. Met hulle terugkeer, hervat Liezel haar studie om predikant te word. Ds Louis Venter skryf ’n  verslag oor Liezel aan die Fakulteit Teologie in Bloemfontein, waarin hy woorde gebruik soos voorbeeldig,  beginselvas, kerklik betrokke, getrou en iemand met inbors en ’n ware leier. Hy  skryf oor haar geskiktheid vir die evangeliebediening: “Liezel sal uitstekend slaag as ’n gemeentedominee en besit al die gawes, talente en vermoëns en  onderskeidingsvermoë om suksesvol  te wees.”

Sy doen in  2009 haar gemeentejaar in die NG Gemeente Fichardtpark in Bloemfontein. Sy is goed teologies geskool met ’n honneursgraad en ’n meestersgraad in Teologie. Haar  skripsie handel oor “Verkennende  pastorale ondersoek na die effek van pornografie op kinders”. Liezel se  belangstellingsveld is gesinsbediening, bejaardesorg en pastoraat.

Op  17 November 2009 word Liezel in die  NG Studentekerk langs die kampus as proponent gelegitimeer.

Prop SL de Jager word op 5 Junie  2010 in die NG Gemeente Kanoneiland met handoplegging ontvang en bevestig deur prof Kobus Kellerman. Hy skryf:  “Ek was as brugpredikant betrokke  by die gemeente wat op dié stadium  sonder leraar was en erg verdeeld oor sekere sake. My opdrag was om die  gemeente te lei tot eenheid en die pad oop te maak vir die beroeping van ’n leraar. Na vele besoeke en gesprekke  was die gemeente gereed om te beroep.  Die aansoek van proponent Liezel de Jager van Bloemfontein was een van  dié wat voor die kerkraad gedien het.  Die keuse het op haar geval en ’n onderhoud is per Skype met haar gevoer  waar sy ’n goeie indruk gemaak het.  By die kerkraadsvergadering is sy  eenparig beroep, wat sy aanvaar het,  na ’n gemeente waar groot uitdagings op hierdie jong vrou gewag het.”

Na nege jaar waarin ds Liezel de Jager die gemeente Kanoneiland met haar hele hart en wese gedien het, aanvaar sy ’n beroep na die NG Gemeente Suidkus in Amanzimtoti. Sy word op 7 Julie  2019 bevestig in die groot gemeente  aan die Natalse Suidkus as kollega van  ds Marius Schoombie.

Haar dienstyd eindig tragies op die jong ouderdom van 38 jaar toe sy die oggend van 13 Oktober 2021 vermoor word en haar lyk langs die  pastorie gevind word. Haar man Werner  de Jager en hulle twee dogtertjies Ila  en Lané, was in die pastorie tydens die  hartseer gebeurtenis.

Na haar dood is haar lewensbeeld deur die twee gemeentes  wat sy bedien het, in herinnering  geroep. In 2009 te Kanoneiland bevind die 27-jarige ds Liezel de Jager  haar in ’n boeregemeenskap, waar sy eiesoortige probleme hanteer en oplos.  Haar borrelende en warm persoonlikheid, gevul met arbeidsvreugde  en energie, het ’n groot verskil gemaak  op voetsoolvlak. Sy het met liefde en  opregtheid ’n verskil gemaak en probleme hanteer. Ds Liezel kon moeilike  situasies op ’n dinamiese wyse ontlont,  sonder om kant te kies. Maar as sy konflik nie kon vermy nie, het sy die bul by  die horings gepak en ’n netelige krisis in die gemeente is altyd met liefdevolle  begrip suksesvol hanteer.

Toe die nuus oor haar moord op 13  Oktober 2021 bekend word, was die land verslae van haar eerste gemeente  Kanoneiland, naby Upington af tot by  Amanzimtoti. Almal wat ’n pad met  haar geloop en haar menswees geken het, was sprakeloos en verstar oor die  wrede einde van ds Liezel, iemand wat met soveel passie en vreugde geleef het. ’n Herinneringsdiens is op 19  Oktober 2021 in die NG Gemeente Suidkus in Amanzimtoti gehou. Ds  Marius Schoombie het gesê: “Ek het  nooit in my wildste nagmerries gedink dat ek vandag hier gaan staan nie … dat  ons hier saam moet wees om afskeid  te neem van iemand vir wie ons so lief  is. Wat van ons weggevat is op so ’n  onregverdige en wrede manier.”

Ds Francois Maritz het namens die  Sinode van KwaZulu-Natal sy meegevoel uitgespreek en vertel hoe ds Liezel nie net in Amanzimtoti ’n groot  impak gemaak het nie, maar ook in die streeksinode. “Jy laat  ’n groot leemte, nie net in ons kerklike  kringe nie, maar veral ook in ons hart.”

– Dr Gerdrie  van der Merwe VDM


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.