Louis du Plessis Mostert is op 1 Augustus 1937 gebore te Cradock. Hy was die seun van Louis Mostert en Maria Magdalena Kemp, albei boorlinge van Humansdorp. Die gesin verhuis later na Middelburg (Kaap), waar sy pa as klerk by ’n algemene handelaar gewerk het en sy moeder ’n “huisengel” was wat met groot liefde, geduld, getroudheid en met min aardse goedere ’n wonderlike huis geskep het.
Louis begin in 1943 met sy skoolopleiding op Middelburg waar hy in 1955 matrikuleer. Op skool blink hy uit as redenaar en hou sy skool se naam so hoog in die Kaapse Middellande. Hy behoort aan die CSV en wen drie keer die landswye Bybelkenniseksamen van die Algemene Sondagskoolkommissie. Na matriek werk hy by ’n finansiële firma in Middelburg. In 1957 word hy student aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy die BA (Admissie) behaal. Hy werk van 1960 tot 1962 by die Staatsdiens in die Vrystaat en ontmoet ’n ou skoolmaat Marian Hough, met wie hy later trou. Sy gee as onderwyseres skool op Shannon, Wilgehof en Bainsvlei.
In 1963 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies, waar hy in 1966 as proponent gelegitimeer word. In die tyd werk hy ook deeltyds as sekuriteitsbeampte by die WNNR in Pretoria. Hy ontvang ’n beroep na die NG Gemeente Piet Retief, waar hy op 18 Februarie 1967 met handoplegging ontvang en bevestig word. Sy twee kollegas was ds WP Struwig en ds RPG Steyn.
Op 23 Julie 1971 word ds Louis Mostert bevestig as leraar van die NG Gemeente Mindalore in Krugersdorp, met die meeste lidmate nog jonk en lewenslustig. Na slegs vier jaar word ’n gemeentekompleks met ’n kerkgebou, saal en kategeselokale ingewy. In die tyd word hy sterk ondersteun deur sy vrou en hy was bekend vir deeglike, Skrifgetroue huis- en hospitaalbesoek. Hier werk hy met oorgawe tot hy op 31 Augustus 2002 sy emeritaat aanvaar en hulle in Rant en Dal in Krugersdorp gaan woon. Hier help hy oral met prediking en is in 2004 en 2005 behulpsaam in die NG Gemeente Krugersdorp-Wes, wat in 2005 saamgesmelt het met die NG Gemeente Suiderlig.
Intussen het ds Louis du Plessis Mostert ook geestelike werk gedoen in spanverband by die Sterkfontein-hospitaal by Krugersdorp. Hy het tot sy dood belanggestel in teologie en veral in kerkgeskiedenis. In die winter van 2022 verhuis hulle na die Môreglans-tehuis vir Bejaardes op Krugersdorp, waar hulle gelukkig woon tot met sy afsterwe op 6 September 2023. Ons eer sy nagedagtenis as ’n besondere geroepene wat sy Meester met oorgawe gedien het.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM