Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Elders gesien | Vrede: Opnuut bely en beliggaam in Japan


‘Wat het Japan se grondwet met my te doen?’, sou jy kon vra. Gegewe die reikwydte (globale invloed) van Japan se sosio-ekonomiese, politieke en militêre potensiaal, moet jy dalk nie te gou ‘niks’ antwoord nie, skryf Stéphan Van der Watt, ’n voltydse dosent van Missiologie asook Pastorale Teologie en Sorg by Kobe Reformed Theological Seminary. 

 Vrede. ’n Gesogte woord in vandag se wêreld vol haat en konflik. Jesus het vredemakers as geseënde kinders van God beskryf (Matt 5), maar deesdae word hulle soms geïgnoreer of gekritiseer as romantiese dromers wat uit voeling is met realiteit. 

 Die versugting na vrede: wêreldwyd, verál ook in Japan

Miljoene mense smag na vrede terwyl die skrikwekkende vernietiging van ’n toenemende aantal outoritêre owerhede wêreldwyd onverpoosd voortsleep. Huidige oorlogsituasies wys vir ons dat diegene wat doelbewus in die pad staan van vreedsame transformasie, dikwels gewelddadige verandering onvermydelik maak. Globale gewapende konflikte— tans ongeveer 110 in totaal — dien as ’n waarskuwing vir ons, om nie die komplekse stryd tussen goed en kwaad te oorvereenvoudig nie. Ons kan nie sondermeer kant kies en die wêreld verdeel in ‘onderdrukker’ en ‘onderdrukte’, óf ‘koloniseerder’ en ‘gekoloniseerde’ nie. As ons sulke rigiede standpunte inneem, lei dit dikwels tot vreemde gevolgtrekkings, soos tot die idee dat onskuldige burgerlikes wat vermoor word, dit op een of ander manier verdien. Wat glashelder is vandag, is dat die verwonde wêreld waarin ons leef desperaat is vir vrede.

Geborg

Wanneer ons oor oorlog vanuit die Verre Ooste gesels, is dit belangrik om te onthou dat Japan beide ’n verslane aggresor en ’n verwoeste slagoffer in die Tweede Wêreldoorlog (WOII) was. Nietemin is vrede in Japan sedert 1947—kort ná die einde van WOII, met die aanvaarding ’n nuwe, pasifistiese grondwet—hoog op dié land se agenda. Maar vrede is veel meer as ’n agendapunt; dis die fondament waarop Japan gebou is ná WOII. ‘Wat het Japan se grondwet met my te doen?’, sou jy kon vra. Gegewe die reikwydte (globale invloed) van Japan se sosio-ekonomiese, politieke en militêre potensiaal, moet jy dalk nie te gou ‘niks’ antwoord nie.

Die afgelope dekades is ’n meer outoritêre en regs-gesinde regering merkbaar aan die groei in Japan. Soos voor WOII klink nationalistiese stemme helderder op en vind Staat-Shinto weer ‘n vaster plek aan die samelewing se (godsdiens)tafel. Inisiatiewe om die grondwet (artikel 9) te wysig ten einde Japan opnuut weerbaar en oorlogs-magtig te maak, kring uit en word versterk. As die grondwet wysiging inwerking gestel word, kan dit moontlik reusagtige rampspoedige gevolge hê, wat almal op aarde se lewens ingrypend kan raak.

Ons sien ook ’n beduidende toename in die vlak van sekuriteit-samewerking in Oos-Asië die afgelope tyd. Suid-Korea, VSA en Japan het onlangs hul eerste gesamentlike lugmag oefeninge uitgevoer, wat ’n kernkrag-magtige B-52 strategiese bomwerper vliegtuig van die VSA ingesluit het. Japan se ministerie van verdediging het die afgelope paar maande ’n rekordbegroting van ¥7,7 triljoen goedgekeur om die selfverdedigingsmagte (SDF) te herstruktureer en hulle toe te rus met ’n enorme arsenaal van wapens asook met ’n nuwe gesamentlike hoofkwartier, wat Japan in staat sal stel om betrokke te raak in langtermyn konflikte in die Indiese/Stille oseaan streek. Die afgelope maande het werwingsadvertensies vir die Japannese SDF landwyd selfs in supermarkte verskyn. Vlakke van waaksaamheid en angstige onsekerheid in die samelewing neem aansienlik toe.

Vredesverklaring: Reformed Church in Japan (RCJ)

In die lig van hierdie realiteite, het die RCJ—amptelike susterskerk van die NG Kerk-familie met wie ons al langer as vyf dekades saam getuieniswerk doen in die Verre Ooste— die afgelope tyd opnuut en dieper oor vrede nagedink. Die uitvloeisel van RCJ se nadenke en studie is ’n Vredesverklaring wat, in ’n sekere sin, geïnisieer as ’n reaksie op die Japannese regering se voorgestelde Grondwet verandering. Die verklaring is by die pas afgelope RCJ sinode in Oktober aanvaar en uitgereik.

Die Vredesverklaring spreek egter nie net profeties tot / lewer kritiek op belangrike besluite wat tydens oorlogtye geneem word nie, maar lei ook die Kerk in haar getuienis buite oorlogstye. Bybels-gebaseerde vrede strek immers veel wyer en dieper as die blote afwesigheid van oorlog. Die vrede wat Christus gee is anders as ons menslike vrede (Joh. 14:27) en is verknoop aan God se geregtigheid en troue liefde (barmhartigheid). Die vraag, ‘Hoe behoort ons nou te lewe om God se shalom te realiseer?’ moet voortdurend beantwoord word. As die liggaam van Christus in Japan, word die RCJ gerig deur Christus-gesentreerde Bybelse teologie, wat ons aanspoor om op dieper geestelike realiteite te fokus sonder om onbetrokke te wees by die onbeskryflike lyding rondom ons.

Hierdie Vredesverklaring kan dien as ’n gedeelde grondslag vir nadenke oor ’n komplekse verskeidenheid kwessies, vanuit die perspektief van vrede. Byvoorbeeld, in mense se daaglikse lewens waar strukturele geweld—sigbaar in sosiale onreg, armoede, diskriminasie, menseregteskendings en omgewingsvernietiging—toenemend die reg om in vrede te lewe ondermyn, kan hierdie verklaring die volgende generasie vredemakers help kweek.

Geborg

 

Deel van die breër liggaam van Christus se inisiatiewe

Die RCJ, ’n klein maar lewenskragtige kerk in ’n 99% nie-Christelike land, word geroep om ’n sterk en geloofwaardige getuie van God se vrede en geregtigheid te wees. Die RCJ se Vredesverklaring is ‘n getuienis, in aksie, as deel van die globale Christelike geloofsgemeenskap. Kerke oraloor word byvoorbeeld deur die Wêreldraad van Kerke (WRK) aangemoedig om op hul geloofspad hand-in-hand te loop saam met medemense op ‘n pelgrimstog van geregtigheid en vrede. Om saam met ander pro-aktief te streef om ongeregtighede en geweld te transformeer. As ’n konkrete voorbeeld van hierdie pelgrimstog het die WRK ook onlangs ‘n Emerging Peacemakers Forum vir jong leiers geïnisieer. By ’n internasionale vergadering vir vrede, wat in September 2023 in Berlyn gehou is, het WRK Algemene Sekretaris, Jerry Pillay kragtig aangevoer: Indeed, it takes courage to choose peace as it often implies taking risks, pushing boundaries, and daring to be different, to be disliked, to be criticized and even to be condemned. In today’s complex world, achieving and maintaining peace is perhaps one of the most audacious acts imaginable.

In ander globale kerkkringe het die World Evangelical Alliance (WEA) ook haar stem gevoeg by die ‘New Agenda for Peace’ wat in Julie 2023 deur die Verenigde Nasies (VN) bekendgestel is. Die WEA streef daarna om aktief deel te neem aan Christus se oproep tot vredemaking en die skepping van samelewings wat gekenmerk word deur ‘positiewe vrede‘. Daarom het die WEA se Vrede en Versoeningsnetwerk by die wêreldwye gesprek aangesluit deur hul bydrae by die VN in te dien. Die RCJ se Vredesverklaring kan tereg beskou word as ’n relevante, plaaslike uitdrukking van só ’n begeerte om by te dra tot die breër public good, of in Bybelse terme: tot God se shalom op aarde.

 

Uitnodiging tot gesprek en aksie

Die Vredesklaring is gemik op ’n wyer gehoor as net Japan. Daar is verskeie redes waarom dit belangrik is vir diegene buite die RCJ om met die Vredesverklaring se inhoud in gesprek te tree. Eerstens kan so ‘n gesprek alle deelnemers verryk en verruim. Ons Christelike geloof neem vorm aan en groei dieper en wyer oor politieke, kulturele en taalgrense heen. Die Kerk van Jesus Christus is tegelyk universeel en plaaslik van aard. Ons het nodig om gereeld herinner te word aan die groter werklikheid van God se werk regoor die wêreld.

Tweedens moet die tema van vrede opsigself deurentyd blootgestel word aan hernude verkenning en gesprek onder Christene in die algemeen. In oorlogstye behoort ons verlange na vrede sterker te groei. Ander items op ons sosio-politieke agenda kan kwalik nou meer dringend wees. ’n Veranderende post-Covid-wêreldorde dwing ons om vars aandag te skenk aan die dringende realisering van God drie-enig se vrede en geregtigheid.

Derdens bied die RCJ se Vredesverklaring ‘n unieke perspektief van (gereformeerde) Christene in Japan: die enigste nasie in die wêreld wat die onuitwisbare verwoesting van atoombomme deurleef het. Jou susters en broers in Japan het iets om te deel wat ter harte geneem moet word. Jou insette en deelname kan uiters waardevol wees. Daar is immers, ten spyte van ons radikale verskille, ‘net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het.’ (Efes. 4:4)

Geborg

Mag jy in hierdie Advent- en Kersfeestyd die Prins van Vrede opnuut ontmoet en Sy vrede ondervind en deel.

Stéphan Van der Watt is voltydse dosent van Missiologie asook Pastorale Teologie en Sorg by Kobe Reformed Theological Seminary, waar hy in Japannees doseer sedert 2016. Hy is ’n leraar van die NG Kerk in Suid-Afrika en was voorheen betrokke as projekbestuurder en navorser by Communitas, sowel as by teologiese opleiding by die fakulteit van Teologie by Stellenbosch Universiteit. Hy is sedert 2009 deel van Missie Japan en die NGK-familie se getuieniswerk in Japan (www.missiejapan.co.za).


 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.