Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ds Eric Brand (1938 – 2022)


Frederik Floris Johannes Brand is op 7 Augustus 1938 gebore op die plaas Suurdam by Bitterfontein in die distrik Vanrhynsdorp. Sy ouers is Frederick Floris Johannes Brand, onderwyser, en sy moeder is Jeanetta Susanna Debora Genis, wat ’n winkel bestuur het. Eric is gebore toe sy moeder slegs sewe maande swanger was en die kans was groot dat hy sou sterf. Sy het die veld ingestap en ’n belofte aan die Here gemaak dat as hy leef sy hom vir die Here se diens sal afsonder. Hy het bly leef en het van kleins af uit eie oorweging die roeping beleef om predikant te word.

Eric begin sy skoolloopbaan in 1943 in die plaasskool op Suurdam en is daarna in die skool op Graafwater en op Kransbos by Knysna. In 1947 word hy leerling aan die Hoërskool Gimnasium in die Paarl waar hy op 16-jarige ouderdom in 1954 matrikuleer. In 1955 vertrek hy na die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA-(Admissie) graad verwerf en in 1959 student word aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Eric word op 6 Desember 1962 as proponent gelegitimeer. Op Stellenbosch speel hy rugby en neem leiding in die CSV en die jaarlikse sendingweek. Eric trou op 21 Desember 1963 met Anna Maria Petronella (Petro) Esterhuisen en uit die huwelik is vier kinders gebore.

Op 27 April 1963 word hy met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Warmbad in die destydse SWA. Hy word op 4 Desember 1965 leraar van die NG Gemeente Nuwerus in Namakwaland, waar daar ’n kerksaal gebou word en die restourasie van die kerkgebou gedoen word. Op 14 Mei 1971 word hy leraar van die NG Gemeente Montagu in die Koo, waar die boerderygemeenskap sy meelewing waardeer.

Eric se pad in die bediening loop op 13 Junie 1976 na die NG Gemeente Oostersee, waar hy hard werk, ’n kerksaal bou en na ’n dienstyd van 37 jaar op 31 Julie 2000 sy emeritaat aanvaar. Hy trap diep spore in die Ring van Parow en dien op die beheerrade van Ramot, Magdalenahuis, Huis Uitsig. Eric was lank voorsitter van die Laerskool De Tyger en was ’n staatmaker by die SKDB in die Kaapse Kerk. Eric Brand (84) sterf op 22 Desember 2022 en sy neef ds Hansie Schutte (oud-moderator van die Oos-Kaapland), lewer ’n treffende dankdiens in die NG Moedergemeente Brackenfell. Hy word oorleef deur sy vrou Petro met wie hy 59 jaar getroud was en laat ’n pragtige nageslag na.

Fritz Brand, tans administratiewe bestuurder van die NG Gemeente Welgemoed, skryf oor sy pa: “My pa was ’n nederige mens wat dikwels in sy eie vermoëns getwyfel het. Die Here het hom egter gebruik om ’n inspraak in baie mense se lewe te maak. Sy nalatenskap is groot en die omvang daarvan sal ons eers in die hiernamaals sien.”

Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.