Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Dr Anton Herholdt (1930 – 2023)


Anton Michael Herholdt is op 17 Mei 1930 in Bethulie gebore op die walle van die Oranjerivier. Sy ouers is Albrecht Daniel Heroldt, ’n skoolhoof, en sy moeder, Aletta Johanna Holtzhausen, ’n onderwyseres. Op Bethulie is hulle baanbrekers in die onderwys en trap op kerklike terrein diep spore. Hy was van 1917 tot 1940 kassier van die NG Kerk en intens betrokke by die hele gemeenskap en onder-burgermeester van Bethulie. Anton begin sy skoolopleiding in 1936 en matrikuleer in 1946 aan die Hoërskool Pellissier te Bethulie. In 1946 sterf sy vader en hy en sy broer Joël, wat albei predikante van die NG Kerk word, beleef die sorgsame teenwoordigheid van die Hemelse Vader.

In 1947 word Anton student aan die Universiteit van Pretoria, behaal die BA-graad en betree in 1950 die Teologiese Fakulteit (Afd B) aan Tukkies, waar hy die BD-graad verwerf en op 29 November 1953 as proponent gelegitimeer word. Twee van sy dosente het intense bande met Bethulie: Dit was prof EP Groenewald se eerste gemeente en prof GM Pellissier was ’n boorling van Bethulie. Op 27 November 1954 word hy met handoplegging bevestig as leraar van die NG Gemeente Benoni-Noord, waar hy as ongetroude proponent die bediening begin. Hy trou op 16 Januarie 1957 met sy jeugliefde Trudie Kruger van Bethulie. Uit die huwelik is twee kinders gebore, Lizette en Albrecht.

Na vyf jaar op Benoni kom ’n beroep na die NG Gemeente Springfontein, waar hy op 17 November 1962 leraar word. Na ’n geseënde dienstyd word hy op 5 November 1966 leraar van die NG Gemeente Clocolan, ’n pragtige stuk vrugbare aarde wat in die volksmond bekend is as ’n land van melk en heuning. Hierna word hy op 29 Januarie 1972 leraar van die NG Gemeente Bloemvallei, ’n hoewegemeente buite Bloemfontein. Hier oorwin hy groot uitdagings en op 15 Junie 1981 word hy leraar van die NG Gemeente Parys op die walle van die Vaalrivier, waar hy op 13 Julie 1995 sy emeritaat aanvaar na ’n dienstyd van meer as veertig jaar in die NG Kerk.

Na sy emeritaat vestig ds Anton en Trudie Herholdt hulle in Bloemfontein en werk hy tot in sy 76ste jaar as hospitaalleraar by Medi-Clinic in Bloemfontein. Ds Anton Herholdt kry in die jaar 2000 ’n hartomleiding en in die jaar 2007 ’n hartklepvervanging. Sedert 2005 woon hulle in Striata Aftreeoord en dien albei in die wykskerkraad as ouderling en diaken. Mettertyd verswak sy gesondheid drasties en hy sterf op 14 Mei 2023. ’n Herinneringsdiens word in Striata Aftreeoord gehou. Ds Anton Heroldt word onthou vir sy humorsin. Hy skryf in 2007: “Sonder my humorsin sou die lewe maar bra vaal gewees het. Spreuke 15:15 was altyd ’n fondamentsteen van my lewe”.

Dr Gerdrie vd Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top