Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Charlotte Sibanyoni skryf uit Noorweë sy vind God in oomblikke wat sy deel saam met ander gelowiges soos nagmaal in die Lutherse kapel wat sy hier bedien saam met ds Bjarte Hetlebakke. Foto’s: Verskaf

Brief uit Noorweë: ‘Kersfees is ’n tyd om weer ons deernis te vind,’ skryf Charlotte Sibanyoni


“Ek hou nie baie van Kersfees nie, want ek weet nie rêrig hoe Kersfeestyd moet lyk nie … Nou in ’n vreemde land dink ek Kersfees is ’n tyd om weer ons deernis (compassion) te vind, om iemand wat sukkel of alleen is in te nooi sodat hulle ook iets van liefde beleef. Want in ons besige lewens vergeet ons soms om dit uit te leef.”

Ds Charlotte Sibanyoni het in ’n lang pienk rok op ’n vliegtuig geklim om tydelik te verhuis na die land van die middernagson, Noorweë, waar sy haar doktorale studies wil voltooi. Met haar eerste wit Kersfees op pad, vertel sy by navraag sy mis om haar Afrika-tale te hoor en te praat, khasi-gees, pap en spathlo (bunnychow), maar nie beurtkrag en taxi-stakings nie. Sy skryf ook oor vriende maak, saam Bybelstudie hou wat soos kerk voel, nagmaal in Norsk en deel haar vrese en verwagtings vir die naderende Kerstyd. 

Lees gerus haar brief hieronder.

‘Nice to meet you, I’m Charlotte!’

Hier in ’n land wat koud en al hoe donkerder word, het ek my plekkie gevind en begin ook my voete vind. Hier ver in die noorde het ek vriendskappe gemaak wat so opreg is en voel soos die wat ek in Suid-Afrika het. 

Lees ook: Jaco Strydom gesels met Charlotte Sibanyoni: ‘Bring verandering vanuit vrede, nie woede’

Anna was my eerste maatjie in Noorweë. Dis vir my ’n spesiale storie hoe ons ontmoet het. Ek het my lang pienk rok aangehad toe ek Suid-Afrika verlaat het, want ek wou mooi voel al is die rok nie eintlik gemaak vir ’n vlug van 14 ure nie. Toe my vriendin Lebo iets daaroor sê, het ek vir haar geantwoord “First impressions count! They’re not meeting me in sweatpants and sneakers.” Toe my nuwe hoof my aflaai by die kommune (op VID Specialized University in die stad Stavanger) was Anna die eerste mens wat ek daar ontmoet het. Sy het vir my gekyk, gesê: “Hi I’m Anna, you just flew in?” Toe ek ja antwoord, het sy gesê, “Wow you look amazing with your pink dress!” waarop ek toe lag en sê dit is presies die reaksie wat ek wou gehad het, “First impressions count! Nice to meet you, I am Charlotte!”

‘Ek het my lang pienk rok aangehad toe ek Suid-Afrika verlaat het, want ek wou mooi voel…’
‘Ek en Ashley gaan oral, klim op die bus, boot of trein om te sien wat het die land om te bied.’

Van daai dag af, het ons ’n ware vriendskap gevorm. Ek en sy draf een keer ’n week saam om so ’n groot dam. Daai draf van 12 km is vir ons meer as ’n draf want ons praat oor die lewe, en als op die hart. Ek het vinnig lief geword vir Anna, sy help my om aan te pas en lees al my e-pos wat in Norsk is. 

Ek’t nog ’n vriendin, Ashley Maclennan van die Wes-Kaap. Sy het vir my gesê hier is die groentewinkel, die bus werk so, en hier is die goedkoop plekkies waar elke buitelander koop, want alles is duur! Ek en Ashley gaan oral, klim op die bus, boot of trein om te sien wat het die land om te bied. Ons ervaar die mooi van die land saam. Dis ook net so lekker om met iemand in Afrikaans te kan skinder as daar so ’n kultuurskok is! 

Oor Sondae afvat en huiskerk op Donderdae

Baie mense het vir my gesê om vinnig by ’n kerk in te skakel. Dit het vir my sin gemaak, maar, om eerlik te wees, het as dominee, het ek gedink, wil ek vir ’n rukkie Sondae af hê. Ek wil slaap en rus… dit klink nie reg om sulke goed hardop te sê nie, maar ek weet wel elke dominee dink dit so nou en dan.

So ek het nie rerig in die eerste weke gesoek vir ’n kerk nie. 

Charlotte saam met vriende in die kommune waar sy eers gebly het.

Anna wou my saamnooi na haar kerk toe, maar alles is in Norsk wat ek nie verstaan nie. So toe besluit sy en ’n ander dame van Noorweë, Aurora, dat ons saam een keer ’n week moet Bybelstudie hou. Ek’t ja gesê maar nie dat ek ’n dominee is nie want wat maak dit eintlik saak. Ons het begin Bybelstudie hou op Donderdagoggende in ons kommune. Dan steek ons ’n kers aan, drink koffie, bid en lees die Woord van die dag. Een lees in Norsk en ’n ander een vertaal. Na ’n maand of twee het ander studente, ook ’n dame van Ethiopië, bygekom. 

Op ’n Maandag het ons ook kapel op kampus. Dit is ’n Lutherse liturgie. Die predikers wissel tussen ’n man en vrou van Noorweë en soms ’n persoon van Madagaskar. Sekere Maandae is die diens  in Engels en Norsk, soms net in Norsk en dis ook okay, ek kan volg. Ek ken al die ritme: ons doen ons belydenis van geloof, ons bid die Onse Vader en sing uit die liedboek saam en ons deel ook nagmaal. Dis vir my lekker om tyd te spandeer in die heilige spasie. 

Charlotte was gevra om nagmaal te bedien in die Lutherse kapel op die kampus van VID Specialized University. Hier is sy agterna saam met twee van haar vriendinne, Anna en Aurora.

Ek dank God ook dat Norsk baie soos Afrikaans klink oor die Nederlandse fondasie daarvan – soos Afrikaans met baie spelfoute, maar ek dink hulle sal nie saamstem nie.

Intussen het ek al twee kerke besoek, maar ek het nog nie regtig vir ’n kerk gesoek nie. Donderdagoggende is vir my kerk. Ons bring ons harte en ons week se moegheid, ons deel, lag en huil saam. Dis lekker as ons mekaar later die dag op kampus sien, verby mekaar stap, net vir mekaar ’n drukkie gee. Die drukkie sê ek dink aan jou. Ek’t vanoggend saam met jou gebid, ek weet die dag is moeilik vir jou, maar jy glimlag en dra jouself deur die dag, ek is trots op jou. 

Dalk sal ek eendag inskakel by ’n kerkgebou maar, vir nou, vind ek God in hierdie oomblikke wat ek deel saam met ander gelowiges. 

‘Wat mis ek van Suid-Afrika? Alles!’

Wat mis ek van SA? Alles … ons diverse land! Ek mis dit om my Afrika-tale te hoor en te praat. Ek mis Xhosameisies se geraas en energie. Ek mis my Ndebelekleure en -klere! Ek mis ons ‘vibe’, ons gees en persoonlikheid! Ek mis swartmense rondom my, mense wat soos ek lyk en praat en voel! Ek mis khasi-gees, soos om in Mamelodi in te ry en vier salonne  in een straat te vind wat my dreadlocks vinnig kan regmaak. Ek mis die geraas van musiek (amapiano en house music) wat ek verstaan en van hou. 

Die land is stil. Dis oulik as hulle sê ‘ons gaan partytjie hou, jy moet kom’ en jy sit daar en dink nee, die is nie ’n jol nie. Ek mis pap en hoenderpote, hoenderlewer, spathlo (bunnychow) vetkoek langs die straat, mammas langs die straat se kos… 

‘Daai draf van 12 km is vir ons meer as ’n draf want ons praat oor die lewe, en als op die hart. ‘

Hulle kos kort baie speserye want als het net bietjie sout en peper op, my hart kan dit nie verdra nie. Hulle hou baie van brood maar vir my is dit hard en mens moet dit lank kou… my kakebene kan net nie! So dit het dit net vir my makliker gemaak om my liefde vir brood te laat gaan. Hulle eet baie vis, ek het nog nooit baie van vis gehou nie maar dis darem ’n aanpassing waarmee ek kan leef. 

In daai gees wil ek ook sê, ek mis nie beurtkrag en taxi-stakings nie want ek’t nou gesien hoe mooi dit kan werk as ons land publieke vervoer reg maak vir almal. Niemand ry hier ’n kar nie, ryk of arm! Hulle tegnologie is ongelooflik. Ons land is mooi, en ek sien nou nog meer potensiaal vir ons land. 

Kersfees is ’n tyd om weer ons deernis te vind

Jy het my gevra oor Kersfees weg van die huis af… die vraag sit vas in my maag want ek weet nie rêrig hoe om dit te antwoord nie. So, ek gaan eerlik wees. Ek hou nie baie van Kersfees nie, want ek weet nie rêrig hoe Kersfeestyd moet lyk nie. Ek het al die kerkding probeer op Kersdag self … en ja, die oomblik is spesiaal maar ek gaan huis toe en voel weer snaaks. 

Dit is vir my ’n tyd van lekker kos eet … ek’t altyd my familie gaan sien in Mpumalanga. Nie rêrig vir Kersfees nie maar omdat ek af is gedurende daai tyd. Kersfeestyd laat my reflekteer oor die jaar se seëninge maar ook die mislukkings en verliese. Ek’t vir ’n vrienden gevra wat Kersfees vir haar beteken en sy voel dieselfde … dink ons rerig na oor Jesus daai tyd?

Nou in ʼn vreemde land dink ek Kersfees is ’n tyd om weer ons deernis (compassion) te vind, om iemand wat sukkel of alleen is in te nooi sodat hulle ook iets van liefde beleef. Want in ons besige lewens vergeet ons soms om dit uit te leef. 

‘My liefie, Sydney Mahlangu, kom Noorweë toe.’

My liefie, Sydney Mahlangu, kom Noorweë toe. Dit gaan anders lyk, ek weet nie of dit anders gaan voel nie. Anna het ons genooi om haar familie te kom ontmoet en daaroor is ek opgewonde. Ek weet wel dat ek nie Kersfees sonder Mahlangu wil wees nie. Die lewe is nie lekker sonder mense wat jy liefhet nie. Ek weet die tyd is nie lekker vir mense wat nie met geliefdes kan wees nie en daarom moet jy daai mense deelmaak van jou Kersfeesritme. 

Mag jy ligter voel die jaar, mag jy sag wees met jouself en die om jou, mag jy ander seën deur hulle in te nooi. Mag ons weer ons deernis (compassion) optel, en saam met ons invat in die nuwe jaar. 

  • Ds Charlotte Sibanyoni is besig met haar doktorale studies en is ’n deeltydse leraar by NG Universiteitsoord in Pretoria.
  • Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.  Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.