Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Dr Martin Heyns (1945 – 2023)


Marthinus Hermanus Heyns is op 20 September 1945 gebore te Marquard in die Oos-Vrystaatse platteland. Sy vader was George Frederik van Rooyen Heyns, ’n onderwyser, skoolhoof en onderwysleier in die Vrystaat. Sy moeder was Martha Franca le Roux, ’n huisvrou en iemand wat haar man en kinders ondersteun het. Martin begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Marquard en matrikuleer in 1963 aan die Hoërskool JA Malherbe op Petrus Steyn. Hy behaal ’n onderskeiding in Wiskunde. Hy blink uit in atletiek en verteenwoordig die provinsie in atletiek drie jaar lank.

Martin voel geroepe om predikant te word en begin in 1964 met die BA (Admissie) aan die UOVS in Bloemfontein en is bedrywig in die studentelewe, in die ASB en is voorsitter van die KJV op die Bult, soos die kampus genoem word. In 1967 loop sy pad na Stellenbosch waar hy student word aan die Fakulteit Teologie op die walle van die Eersterivier. Hier behaal hy die BTh-graad in 1969 en die Lisensiaat in Teologie in 1970. Martin trou op 27 Junie 1970 met mej Elsa Kritzinger en uit die huwelik is drie kinders, Carin, Geo en Marisa gebore.

Martin Heyns word aan die einde van 1970 as proponent gelegitimeer en studeer verder en behaal in 1971 die MTh-graad in Teologie met die tesis: “Kategese-bediening: ’n evaluering van die NG Kerk se kategetiese stelsel en alternatief”.

’n Beroep kom vanuit die Vrystaatse hoofstad na die NG Gemeente De Bloem in Bloemfontein, waar hy in Oktober 1972 bevestig word. Na vier jaar vertrek hy na die NG Gemeente Parow-Wes, waar hy in 1976 met sy dienstyd begin. Oral het ds Martin probeer om sy eie droom en idioom te verwesenlik wat in sy meestersgraad vervat is. Hiermee wou hy die erediens en die kategese hervorm en ’n eenheid maak, ’n doodskoot vir die kategetiese onderrig wat geslagte lank gevestig is in die NG Kerk. Toe hy egter in 1982 leraar word van die NG Gemeente Kimberley-Vooruitsig, draai die saak by die Sinode van Noord-Kaap, waarby destyds net sekere gemeentes inkoop. As predikant van Kuruman wat twee dekades lank deel van die Sinode van Noord-Kaap was, beleef ek die spanning hieroor aan my eie lyf.

In 1992 vertrek ds Martin Heyns na die NG gemeente Pinelands in Kaapstad, waar hy ook inskryf by Unisa en ’n doktorsgraad behaal met die volgende proefskrif: “Kritiese evaluering van G van der Leeuw in verband met die liturgie”. Nadat hy in 2006 sy emeritaat aanvaar loop sy pad na die DRC in Zambië te Nkana, waar hy steeds diensbaar bly in die koninkryk. Hy sterf op 7 Junie 2023 en ’n gedenkdiens vind op 14 Junie 2023 plaas in die NG gemeente Pinelands.

Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top