Die Kersboom herinner ons aan Christus, skryf dr Nico Simpson wat ook ’n gebed vir die Christusfees wil deel.
In die elfde eeu het die kerk dikwels dramas opgevoer oor die paradys-boom. Dié boom herinner aan die tuin van Eden, die boom van die lewe maar ook die boom (kruis) waaraan Jesus gekruisig is.
Die Kersboom is tradisioneel opgemaak met vrugte, klein broodjies en lekkers om ons aan die tuin van Eden te herinner.
Later is die versierings uitgebrei na simbole wat dele van Christus se lewe voorstel:
• brood (wys na die nagmaal),
• skoenlapper (wys na die opstanding en nuwe lewe in Christus),
• kerse en ligte (herinner ons aan Christus, die Lig vir die wêreld),
• sterre (simbool van die aankondiging van Jesus se geboorte),
• kruise,
• visse (teken van vroeë Christene), en
• engele (teenwoordig by Christus se geboorte).
Christusfees-GEBED
Laat ons God se helder oggendster verwelkom.
’n Kind gebore in ’n stal.
’n Seun gestuur om die wêreld te red.
’n Redder wat alles kom nuut maak.
Mag u lig op ons skyn.
Mag u lig in ons skyn.
Mag u lig deur ons skyn.
Mag die lig van hierdie Christus-fees
die ster wees wat ons lei na die nuwe lewe.
Mag hierdie Kerstyd ’n tyd van verwondering, ontdekking, rus, omgee, toewyding en vervulling vir jou en al jou mense wees.
- Dr Nico Simpson is hoof van Bybel-Media wat ondermeer ook Kerkbode en die Christelike leefstyltydskrif LiG uitgee.
