Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Cas Wepener: Raad vir die ‘oujaarsagternemens’


Die tyd van die jaar het almal nuwejaarsvoornemens. Dis goed. Maar so belangrik as wat die voornemens is, so belangrik is wat mens oujaars-ágternemens kan noem, skryf Cas Wepener

 

Oujaarsagternemens is daardie goed wat in jou opgedam het in die oujaar, wat agter jou behoort te wees, maar wat jy met jou saamneem al kan hulle gerus in 2023 agterbly. Tog is dit soms moeiliker om van oujaarsagternemens ontslae te raak, as om by jou nuwejaarsvoornemens te hou,

Miskien is daar in hierdie verband wysheid in water. En hier by ons is die water oral om ons. Teen die berghange is opgaardamme en langs die wingerde en strate is ’n netwerk leivore. Gereeld beleef die inwoners hoe die sluise van die damme opgetrek en water met die vore langs stroom. Opdam is goed. En vloei is ook goed. Maar soms, veral wanneer die water te veel opdam, is dit nodig dat die sluise sommer wyd oopgetrek word. Soos met water, so is dit ook in die lewe.

 

Water help met onthou, en met vergeet

Geborg

Water word hier by ons nie net vir landbou en in tuine gebruik nie, maar ook in kerke. Ook kerke het damme, sluise en leivore – nie fisies nie, maar wel simbolies. Saam met die lewensloop van lidmate, ook hulle geestelike seisoene, vloei die water. Al die kerke op die dorp het doopvonte, sommige het doopbakkies met water aangebring het by al die ingange sodat lidmate aan die water kan raak en so hulle eie doop onthou. En menige begrafnisdiens begin by dieselfde doopvont waar die oorledene gedoop is. Water help met onthou, en met vergeet. Ek mis egter nog ’n ritueel in ons kerke, een wat so af en toe die vloedsluise wyd ooptrek. Wat ek in ons kerke mis, het ek in die skole op ons dorp wel gesien.

Aan die einde van elke skooljaar op die laaste skooldag, nadat hulle elkeen ’n klok op die skoolterrein gelui het, spring honderde kinders met hulle skooluniforms aan in die skool se swembad. Wat behels daardie ritueel? Wat in die skool moet agterbly en nie saam gevat word nie – al die laagtepunte – dit word afgewas. En in nat klere kan ’n mens nie rondloop nie. So weg met die druipnat skooluniform en daardie ou identiteit. Ek dink die kinders bedien hulleself in die swembad met ’n sekulêre doop om iets finaal te beeïndig sodat hulle nuut kan begin. Daardie swembad mag soos ’n dam lyk, maar wat die kinders doen, het meer te make met sluise wat oopgetrek word. Met oujaarsagternemens, eintlik twaalf jaar daarvan, waarvan ontslae geraak word.

Daar is ’n nou en eeueoue verband tussen water en ’n nuwe begin. Volgens Genesis is dit die oerwater en die skepping. En God se Gees. Na Genesis 1, begin Eksodus met vrugwater, vroedvroue en ’n baba in ’n mandjie wat op ’n rivier dryf. Daar is water in die Rietsee vir ’n uittog en water in die Jordaanrivier vir ’n intog. Meerdere Bybelboeke begin by die water en mense wat soos bome langs watervore geplant is. Jesus se aardse bediening begin in die Jordaanrivier. Nóg water dus, vir nog ’n begin, soos die water wat wyn word as eerste teken in die Johannesevangelie. En, soos by die skepping, is die Gees steeds betrokke. 

’n Waterritueel as remedie

Afgesien van wysheid oor water in die Bybel, en die skoolkinders se swembad-ritueel, het ek op nog ’n plek wysheid in water gesien.

Diep in die berge in die Oos-Kaap is ’n gemeente van die Korintiese Kerk van Suid-Afrika. Voor jy in die kerkgebou mag ingaan, kom ’n diaken, was jou hande en besprinkel jou met water. Vir elke gebeurtenis in die mens se lewensloop, vanaf geboortes tot by sterftes, deur motorongelukke en die kry van ’n nuwe werk, word water in die kerk gebruik om dit te merk. Die gemeente weet hoe belangrik dit is dat die mens se lewe, soos water, moet aanhou vloei en nie vir te lank moet opdam nie. Maar hulle weet ook daar is aspekte wat ongelukkig soms wel opdam. Dis daar waar water en lewens begin vrot en die muskiete uitbroei. Hiervoor het die plaaslike priester ook ’n waterritueel as remedie, ’n spesiale een. 

Elke nuwejaar neem hy die hele gemeente geklee in hulle beste kerkuitrustings na die nabygeleë rivier. En as deel van die kerkdiens wat hy daar hou, spring almal (wat kan swem) in die rivier. Toe ek hom pols oor wat agter die gebruik lê, was sy antwoord doodluiters: daar in die water los ons al ons bekommernisse van die oujaar en ons laat dit afspoel en wegvloei na die see. En ons gaan die nuwe jaar in sonder al daardie dinge.

Geborg

Die priester verstaan dat, soos daar dinge is wat wel vloei en sinvol gekanaliseer word in die loop van die jaar, so is daar ook dinge wat opdam. Voor jy sinvol kan werk met nuwejaarsvoornemens, moet jy werk met jou oujaarsagternemens. Dinge wat nie in die leivore van die lewe wat die lewe draaglik maak, beland nie. En vir al daardie dinge is sy diens by die rivier ’n groot sluis wat oopgetrek word. Dit verstaan die kinders op ons dorp ook wanneer hulle op hulle laaste skooldag in die swembad spring. In beide water is daar lewenswysheid.

Die eerste dae van ’n nuwe jaar is ’n ideale tyd om die sluis in die damwal van die lewe op te trek en van daardie oujaarsagternemens ontslae te raak. Indien jy nie ’n swembad of rivier byderhand het nie, laat iemand jou sommer klere en al met die tuinslang natspuit. Om oujaarsagternemens in 2023 te los, is soms nog nodiger as nuwejaarsvoornemens vir 2024.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.