’n Lewe hier: Gedagtes oor tyd en ander gawes, deur Robert Vosloo
Uitgewer: Naledi, 2023
Resensent: Martin Laubscher
Een van my weeklikse hoogtepunte is om op ’n Saterdagoggend Die Burger oop te maak en te lees wat Robert Vosloo (RRV) hierdie week te sê het in sy rubriek “Geestelike waardes”. Na ses jaar is dit hoogtyd dat die eerste keur van sy rubrieke saamgebundel word.
Buiten dat tyd, en dan veral aan die hand van hoe ons bewustelik omgaan met die hede, verlede en toekoms, baie prominent na vore tree, is dit veral opvallend hoe tydig, blywend, en gul hy daaroor besin.

Vosloo is nie net belese nie, maar veral ook besonders goed ingelig oor nuwe belangrike boeke en idees wat daar veral in die teologie en filosofie verskyn, waarby ’n breë leserspubliek sou kon aanklank vind. Anders gestel, hier is ’n (Christelike) rubriekskrywer met sy vinger op die pols in meer as een sin: ’n publieke wysgeer (teoloog en intellektueel) wat meesterlik daarin slaag om week na week horisonne te karteer en te verskuif, te interpreteer en brûe te slaan, en Afrikaanse lesers oor ’n wye spektrum in te nooi in ’n groter, vriendeliker, alternatiewe werklikheid.
Wat ek veral waardeer van Vosloo se besinnings, is dat dit nie wentel om ’n belangstelling in tyd as sodanig nie, maar die wonder om die veelkantige tekens van die tye te lees en te onderskei vir wat dit is. Ongeag die tyd of tema van die dag, daar is deurgaans ’n blywende tydigheid aan hierdie rubrieke so vroeg op ’n Saterdagoggend. Dit is soos ’n vars koel bries – of dalk nog beter: ’n kompas – wat voel soos wind in die seile om die dag en pad opnuut georiënteerd aan te pak. Dit is voorwaar soos Vosloo een keer teenoor my laat val het: hy probeer telkens die versoeking weerstaan om nie oor iets te skryf wat hy elders reeds onder woorde gebring het nie. Hy dink op sy voete (en dikwels gebeur dit tydens ’n draffie vroeg in die week). Hierdie insigte getuig van tyd en nuus wat nóú gebeur.
Wat dominees week na week op ’n Sondag geroep word om te doen, doen Vosloo, sonder om te preek, met soveel minder woorde, gewigtig en gul, tydig en ontydig, altyd betyds.
Beskikbaar by Naledi.
Martin Laubscher is ’n dosent in homiletiek en liturgiek aan die Universiteit van die Vrystaat.
