Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boek: Roger Chennels se debuutbundel kortverhale ’n ‘moet-lees’

All rise: Tales of human rights & wrongs deur Roger Chennells

Uitgewer: Digital-on-demand, 2023

Resensent: Frederick Marais

All rise, geskryf deur Suid-Afrikaanse regsgeleerde Roger Chennells, is ’n unieke en fassinerende boek wat jou byna dadelik boei. Die debuutwerk is onverwags vaardig geskryf en uiters leesbaar.

Chennells het in Zoeloeland grootgeword; regte studeer aan die Universiteit Stellenbosch (waar hy in die vroeë sewentigerjare met die Afrikanerdom gekonfronteer is); as jong regsgeleerde betrokke geraak by menseregtesake van die bruin gemeenskap op die Kaapse Vlakte. Hierna neem sy loopbaan hom wêreldwyd na inheemse of Eerste Nasie bevolkingsgroepe waar hy hulle regte sou verdedig.

Die boek bevat twee-en-veertig kortverhale wat die leser neem na verskillende gemeenskappe en wêrelddele soos die San-gemeenskap van die Kalahari, die Aborigenes in Australië, die Rastafariërs in Jamaika en uiteindelik New York, waar hy betrokke was by die skryf van ’n VN-verklaring oor die regte van inheemse volke.

Chennells is duidelik nie besig om die leser te oortuig van sy suksesse nie – sy bydrae word deurgaans onderspeel. Chennels, die storieverteller, skets met sy kortverhale prente van veelkleurige mense, deur vaardig die fokus op die unieke en dramatiese oomblikke te plaas. Die leser wat met aandag lees sal verhale in verhale vind, waarin die humor dikwels die leser ontwapen van moontlike vooroordele. Hoewel die figure oor wie hy skryf eintlik sy “kliënte” was, kom hulle in die boek meer oor as vriende en selfs familie. Sy beskrywing  van die aksente en unieke uitdrukkings van sy uiteenlopende “kliënte” is ryk en gepas.

Sommige resensente vergelyk Chennells se storievernuf met dié van ’n Herman Charles Bosman. En hy is voorwaar iemand wat met ingeoefende deernis waarneem. In ’n post-koloniale era waarin daar baie nagedink word oor die effek van kolonialisme en diepliggende en verskuilde onderdrukkende patrone wat kolonialisme tot gevolg gehad het, is hierdie werk van ’n baanbreker ’n moet-lees.

Die boek is beskikbaar by Takealot, of by die skrywer self – allrisebook@gmail.com.

Dr Frederick Marais is dekaan van die Skool vir Sosiale Innovasie by Hugenote Kollege.

 

<iframe src="https://iframe.iono.fm/e/1409443" width="100%" height="126" referrerpolicy="origin" frameborder="0"></iframe>

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top