Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gerhard Mahne van Kaapstad skryf: Die NG Kerk se leierskap (ASM) se onlangse verklaring in die media oor kerkrade wat bande met die kerkverband opskort het betrekking. Hulle verklaar dat ’n kerkraad “nie die bevoegdheid (het) om die Kerkorde te verander of (te) ignoreer nie”. Maar, is die stryd in die NG Kerk nie juis te wyte aan die feit dat sy Algemene Sinode (AS) self die Kerkorde (KO) verander of ignoreer nie?
In 2015 en 2019 se AS is honderde bladsye beswaarskrifte oor verskeie leergeskille ingehandig. Dit moes kragtens die KO se Reglement van Orde (2.1-2.4) een vir een behandel en bespreek word. Dit is tot nou toe nog nie gedoen nie. Dit kom dus neer op kontrakbreuk deur die AS waarvan “opskort-kerkrade” en ’n ring nou blameer word.
’n Mens noem dit projeksie. Politieke partye doen dieselfde. Ander word vir eie foute blameer. Dit is net sentiment en onkunde wat vir hulle oorlewing sorg. Intussen sterf die kerk. Derduisende het al die NG Kerk verlaat as gevolg van AS-besluite en hierdie jaar is daar in totaal by ons drie teologiese universiteit-fakulteite slegs vier NGK-eerstejaars geregistreer.
Hou op met vergesogte “gogga maak vir baba bang” dreigemente oor dominees se pensioene en kerkgeboue. Die oplossing na dekades van bittere stryd is dat die ASM ’n “opskort-kerkraad” of Standerton se ring – wat kwansuis die KO verander en ignoreer – hof toe vat. Ons is nie Lutherane met ’n Twee-Ryke wêreldbeeld nie. Die hof is ’n koninkryk-instelling ter wille van God se wêreld en kerk. Christene mag mekaar nie met onbenullighede hof toe te sleep nie (1 Kor 6), maar wanneer dit oor die waarheid gaan beroep Paulus hom op die hoogste hof van sy tyd (Hand 25). Hoe gouer die ASM hof toe gaan, hoe gouer sal sy eie ‘vasgelooptheid’ en jare se stryd en trane stop.
