Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prof Johan Janse van Rensburg van Fichardtpark skryf: Wat die afgelope weke op kerklike terrein (lees slagveld) gebeur het, laat ’n mens wonder of dit is hoe die voorsitter van die Algemene Sinode se middelgrond-kerk lyk.
By twee geleenthede is voor- en teenstanders lugtyd gegun om verskilpunte te bespreek. Die ampteike verklaring van die Algemene Regskommissie oor die dolerende gemeentes se besware was ter sake.
LEES OOK: Verdeeldheid: As die pole juig en die middel swyg
Dit was ’n uitstekende geleentheid om aan lidmate perspektief en insig te gee, maar die geleentheid is deur die vingers laat glip. Die gesprek het van rou konflik gespreek. Wat opvallend was, is die volgende:
- Kommunikasie is vrugbaar wanneer spiritualiteit en taal effektief gebruik word. Deelnemers het mekaar eerder oor regsterme aangevat om gewig aan argumente te gee. Radioluisteraars en lidmate word eenvoudig nie deur regsterme beïndruk nie.
- Die doolhof van hofsake en dreigemente van uit- en afsnyding is as skrikmiddel gebruik, wat weinig ruimte vir liefde en verdraagsaamheid gelaat het. Klaarblyklik is die liefde (1 Kor 13) in sommige omstandighede net nie die belangrikste nie.
- Die Skrif, wat so hoog opgegee word, laat nie die weg vir hofsake oop nie (1 Kor 6:1-8). Is ’n dreigende hofsaak werklik die enigste opsie om die konflik by te lê? Luister die kerk dan net na die Skrif wanneer dit standpunte ondersteun? Dit is ironies dat die verskil in Skrifverstaan juis die primêre oorsaak van die hele konflik in die kerk is! Ons is ’n gereformeerde kerk met ’n gereformeerde verstaan van die Skrif (NGB, art 5 & 7). Moet ons nie na ’n teologiese verstaan van hierdie identiteit terugkeer, eerder as om met hofsake te dreig nie?
- In retrospek het dit onbetwisbaar duidelik geword dat die twee partye mekaar nie gaan vind nie, tensy daar na ’n middelgrond teruggekeer word. Kerklike sake moet op ’n kerklike manier hanteer word, maar ons dros al hoe verder daarvan weg na ’n magsvertoon van wêreldlike regsmenings.
