“Waarom doen ek dit? Liefde vir Afrika! En omdat God se liefde my dring. Ek ontdek soveel van myself, van ander mense en van God in hierdie betrokkenheid in Afrika,” sê ds Hannes Theron, die programkoördineerder van NetACT.
“Ek is eintlik ’n gerehabiliteerde pensionaris,” lag hy en vertel dat hy nooit gedink het hy gaan op sy ouderdom weer ’n draai in die akademie maak nie. Hy was onder andere voorheen predikant by Helderberg-gemeente in Somerset-Wes en is onlangs bevestig by NG Constantia.
Ons gesels in die eetsaal van die Pan Africa Christian University in Nairobi, Kenia. Saam aan tafel, is dr Nico Mostert en dr Daniël de Wet, ook dominees en, soos Hannes, ook deel van NetACT.
NetACT staan vir “Network for African Congregational Theology”. Die netwerk is al 24 jaar besig om kerkleiers en teoloë van Afrika bymekaar te bring, met ’n fokus op teologiese opleiding, leierskapsontwikkeling, ondersteuningsdienste en ’n klomp ander aktuele sake. Prof Jurgens Hendriks het NetACT in 2000 gestig.
“Ons het ’n koninkryksroeping om langs mense en nie teenoor mense te staan nie. Om die kerk konstant te probeer help om nie na binne gekeerd te wees nie, maar anderkant hulle eie self te leef in God se Afrika,” sê Nico wat al vir meer as twintig jaar betrokke is by die netwerk.
Sy verbintenis met Sub-Sahara Afrika loop diep. Hy was onder andere 12 jaar leraar en tydelike dosent in Zambië. Vandag is Nico die Vrystaat Sinode se direkteur van Vennote in Getuienis en die uitvoerende direkteur van NetACT.

“Ons is deel van Afrika,” sê hy. “Ons is nie meer Europees nie, maar volwaardige Africans, deel van hierdie kontinent se storie. Dit gee my soveel hoop dat ons familiekerke, hulle plek só volstaan. Ons as kerk word vandag aanvaar op die kontinent as deel van die Afrikakerklandskap. Afrikagemeentes neem verantwoordelikheid vir hulleself en het ’n al meer belangrike plek in die wêrelddebat veral wat teologiese onderrig betref. Hier is ongelooflike goeie teoloë wat uitstekende werk doen en ’n aansteeklike passie het vir die kontinent.”
Daniël de Wet vertel hoe hy verlang het na die mense van Afrika toe hy vir ’n tyd lank predikant en deeltydse dosent, in Nederland was.
“Die mense van Afrika gee my hoop vir hierdie wêreld en die kerk. Veral die jong opkomende leiers wat hulle roeping dapper uitleef,” sê hy.
Daniël is tans predikant in Sinodale Diens by NG Kerk in Suid-Afrika (Wes-Kaap) by die diensgroep Getuienisaksie, waar hy verantwoordelik is vir Afrika Ekumene en missionale begeleiding van gemeentes.
“Die Wes-Kaap en Vrystaat-sinodes neem saam verantwoordelikheid vir die RFF (Reformed Family Forum) en ook NetACT met ons werk in Zambië, Malawi, Botswana, Lesotho, Mosambiek en ander plekke,” sê Nico.
Lees ook: Stories dryf soeke na aansteeklike hoop vir plattelandse dorpe
Daar is veral drie redes waarom dié drie NG dominees die week in Nairobi is: deelname aan die Africa Society of Evangelical Theology (ASET) se konferensie; ’n vergadering met dr Ariko Luka, die sekretaris-generaal van die Reformed Church of East Africa – een van die RFF-vennote; en die vergadering van die uitvoerende raad van NetACT.
“Ons besin veral tans oor die toekoms en rigting van die netwerk binne die veranderende speelveld van teologiese opleiding in Afrika.”
Die drie het baie stories oor hulle reise tussen die verskeidenheid van kerke in Afrika, oor die vinnige kerkgroei tans in Malawi, nuwe geleenthede in Angola noudat teologiese opleiding al meer deur die regering erken word, verhale van klein gemeentes op die Afrika-platteland wat in die eenvoud van die vroeë kerk vir Jesus probeer volg.
Ek vra hulle uit oor die grootste uitdagings vir die kerk tans.
Hulle vertel hoe gemeentes funksioneer onder erge finansiële druk, van die voortdurende uitdagings van armoede, groeiende kompleksiteit as gevolg van grootskaalse verstedeliking en hoe dominees en pastore meer as net kerkleiers moet wees, en dikwels ’n legio van sosiale uitdagings binne die plaaslike gemeenskappe moet navigeer.
“Misleidende teologieë, soos die prosperity gospel en Amerikaanse fundamentalistiese teologie, bly ook maar ’n uitdaging,” sê Nico.
Maar daar is ook ’n klomp goeie nuus in Afrika. Hulle het die voorreg om mooi goed raak te sien, teologiese lesse wat die res van die kerk hier kan kom leer.
“Daar is soveel wat die Westerse kerke by hierdie gemeentes kan leer,” sê Nico. “Dinge soos resilience, Westerse kerke raak te vinnig negatief. Ons dink te veel individualisties en te min kommunaal. Ons is steeds te veel ‘Westers’ en te min ‘Afrika’.
“Dit maak dat ons nie na mekaar kyk soos Christus ons kom leer het nie,” sê Daniël.
Met ete stel hulle my voor aan ’n paar van hulle kollegas, en ’n mens kry dadelik die gevoel dat hulle al ou vriende is, onder andere die hoof van ’n teologiese skool in Angola en ’n kerkleier uit Nigerië.
Terwyl ons gesels is daar keer op keer ’n aansteeklike passie te bespeur om die tafel. Goeie genugtig, dié drie dominees is amper buitengewoon positief oor die toekoms van die kerk, vang ek myself dink.
Dit is die dinge wat hulle oral in die kerke van Afrika raaksien en die mooi mense wat hulle raakloop, wat maak dat hulle so positief is, en soveel hoop het vir die kerk en die toekoms, verduidelik hulle.
In Johannes 17 bid Jesus dat sy volgelinge een sal wees, “sodat die wêreld sal glo”. Wanneer jy kyk na wat NetACT alles in Afrika doen, sien jy hoe iets hierdie gebed ook in ons tyd waar word. Nico Mostert, Hannes Theron en Daniël de Wet herinner ons dat ekumene nie bloot ’n kantlynstokperdjie van die kerk is nie, maar wesenlik tot die hart van kerkwees in Afrika.
Lees gerus meer oor NetACT se groot werk in Afrika: https://netact.org.za/wordpress/
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugbediening en die NG Gemeente Villieria.
- Berig is aangepas na publikasie.