Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Stories dryf soeke na aansteeklike hoop vir plattelandse dorpe


By ’n saamtrek oor die platteland, oplossings en “aktiewe burgerskap” hoor ’n mens ook die vrees dat vervalle dorpe inderwaarheid ’n tóékomsbeeld vir die hele Suid-Afrika is. Le Roux Schoeman doen verslag.

Die idee was dat planmakers en belangstellendes vir twee dae lank notas uitruil oor suksesverhale wat afspeel op die platteland. Die venue was ’n groot saal op die Vrystaatse terrein waar die Nampo-oesfees jaarliks plaasvind – want stories van hoop het deesdae die soort loketkrag wat iemand soos Marelize Gericke, ’n afgetrede onderwyser, al die pad van Smithfield laat deurry en betaal het om te kom luister na die 77 sprekers by Landbouweekblad se Oplossings vir Suid-Afrika se plattelandberaad (20-21 Februarie).

’n Halfmaan John Deere-trekkers troon bo jou uit soos jy die ingang van Fanie Ferreira-saal buite Bothaville bereik: ’n Groen-en-geel erewag met dik bande wat jou laat vermoed wat ’n ekonoom later sal bevestig: Landbou is Suid-Afrika se ekonomiese troefkaat – dié ding wat dié verskil kan maak.

Maar die punt van die konferensie is dat landbou nie losgemaak kan word van plattelandse gemeenskappe nie – waaronder geloofsleiers tel.

Geborg

Vertroue in die landbousektor word tans verswak deur sewe faktore, volgens Wandile Sihlobo, die hoofekonoom by Agbiz. Vertragings by hawens, agteruitgang van pad- en spoorvervoer, toename in beskerming van sekere uitvoermarkte, dieresiektes, geopolitieke spanning se impak op logistiek, swak munisipale dienslewering en swak verbruikerskoopkrag.

Sihlobo beduie tydens sy spreekbeurt na ’n PowerPoint-skyfie waarop ’n lyntjie dramaties na benede duik op ’n ding genaamd die Agbiz/IDC Agribusiness Confidence Index … Dis nie ’n mooi prentjie nie. Sihlobo sê: “It is important to remember that growth in agriculture is in general two to three times more effective at reducing poverty than an equivalent amount of growth generated outside agriculture.”

Wanneer landboubekende Jannie de Villiers later saamvat, beaam hy Sihlobo se opmerking: “Agriculture is still the answer to the poverty issues in South Africa … not the only one, but the big answer to that.”

Slaggate is ’n lewensgevaarlike deel van lewe op die platteland. Foto: Via ’n voorlegging
Die 77 sprekers het almal van ekonome tot boere, entrepreneurs, kerkleiers en sakelui ingesluit.

Oplossings, oplossings, oplossings

Landbouweekblad, ’n eeu-oue publikasie, het die Oplossingsaamtrek ’n politicivrye sone verklaar en ’n sprekerlys saamgestel wat tuishoort in nóg die Ou Suid-Afrika, nóg die Nuwe Suid-Afrika, maar eerder die Regte Suid-Afrika, het een van die sprekers deur die loop van die twee dae opgemerk.

Chris Burgess, die redakteur van Landbouweekblad, wou dinge tight hou. En positief. “’n Vriend van my wat boer, sê hy kan nie heel week na maer beeste kyk en dan oor die naweek met kla-gatte braai nie. Dis net te veel vir hom en dis hoe baie van ons voel. Jy steel jou eie energie.”

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad by Desry Lesele, ’n verteenwoordiger van Nedbank, een van die saamtrek se borge.

Die konferensie skou elke storie soos kosbare genetiese materiaal. “Elke spreker het ’n greintjie van ’n oplossing. En elke klein oplossinkie wat ons nader aan ’n groter oplossing. Want ons almal weet die land is in die moeilikheid,” het Burgess aan Kerkbode verduidelik.

Geborg

Die wagwoorde was kortformaat (10 minute per spreker) en uiteenlopendheid (alles van Margate se skoon strandgebied tot Prieska se nuwe kliniek, van Barkly-Oos se staatmaker-hospitaal tot Standerton se geswoeg met water en krag). Met ’n herhalende tema: Slaggat-herstel. As die vermoeide afgevaardigde dalk in ’n swak oomblik sou indommel op enige punt weens die program wat soggens net na sonop begin en net voor sonsak eindig, sou hy deur sy newels sinne hoor soos: “Ouens het gesê dis maar hoe (daai pad) is en net daar het ’n light bulb oomblik vir my aangegaan … Daai volgende dag het ek onmiddellik ’n span werkers ingesit en sommer die pad met gruis begin vul. Ons het ’n kleierige gruis met so ’n rooi grondjie in, as hy vastrap op ’n pad word hy baie, baie mooi, het ons gou geleer.”

Marelize Gericke van Smithfield was in haar noppies met die sprekers en vol idees vir haar dorp.

Die stories snel verby vanaf die verhoog en daar is volop verrassings: Iemand van Kroonstad sê vir enige omkeerprojek kort jy net drie goed: ’n plan, ’n span en die Bybelboek Nehemia. ’n Vrou wat vertel van ’n droom waarin sy gekonfronteer word met die vraag wat sy met haar lewe sal doen as sy net 99 dae op aarde oor het.

“Hier is ’n klomp visies gebore in die vallei … in die swaarkry,” het De Villiers, ’n voormalige hoof- uitvoerende beampte van Graan SA, tydens een van sy gereelde en insiggewende opsommings van spekersbydraes gesê. Hy’t vroeër verduidelik dat ’n mens nie altyd jou visie bo-op ’n bergpiek ontvang nie.

 

‘Die platteland gaan die land word’

Een van die sprekers wat beslis deur die vallei of ten minste ’n korporatiewe soort hel gelei is, is Frans van Heerden, een van die besturende direkteure by die pluimveereuse Astral. Dié maatskappy skep werk vir 5 500 mense op Standerton en het sowat 7 000 hektaar industriële en landbougrond op hulle boeke, maar sonder die opsie om hulle operasie elders te skuif as dinge moeilik raak. In 2019 het dinge moeilik geraak. Die munisipaliteit het hulle water vir tien dae afgesny, het Van Heerden vertel. Die gort was gaar. Ná onderhandeling is ’n nuwe reëling beding wat insluit dat die maatskappy water direk uit die Vaalrivier haal en self karwei en gaan suiwer. Die plan is om onafhanklik van munisipale waterinfrastruktuur te wees, hoor ’n mens uit Van Heerden se praatjie. “Daar is baie gepraat van hoop en ons CEO sê weekliks vir my jy kan nie ’n besigheid bestuur op hoop nie, want dis ’n ideologie,” het Van Heerden vertel. “Dan sê ek vir hom hoop is ’n werkwoord. Want hoop is die resultaat van die harde werk wat jy insit om jou omstandighede reg te stel. Dis hoop vir my.”

Van Heerden waarsku: “Ons sit hier namens die platteland. Maar ek wil vir julle sê, ons het ’n aanleg in Olifantsfontein reg in die middel van Gauteng. Wat ons … in Standerton gesien het, sien ons nou in Olifantsfontein. Die platteland gaan die land word. En dit is besig om te gebeur. En die mense wat hier voor sit met al die goeie planne gaan die oplossings gee vir die stede in die toekoms.”

Van Astral se stryd met die Standerton-munisipaliteit rondom krag en water vir hulle besigheid, het De Villiers in sy opsomming wyle prof Mohammad Karaan aangehaal en gesê: “If you’ve got the bigger vision, you’ve got the bigger responsibility.”

Geborg
Bothaville, waar die konferensie plaasgevind het, het nes vele plattelandse dorpe ingewikkelde maatskaplike uitdagings.

Tussen die onindiensneembares

Die bekorende van die saamtrek was ook die klem op wat De Villiers as “aktiewe burgerskap” bestempel het, ’n frase wat hy aan die voormalige minister van finansies Trevor Manuel toegedig het.

Doc Mabila: Die probleem is nie werkloosheid nie. Die probleem is onindiensneembaarheid.

Doc Mabila, ’n spreker en borrelende teenwoordigheid by die kongres, is ’n plaaskind oorspronklik van Tzaneen wat mediese studies en mededingende sokker by Wits prysgegee het om ’n geesdrif te volg vir werk aan oplossings vir die probleem van werkloosheid onder jongmense. Hy is betrokke by Youth Zones, Betereinders asook ’n organisasie vir swart rolmodelle. Die land se probleem is nie werkloosheid nie, maar onindiensneembaarheid, het Mabila gesê. “Ons fokus (is dat) die kind in die township ’n beter kans op indiensneembaarheid het. Ons gebruik sport as aanknopingspunt. Ons kom nie met ’n bo-na-onder-benadering waar ons as helde opdaag nie. Ons is baie gedekoloniseerd met dié soort ontwikkeling. Ons beheer hulle (die jongmense) nie, ons gee hulle vryheid om te kies wat hulle na waarde skat. Dan gebruik ons lewensvaardighede en informasietegnologie om hulle te laat deel voel van die globale stat (global village),” het Mabila verduidelik.

Op sy beurt het die medestigter van Betereinders die gehoor uitgedaag om ook na te dink oor die ingesteldheid waarmee daar ge-fix word aan dit wat stukkend is. “Ons kán die platteland fix. Ons kán die stede fix. Maar ons kan dit op ’n baie bitter manier doen. Soos die teoloë sou sê, ons kan dit op ’n baie ‘F-jou’-manier doen,” het Johan Erasmus geskerts tydens ’n gevattte bydrae van tien minute laatmiddag op die eerste dag. “En ek dink nie dit is noodwendig die pad om te volg nie. Ons moet ’n storie van versoening wys.”

Brood en ’n bo-kleed en ’n buurman

Ds Jan Lubbe van Bloemfontein, moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, het gepraat oor wat kerke kan doen om plattelandse gemeenskappe te ondersteun. Hy het opgemerk: “Ek het Bybelverse gehoor. Hebreërs 11, Josua 24, Jesaja 58, Lukas 4:18, Spreuke 19. I heard the words faith, and hope and pray and work … So I’m not here to tell you what the church can do because the church is already doing it because you are doing it. You are the church’s visible ministry to the poor, to rural communities in need. I’m only here to remind you of the words of Jesus himself. Jesus het gesê: Die koninkryk van die hemel het naby gekom. En wanneer hy oor daardie koninkryk gepraat het, het hy gepraat oor brood en ’n bo-kleed en ’n buurman … Kwessies van hierdie lewe. Jesus het nie gesê julle is die lig vir die kerk nie. Jesus het gepraat oor ’n wêreld in donkerte en nood. Wanneer hy oor lig gepraat het was die inhoud daarvan hoop en liefde en geloof en dade. Jesus het gesê julle is die sout vir die aarde … nie die hemel eendag nie,” het Lubbe gesê by ’n konferensie wat gekenmerk is deur volop verwysings na die geestelik transformerende krag wat hierdie soort gemeenskapswerk op die individu self het.

Ds Jan Lubbe

“So, wat is die uitdagings?” het Lubbe gevra. “Wat is die nood van kerke op die platteland? Eerstens, verarming en verval, net soos wat met die gemeenskap gebeur. Kerke in ons land het armer geword. Tweedens, minder mense. En hier is ’n belangrike ding, wat ons as kerke moet terugvat. Die een ding wat ek gister en vandag gehoor het, is, ekskuus, maar solank as wat ’n kerk aan hulleself dink as wit en Afrikaans … met alle liefde en deernis, want ek bid in Afrikaans en ek is wit … Maar wat ons hoor by julle is dat die stories van dorpe en gemeenskappe omgedraai (is) toe julle hande oor die grense gesteek het. Solank as wat kerke in kultuur vasgevang is, sal ons net minder en kleiner word. Ons kry die boodskap, swart kerke wat vir ons vra, kom help. Dit is hoogtyd dat die kerke hoor wat julle geleer het. Ons moet daardie hande uitsteek,” aldus Lubbe.

Geborg

‘No atheists in foxholes’

Ondanks die uitgesproke godsdienstige trant van die saamtrek en die versoeking om dit miskien oor die boeg te gooi van die sêding “there are no atheists in foxholes”, het Lubbe ook stilgestaan by diegene wat buite die kerk is. “Natuurlik is daar versplintering. Kerke moet vra waarom raak mense weg. Natuurlik moet ek sê, daar is baie mense wat by kerke seergekry het. Ek is jammer daaroor.” Sy boodskap aan afgevaardigdes is: “Be the reason for people to come back.”

Nog ’n stem uit kerkgeledere was pastoor John Mathuhle van Senekal. Hy het die oggendwyding van die laaste dag van die beraad waargeneem en gesê hoop is deesdae iets van ’n gonswoord. Hy’t ’n teenwoord hierop gebied: “(Hope is) a person in Christ … (It) has ears to listen to the cries of people, has eyes to see the pain and give attention to what is broken. It’s got hands and feet. Hope is a person. Hope is not something that we are waiting for … it’s me and you,” het die prediker gesê.

Pastoor John Mathuhle

‘Soek na die mens’

’n Verhaal uit die Oos-Kaap swaai die konferensie van die munisipale na die diep menslike. Dr Christina de Villiers werk as algemene praktisyn in Barkly-Oos. Haar man is ook ’n dokter en saam met haar in praktyk. Tesame met Nokonwaba Yekani-Mati, hoof- uitvoerende beampte van die Cloete Joubert Hospitaal, het De Villiers kom praat oor dit wat ’n afgeleë staatshospitaal (36 beddens) goed laat funksioneer. Sy beskryf ’n soort allesomvattende medemenslikheid. “My ouers is dood in ’n plaasaanval. Daai oggend lê my broer bitter ernstig beseer. Ons was rasend, ons hardloop rond, ons moet hom help. En daar sit dr Mbulelo Moshani … hy sit steke in, sit steke in en die trane stroom oor sy wange.”

Dr Christina de Villiers tesame met Nokonwaba Yekani-Mati, hoofuitvoerende beampte van die Cloete Joubert Hospitaal.
Dr Christina de Villiers

Tydens ’n teetyd by die konferensie vertel De Villiers meer oor hoe sy die ander sprekers se stories beleef het. Sy merk ook ’n spirituele komponent by vele sprekers op. Is dit vir haar ook so? “Dit was baie, baie bitter moeilik om aan te gaan en vir my om mense weer in die oë te kyk ná wat met ons gebeur het,” verduidelik sy. “Partykeer nog steeds. Maar ek dink ek het agtergekom jy moet na die mens soek. Jy moet by die persoon uitkom. Dit help my baie. Dit hou ’n mens baie nederig. Ek dink baie aan (die skrywer wyle) Elsa Joubert het mos gesê … dis iets wat baie by my opkom deesdae: Die verste reis … Die verste reis is van mens tot mens deur die hart.”

 

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Stories dryf soeke na aansteeklike hoop vir plattelandse dorpe”

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.