Paasfees is die hoogtepunt van die kerklike jaar wanneer gelowiges Jesus se kruisiging oordink en sy opstanding uit die dood vier, skryf Fay van Eeden.
Terwyl Paasfees ’n tyd is waarin gelowiges die lewe vier, plaas die wyse waarop ons dit vier ons planeet onder baie druk. In 2006 het Independent Online al berig dat sowat 100 miljoen malvalekkerpaaseiers jaarliks in Suid-Afrika verkoop word. Dit is baie plastiekomhulsels. Dit laat ’n mens wonder óf ons nie dalk hierdie fees van die lewe eenvoudiger en meer intensioneel kan vier nie.
Hier is my wenke vir ’n eenvoudiger en meer intensionele Paasfeesviering.
Lees en beleef weer die Paasverhaal
Die week voor Paasnaweek staan bekend as die Groot Heilige Week en is die ideale geleentheid om die hele paasverhaal weer te lees en te beleef. Lees gerus die week weer Markus 11–15.
Die Groot Heilige week begin op Palmsondag wat Jesus se intog in Jerusalem herdenk. Dit is gebruiklik om op óf vir hierdie dag kruisies van palmblare te vou. Op Youtube is daar baie video’s wat wys hoe om dit te doen.
Die Maandag van Groot Heilige Week is die dag waarop gelowiges terugdink aan die tempelreiniging.
Op die Dinsdag dink ons aan die gesprekke tussen Jesus en die godsdienstige leiers op die tempelplein.
Woensdag herinner aan die vrou wat Jesus met duur olie gesalf het.
Die Donderdag roep ’n hele paar gebeure in herinnering. Dit sluit die instelling van die eerste nagmaal tydens die Pasgamaal, Jesus en die dissipels se tyd in die tuin van Getsemane waar Jesus gaan bid het, en sy inhegtenisname in.
Op Goeie Vrydag is die fokus op Jesus se kruisiging en dood.
Stil Saterdag herdenk die dag waarop Jesus in die graf was.
Paassondag vier Jesus se oorwinning oor die dood en die lewe wat Hy vir ons gee.
Maak julle eie Paasfeeslekkernye
Wat is Paastyd sonder kerrievis en paasbolletjies? Maak hulle sommer self hierdie jaar. Daar is baie resepte op die internet beskikbaar. Tuisgebakte koekies en snoepies is nie net ’n lekker alternatief tot gekoopte paaseiers nie, maar ook ’n wonderlike manier om tyd saam met familie of vriende deur te bring.
Dink anders oor Paaseiers
Soek paaseiers met so min as moontlik verpakking, veral plastiese en foelie verpakking wat nie herwin kan word nie. Oorweeg om hierdie Paasfees minder maar beter te koop. Kies eerder ’n paar goeie kwaliteit sjokolade-eiers in plaas van ’n klomp goedkoop paaseiers. Paasfees is ook ’n wonderlike tyd om plaaslike en klein sjokolateurs, soos Jack Rabbit Chocolate Studio, te ondersteun.
Vervang plastiekeiers met houteiers. Houteiers kan vir jare gebruik word en die kleinspan kan hulle ook verf. Bordkryteiers van Rainbow Sidewalk Chalk SA is nog ’n oulike alternatief tot sjokolade-eiers en sal sorg vir ure se pret.
Hou ’n anderster skattejag hierdie Paasfees
Baie gesinne hou tradisioneel ’n paaseier-skattejag op Paassondag. Paaseiers word dan in die tuin of huis weggesteek vir die kinders om te soek. Oorweeg dit om hierdie jaar ’n Paasverhaal-skattejag te hou waarin daar nie net na eiers gesoek word nie, maar na verskillende objekte wat herinner aan die Paasverhaal. Dit is maklik om te doen omdat die meeste van die objekte reeds in ons huise of tuine te vinde is. Maak net seker dat die objekte wat deel uitmaak van die skattejag, wel in julle huis óf op julle erf is. Hier is ’n moontlike lys wat jy in so ’n skattejag kan gebruik, maar wees kreatief en voeg nog by.
– Iets donkerkleurig wat ons gebrokenheid en sonde voorstel.
– Parfuum of enige lekkerruikgoed wat ons herinner aan die vrou wat Jesus met lekkerruikolie gesalf het.
– Brood wat ons herinner aan die eerste nagmaal wat Jesus voor sy gevangeneming ingestel het.
– ’n Blaar om ons te herinner aan die palmblare wat die skare voor Jesus neergelê het met sy intog in Jerusalem.
– ’n Muntstuk wat Judas se verraad simobliseer.
– Twee stokke wat die kruis voorstel.
– Iets rooi wat Jesus se dood simboliseer.
– ’n Klip wat ons herinner aan die klip voor Jesus se graf.
– Iets wat leeg is om te simboliseer dat Jesus opgestaan het.
– Iets wit om ons te herinner aan die lappe wat in die leë graf agtergebly het.
– Paaseiers wat ons help om te onthou dat Jesus se dood en opstanding vir ons nuwe lewe gebring het.
Lees meer oor die kerklike jaar en hoe om dit intensioneel te vier by https://www.stellastraat.co.za/jaarmetgod
- Ds Fay van Eeden is leraar by die NG Kerk Stellastraat en ekoblogger. Volg haar op Facebook en instagram by @enroutefoodie vir meer ekowenke.