Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: ’n Beduidende aantal godsdiensgroepe het insette gelewer oor die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se transgenderideologie. Die DBO het in samewerking met die Universiteit Stellenbosch en befonds deur ’n R40 miljoen-toekenning van VVOB (’n Belgiese organisasie) ’n sogenaamde gendergereedskapskis ontwikkel. Die DBO noem dit die Gender-Responsive Pedagogy for Early Childhood Education (GRP4ECE), ook bekend as die ECE Toolkit. Dit het die doel om pre-primêre en primêre opvoeders op te lei om transgenderideologie en geslagsdiversiteit onder kinders van 0 tot 9 jaar te bevorder.
Volgens Freedom of Religion South Africa (FOR SA) het ’n koalisie van godsdienstige, geestelike, kulturele, opvoedkundige en tradisionele verenigings, wat meer as 20 miljoen lede verteenwoordig, hulle diepe kommer uitgespreek. Die DBO het hulle verklaring van 35 bladsye met besware en aanbevelings (Desember 2023) verwerp en voortgegaan met die implementering. FOR SA voer aan dat hier ’n ideologie deur die staat afgedwing word wat tradisionele sienings en waardes wat deur baie ouers en gemeenskappe gehuldig word, ondermyn.
As Christene weet ons tog dat die opvoeding van ons kinders en om vir hulle geestelike en morele waardes te leer, nie die staat se taak is nie maar ons as ouers s’n. God het die gesin geskep – ’n pa en ma – om kinders groot te maak om Hom te ken en te eer. God begeer dat die komende geslagte sal aanhou om al sy opdragte te onderhou. Wanneer een geslag nie daarin slaag om God se wette in die volgende in te bring nie, verval ’n samelewing vinnig. Een van die mees tragiese tekste in die Bybel is Rigters 2 vers 10 waar gemeld word dat die geslag van Josua uitgesterf het, en na hulle ’n geslag mense gekom het wat die Here nie geken het nie, en ook niks geweet het van die groot dinge wat Hy gedoen het nie.
Hierdie DBO-inisiatief het verreikende gevolge op die familiesisteem – die sterkste instituut om ’n gesonde nasie te bou. Waarom is NG leiers en lidmate so stil hieroor?

Dankie vir Dr Henrietta se insiggewende skrywe. Ja, die Nuwe humanistiese transgenderideologie is besig om verwoestingswerk te verrig. Ja Henrietta, geldige vraag, wat doen die NGK daaromtrent? Of gaan Hulle dit omarm soos hulle met gay praktiserende dominees gedoen het???