Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
André Rossouw van die Strand skryf: Die standpunte van die Koinoina Sinode en dié van die Algemene Sinodale Moderamen verskyn gereeld in die media met verdagmakende standpunte deur beide kante.
Hierbenewens word die media ook gebombardeer met teenstrydige standpunte weerskante van die spektrum. Die sosiale media bly ook nie agter nie en verskeie “kenners” op onder andere die mediese wetenskap ensovoorts doen gereeld die rondte.
In die lig van bogenoemde teensprake dien dit vir my geen doel om verder daarop kommentaar te lewer nie veral gegewe dat beide kante hulle standpunte met “feite” staaf.
Ek wil my dus eerder tot die proses wend wat deur kerkrade gevolg word om te doleer en die daaropvolgende Akte van Opskorting in te dien.
Volgens my verstaan het ’n kerkraad ’n onbeperkte en oop mandaat om alle besluite, ongeag die omvang en gevolge daarvan, namens ’n gemeente te neem sonder om die gemeente daarin te ken en/of die gemeente se mening daaroor te toets. Daar is dus geen verpligting teenoor die gemeente rakende die neem van besluite nie.
Gemeentelede word uitgenooi om kommentaar te lewer en/of beswaar aan te teken MAAR dat die kerkraad dit sal oorweeg en ’n meerderheidsbesluit neem. Let wel: dit is dieselfde kerkraad wat reeds die besluit op hulle eie geneem en gepubliseer het.
Dit val vreemd op die oor dat gemeentelede, nadat die akte van opskorting gelewer is, na vergaderings genooi word bloot om ingelig te word van die aksie wat geneem is.
Dit word duidelik gestel dat dit lidmate vrystaan om van gemeente te verander na ’n gemeente wat steeds in verband met onder andere die Algemene Sinode van die NG Kerk staan – dit klink na ’n bedekte dreigement! Dit geld uiteraard ook vir gemeentelede wat dekades lank die kerkgebou as hulle eie aangeneem en onder andere finansiële bydraes gemaak het.
In my handel en wandel kom ek lidmate uit verskillende gemeentes – dolerend en andersins – teë wat ongelukkig is daarmee dat so ’n besluit namens hulle geneem kan word en dat hulle dan eenvoudig verlief daarmee moet neem.
Dit laat die vraag by my: Wie doleer nou eintlik – die kerkraad of die gemeente?
Opskorting van die kerkverband is ’n baie kontensieuse aangeleentheid en die kerkraad, bewus van hulle onbeperkte mandaat, behoort meer sensitief te wees met die hantering daarvan.
Voortvloeiend uit die bogenoemde blyk die kort proses klaarblyklik te wees:
Beïnvloed die kerkraadslede, wat in die minderheid teenoor gemeentelede is, en hulle het die onbeperkte mag om die proses ten gunste van dolering / opskorting te finaliseer.
Die enigste gemeente in die Strand wat doleer het, die Strand moeder gemeente, is sekerlik nie Andre se gemeente nie, anders sou Andre bewus gewees het van die lang voorbereiding en deel van inligting aan die gemeente. Vanaf die kansel, deur dissipelskapgroepe en in privaat gesprekke asook verspreiding van gedrukte media is die gemeente ingelig en kon persone afsprake maak met die predikant óf kerkraadslede om kwessies te bespreek.
Dit ís so dat ongeveer 6 gesinne die gemeente verlaat het maar ook het 40 weer vanaf ander gemeentes by Strand aangesluit.
Andre se kwellings/beskuldigings is dus ongegrond.
Oor “oop mandaat”, “minderheid” en “onbeperkte mag”…
André is ongelukkig daaroor dat (volgens hom) ‘n kerkraad ’n onbeperkte en oop mandaat (het) om alle besluite namens ’n gemeente te neem en ook dat kerkraadslede, wat in die minderheid teenoor gemeentelede is, onbeperkte mag (het) om bepaalde prosesse te finaliseer – in die gemelde geval dolering/opskorting van kerkverband.
Hier is inligting rakende die Algemene Sinode (AS) van 2023 (sien https://kerkbode.christians.co.za/2019/10/10/besluit-kerkverband/):
*Die vergadering van die Algemene Sinode bestaan uit ’n maksimum van 370 afgevaardigdes wat sover moontlik saamgestel word uit ’n gelyke aantal predikante en kerkraadslede.
* 200 afgevaardigdes wat uit 20 persone per samestellende sinode saamgestel word, waarvan die helfte verkieslik jonger as 40 jaar moet wees.
* 160 afgevaardigdes word proporsioneel volgens die aantal belydende lidmate van elke samestellende sinode aangewys.
* Die Algemene Kuratorium wys 10 afgevaardigdes uit die 5 opleidingsentra1 met volle sittingsreg aan. Hierdie persone word addisioneel bygetel by die getal afgevaardigdes uit die betrokke samestellende sinodes.
* Diversiteit ten opsigte van geslag en ouderdom word in ag te neem met die saamstelling van afvaardigings.
Volgens André wil hy hom eerder tot die proses as die feite wend, maar feite is nodig om prosesse te verstaan. Hierdie afgevaardigdes by AS2023 (ongeveer 400) het ongeveer 700 000 lidmate verteenwoordig. Hy kan self bereken watter persentasie minderheid dit is. Hy kan ook na die voorskriftelike bepalings van verteenwoordigers kyk. Deur die jare het regsinniges (waaronder ook dolerendes) beswaarskrifte (wat byna 600 bladsye beslaan) op Kerkordelike manier aan die AS gerig. Asof hulle ‘n oop mandaat en onbeperkte mag met geen verpligting tot rekenskap het nie (wat by kerkrade volgens André geld), lyk dit of die AS al hoe meer sy ore vir die wêreld leen en ‘n dowe oor gooi vir Koinoniagemeentes. Met dit in gedagte, vra ek dat André weer dink oor dolerende gemeentes en opskorting van verband met die Algemene Sinodale strukture.