Die kerk in Suid-Afrika, en die NG Kerk self is deel van ’n globale beweging wat geslagsgeweld met profetiese uitsprake probeer teenwerk, berig Fanie Henys.
’n Stortvloed van verbale en liggaamlike geweld deur ’n pastorale manlike familielid by haar huis in Mamelodi en aanranding deur ’n manlike leerder by die Rethabile Hoërskool, het Lorraine Moko laat vrees vir haar lewe.
Sy het dikwels lang rokke gedra sodat medeleerders nie die littekens van die geweld kon sien nie. Haar ma se ouers het aan die einde van graad agt ingegryp en haar permanent daar laat bly sodat sy verdere geweldpleging kon vryspring.
“Ek moes afgesien van die fisiese geweld ook dikwels hoor dat ek niks werd was nie,” sê sy oor die teistering. “Gelukkig het ek ’n berader gehad wat in my tweede jaar in maatskaplike studies op Wellington nege maande lank in my emosionele herstel belê het,” sê Moko, nou ’n maatskaplike werker by 1000 Women Trust, ’n nie-regeringsorganisasie.
Elders vertel Marinda Lottering, ’n aktivis op Beaufort-Wes, hoe sy vanjaar ’n tydelike skuiling opgerig het om vroue wat deurloop onder geslagsgeweld op die dorp en in die distrik, by te staan.
“Geslagsgeweld in die Sentraal-Karoo is omvangryk,” sê sy. “Ek het al die kerk gevra vir blyplek vir die talle vroue wat deur mans, wat verslaaf is aan dwelms en drank, geslaan word. Ek kry nie veel hulp nie.
“En ek vra nie eens die kerke om te praat oor geslagsgeweld nie, want baie van die senior bestuurslede in die kerk pleeg self geslagsgeweld.”
Wat Moko en Lottering beleef, is nie geïsoleerde gevalle van geslagsgeweld nie. Jaarliks word 40 000 vroue in Suid-Afrika verkrag.
Geslagsgeweld: Wortel van die kwaad?
Van 1 September tot 31 Desember verlede jaar was daar 15 284 seksuele aanvalle op SA vroue, volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit is 169,8 per dag.
Suid-Afrikaanse mans uit welvarende of kwesbare gemeenskappe is aandadig aan hierdie euwel. Hulle praat Zoeloe, Afrikaans, Engels, Xhosa of Sotho.
Die manier waarop die Bybel geïnterpreteer word in ’n oorwegend Christelike samelewing is die wortel van die kwaad wat geslagsgeweld betref, sê dr Elize Morkel, kliniese sielkundige en voorheen ’n lid van die moderatuur van die Wes-Kaapse en die Algemene Sinode van die NG Kerk.
“As ons nie die Bybel binne konteks van die tyd en kultuur waarin dit geskryf is, lees nie, maar letterlik lees en verstaan, sal ons die patriargie wat in daardie tyd die samelewing gerig het, predik en herhaal,” sê sy.
“Patriargie wat leer dat die man die hoof van die huis, die geestelike leier is en wat vroue as die onderdanige, stemlose geslag voorstel, skep die teelaarde vir geslagsgeweld. Deur die skep van hierdie tipe magsverhoudings tussen geslagte word geslagsgeweld aangemoedig.”
Volwaardig mens
Ds Nelis Janse van Rensburg, voormalige moderator van die algemene NG Sinode en predikant van Welgemoed, is dit met Morkel eens dat die kerk vir eeue ’n patriargale hiërargie in families en gesinne met Bybelse gesag verkondig het.
In die Ou Testament word vroue die eiendom van hulle mans en familie. Slegs ’n man het die reg gehad om te skei. ’n Vrou se rol is om vir hulle mans seuns in die wêreld te bring sodat hy ’n nageslag kon hê.
In die Nuwe-Testamentiese tyd was hierdie steeds die heersende oortuiging in die Joodse gemeenskap, meen Janse van Rensburg. Jesus begin egter ’n proses van radikale transformasie van magsverhoudings. Geringes word sentrale figure in sy koninkryk. Vroue en kinders word volwaardige mense. Een man en een vrou word ’n egpaar.
Mans verlaat die familiehuis om saam met een vrou hulle eie selfstandige woonplek te bewoon. “So leer Jesus die mense. Die kerk, as navolger van Christus, moet daarom teen alle vorms van magsmisbruik, maar veral in ongelyke magsverhoudings tussen vroue en mans standpunt inneem,” sê Janse van Rensburg.
Die kerk moet oortuigings in geloofsgemeenskappe wat skadelike gedrag verskoon of bevorder – die onderliggende drywers van geslagsgeweld – aktief uitdaag, sê ds Rethie van Niekerk, predikant van die NG Gemeente Driehoek in Vanderbijlpark.
Van Niekerk haal Faith action to end gender based violence and femicide oor die taak van die kerk aan. Sy sê die kerk moet veilige gemeenskappe bou. Baie vroue wat deurloop onder geweld, beleef sekondêre trauma wanneer hulle daaroor praat en word verkwalik en gedwing om te vergewe, so asof geslagsgeweld hulle skuld is.
Die kerk moet volgens Van Niekerk ook praktiese bystand verleen aan vroue wat geslagsgeweld oorleef en vlug. Dit sluit eenvoudige vorme van hulpverlening in soos basiese sanitêre produkte, plekke van veiligheid en traumaberading.

Profeties betrokke
Janse van Rensburg sê die kerk moet nie net deur die verkondiging van die evangelie getuig dat Christus die hiërargie tussen mans en vroue afgetakel het nie. In sy profetiese getuienis binne die gemeenskap behoort die liggaam van Christus ondubbelsinnig die gelykheid van vroue in in die samelewing te bevorder.
“In die lig van die geweld teen vroue in die samelewing, en in die lig van die kerk se aandeel aan die legitimering van die minderwaardigheid van vroue, behoort die kerk vreesloos en met ywer te werk aan die herstel van die gelykheid van mans en vroue in die samelewing,” sê hy.
Die NG Kerk is op baie plekke profeties betrokke, sê Van Niekerk. Tydens 2020 se inperking het die Faith Action to End GBV ontstaan. Dit is ’n sambreel van kerklike en parakerklike organisasies wat spesifiek fokus op geslagsgeweld en femicide. “Die pandemie het ons gehelp om te begin saamwerk. Ek is self deel van ’n groep wat werk onder die Church Unity Commission, wat spesifiek aandag gee aan geslagsgeweld en femicide.”
Van Niekerk sê ’n mens sou graag meer van die preekstoel af wil hoor dat geslagsgeweld veroordeel word. Maar dit is uitdagend as daar kinders in die diens is.
Die kerk in Suid-Afrika, en die NG Kerk self is ook deel van ’n globale beweging wat die spiere bult teen geslagsgeweld met profetiese uitsprake. Sy was ’n paar jaar gelede deel van ’n saamtrek van die Afrika- en oos-Asiatiese takke van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) in Ghana waar die tema “Reading the signs of the times regarding gender” bespreek is.
Daar is ’n verklaring uitgereik wat deur die lidkerke aanvaar is. Daar is later by die algemene saamtrek van die WGGK baie sterk uitsprake hieroor gemaak.
Steeds taboe om oor geslagsgeweld te praat
Plaaslik rig die NG Kerk ook die gewete van gewone lidmate met programme waarmee die gevolge van magsmisbruik belig word. Die Algemene Sinode van die NG Kerk en die Sinode van Wes-Kaapland het taakspanne vir gendergeregtigheid. Hulle lewer groot bydraes daartoe dat geregtigheid geskied en die menswaardigheid van vroue bevorder word, sê Janse van Rensburg.
Ds Bianca Truter-Botha, voorsitter van die taakspan vir gendergeregtigheid van die Wes-Kaapse Sinode, sê geslagsgeweld is in baie kerke ’n taboe om oor te praat en die werklikheid daarvan word ontken.
Daar is wel gereelde leergeleenthede oor gender en geweld in die NG Kerk en die kerkstelsel self word krities ontleed deur liggame soos die taakspan vir gendergeregtigheid.
“Die kerk vervul in baie kontekste die rol van ‘brandweer’ en help slagoffers rehabiliteer, maar begin ook reeds om die wortels van geslagsgeweld aan te spreek. Dit is byvoorbeeld deur die kategeseleerplanne aan te pas waarin daar oor gender, seksualiteit en verhoudings gepraat word,” sê Botha.
Volgens Botha is daar programme in die NG Kerk oor positiewe manlikheid, asook oor die gevare van toksiese manlikheid. Maar dit is nie die norm nie. “Ons belewenis is dat baie mans wegskram daarvan om groepe en intervensies wat hiermee erns maak, by te woon,” sê sy.

Positiewe manlikheid
Binne die NG Kerk is daar reeds inisiatiewe wat op klein skaal bekendgestel word om die program oor positiewe manlikheid verder te voer. Die kerk beoog om binne die volgende drie jaar seksueleteisteringopleiding te implementeer wat ook vorme van toksiese manlikheid sal aanspreek, voeg sy by.
Die verandering in ingesteldhede oor geslagsgelykheid in die Afrikaanse gemeenskap en die kerk is te traag, volgens prof Yolanda Dreyer, hoogleraar in praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria. Wat voorheen blatant gesê is, gebeur nou net meer ‘ondergronds’. Toe ’n jong vrou onlangs nie in ’n kombuis wou help met die voorbereiding van die Kersete nie, draai ’n oom na haar man toe en sê vir hom: “Hierdie een moet jy met ’n sambok om die blok jaag.”
“Vandag is mense (miskien) versigtiger om so blatant te praat, maar of die onderliggende mentaliteit verander het, is ’n vraag,” maan Dreyer.
- Fanie Heyns is ’n vryskut-joernalis.
