Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wat is die Bybelse argument vir of teen die erkenning van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag? André Bartlett se standpunt.

224 bladsye van diep wysheid

Stil-weg deur Carel Anthonissen

Uitgewer: CLF, 2024

Resensent: Rethie van Niekerk

 

Dit gebeur nie dikwels dat ek elke bladsy van ’n boek wil deel op sosiale media, of hoofstuk na hoofstuk dink “So-en-so moet hierdie lees”, “Ek moet vir daardie persoon sê om die boek aan te skaf”, nie. As ek gelukkig is, gebeur dit een maal per jaar.

Anthonissen se boek was reeds by die inhoudsopgawe dié boek – die een wat jy wil bêre, wil aanhaal, wil herkou en wil deel. Opskrifte soos: Om te leef in die skoot van God, ’n Kerk met sagte oë, ’n Lied om mee te sterf, Jou ma is veilig, sê reeds: hier gaan jy stilstaan. Rus.

Dit was einste Carel Anthonissen wat my as student in die 1990’s aan die kontemplatiewe tradisie bekendgestel het. In Stil-weg bied hy ’n kort inleiding tot hierdie aspek van die Christelike geloof, asook ’n versameling van sy geestelike oordenkings oor die jare. Sy kenmerkend sagte, nederige wysheid slaan helder deur wanneer hy skryf oor stilte, God, Jesus, geloof, gemeenskap, gebed, die Bybel, liefde, geregtigheid, lyding en heling, ekologie, hoop, asook Taizé en geestelike begeleiding.

Hierdie “boekie”, soos Anthonissen dit beskryf, is 224 bladsye van diep wysheid. Getrou aan die aard van die kontemplatiewe tradisie, is dit ook vol skoonheid, soos onder andere van Anthonissen se eie gedigte. Daar is selfs vir elke afdeling ’n klankbaan – musiek wat jy kan luister terwyl jy lees.

“As die boekie op ’n beskeie wyse daartoe kan bydra dat ons kennis tot wysheid, liefde en hoop sal verdiep omdat ons na Hom gedraai het wat Liefde is, sal dit my persoonlik groot vreugde verskaf,” sê die skrywer. Vir my, die leser, was dit ’n verruklike voorreg om na bykans 30 jaar weer saam met “Oom Carel” stil te word.

Beskikbaar by Christelike Lektuurfonds.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top