Uittogpad deur Jaco Thom
Uitgewer: Bybel-Media, 2023
Resensent: Rethie van Niekerk
Dominees is byna konstant op soek na goeie materiaal vir Bybelstudiegroepe. Ons weet uit ervaring dat dit nie so maklik is om net vinnig ’n paar vrae uit te dink nie. Om vrae te bedink wat groepe sal help om by die kern van die teks uit te kom, terwyl hulle die teks met hulle lewe integreer én hulle lewe met mekaar deel, is beslis nie vinnig en maklik nie.
In Uittogpad bied Jaco Thom “’n Tien-weke-reis met God: Lesse uit Eksodus.” Thom bied presies die tipe hulpmiddel wat Bybelstudiegroepe soek. Die patroon is nie die tipiese “lees die teks en beantwoord vrae daaroor” nie. Die Skriflesing en vrae is heeltyd met mekaar verweef. Thom bied ’n goeie balans tussen vrae en toeligting, sodat ’n mens nie voel dit is preke met ’n vraag of twee aangelas nie. Die vrae begelei die groepe om die teks goed te bedink, maar ook om die hedendaagse reis met God te oorweeg.

Die vrae is dikwels só geformuleer dat groeplede meer algemeen sal kan antwoord, eerder as dat dit persoonlike introspeksie of gesprek oor hulle eie lewe met God vra. Die groepleier sal moet wakker wees om seker te maak dat die gesprek nie fokus op hoe verkeerd ánder is nie, veral met vrae soos: “Gesels oor die ‘vryheid in voorskrif’ wat Christene vandag vir hulleself toelaat in hulle voorbereiding vir afsprake met en eer aan die Here” of “Noem voorbeelde hoe ons die doop minag.”
Thom bied ’n sterk fokus op getuienis, roeping en sending, in goeie balans met die “na binne” deel van die geloof.
Uittogpad is ’n baie goeie opsie vir Bybelstudiegroepe om te oorweeg.
Beskikbaar by Bybelmedia.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.
