Dit is vir hom pynlik wanneer hy hoor hoe sommige kerkleiers oor die Gasa-konflik praat en dit regverdig.
Só het dr Munther Isaac, ’n besoekende Palestynse teoloog, gesê tydens ’n paneelbespreking op Stellenbosch met die tema “South African faith communities and justice in the context of Zionism today”.
Die gekombineerde nadraai van kolonialisme, rassisme en teologie kan ’n verklaring bied vir wat Isaac die gebrek aan reaksie noem vanaf die regerings van sekere Westerse lande om Israel te veroordeel vir die verwoesting en 34 000+ menseverlies in Gasa in die sewe maande sedert die Hamas-aanval op 7 Oktober waarin sowat 1 200 Israeli-burgerlikes dood is.
Palestyne ‘verontmenslik’ in Gasa-konflik
“Die staat van Israel en Sioniste het van die Bybel ’n wapen gemaak,” aldus Isaac.
Isaac het verduidelik hoe byvoorbeeld Ou Testament-verwysings na die Amalekiete (een van die Kanaanitiese nasies wat in gereelde konflik was met die Israeliete) bydra om in sy woorde hedendaagse Palestyne te “verontmenslik”.
Isaac is op besoek uit Bethlehem waar hy werk as Lutherse gemeenteleraar en akademikus verbonde aan ’n plaaslike Bybelkollege. Die gesprek is op 6 Mei aangebied by die Teologiese Fakulteit van Universiteit Stellenbosch (US) met Isaac, wat ook reeds by die Groote Kerk in Kaapstad opgetree het, as hoofspreker.
Hy het pleidooie vir ’n skietstaking verwelkom, maar gesê hy soek meer. “Ons mis die oproep wat Israel verantwoordbaar hou,” het Isaac verduidelik. Sy bydrae is deur ’n staande applous gevolg deur ’n gehoor vol studente, akademici sowel as geloofsleiers uit verskeie denominasies ingesluit NGK, VGK en die Anglikaanse kerk.
Lees ook: ‘Hoe preek en lei ’n mens eredienste in ’n konteks van ongelykheid, armoede en geweld?’



‘Valse evangelie van Sionisme’
“Die doel van die seminaar was om die lig te werp op Sionisme vandag en dan veral die rol van geloofsgemeenskappe,” volgens prof Reggie Nel, die dekaan van die Teologiese Fakulteit aan die US. “Ons wou dan ook die ervarings en stories hoor van dr Munther Isaac, vanuit Palestina en saam nadink oor ons eie Suid-Afrikaanse storie en die kerke se rol in die strewe en najaag van geregtigheid,” het Nel aan Kerkbode gesê. “Dit beteken ons moet onsself toerus met informasie, kennis oor die situasie en ander bewusmaak; dit beteken ook die afwysing van die valse evangelie van Sionisme. Ons doen dit saam met verskillende geloofsgemeenskappe,” aldus Nel.
As tweede spreker het prof Allan Boesak gesê: “Wanneer ons sien mense word nie toegelaat om kos of hulp te kry nie, babas sterf in inkubators … dit is wat Christelike Sionisme is … en dit word gedoen in die Naam van Jesus,” het hy onder meer gesê. Tydens sy voordrag het hy ook gewys op die ooreenkomste tussen wat in Palestina gebeur en die stryd teen apartheid.
Die Anglikaanse priester Rene August het in haar spreekbeurt eweneens ’n verband getrek tussen Christelike Sionisme en apartheid met verwysing na die geweldige ongelykheid tussen ryk en arm in Suid-Afrika. Sy het gesê gelowiges moet praktiese maniere vind om hierdie historiese onreg te help regstel, want vir haar is dit onlosmaaklik deel van wat dit beteken om navolgers van Jesus te wees.
Toenemende verdeeldheid op kampusse oor Israel-Palestina-krisis
Dr Munther Isaac se optrede by die US kom in ’n tyd wat polarisasie oor die Gasa-krisis op universiteitskampusse toeneem. In die VSA is meer as 2 000 studente in hegtenis geneem vir deelname aan teenoorlog-protesaksies sedert 17 April, het Associated Press berig. Soortgelyke protesoptrede vind ook op Europese kampusse plaas. Plaaslik is die akademiese omgewing ook verdeeld. Die senaat van US het onlangs gestem om nie ’n resolusie oor die Israel-Palestina-krisis te aanvaar nie (101 stemme teen 80 stemme, volgens ’n verklaring op die US-webblad). Die Universiteit van Wes-Kaapland en Universiteit van Kaapstad het wel resolusies aanvaar wat vra vir ’n wapenstilstand en onmiddellike hulp aan Gasa.
