Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ria van Bellville skryf: Op Ysterplaat is ’n NG Kerk soos geen ander NG Kerk nie. Dit lyk soos ’n NG Kerk – die kerktoring, die groot kombuis, die verhoog in die kerksaal met die twee deurtjies onder die verhoog waar ons met basaar altyd spookhuis gespeel het, “God is liefde” op die kanselkleed onder die verweerde fluweeltapyt.
LEES OOK: Klein gemeente met oop arms kort ’n sterker heining
Die verskil is dat God hier werklik liefde is, elke dag van elke week. Op die verhoog van die kerksaal is ’n Echo-huis waar jongmense woon, die kerksaal is ’n nasorgsentrum en veilige ruimte waar kinders kan eet na skool en met huiswerk gehelp word. Op die kerkgronde is ’n koshuis uit containers omskep waar kinders tydelik veilig kan woon.
Op Donderdae kom sit mense uit die gemeenskap aan vir ’n gemeenskapsmaaltyd waar die predikant, ds Scherlize, saam met hulle bid en berading en liefde gee. Met my besoek was daar ongeveer 60 mense – verweerde, vernielde mense wat uitgelewer op straat lewe. Scherlize en die vrywilligers ken hulle name en die gemeenskap weet, hier is hulle geliefd en welkom.
Ek dink aan die preke oor hoe ons mense moet nooi na ons kerke, hoe ons gasvry moet wees en ALMAL in ons midde moet verwelkom en ek wonder of ek hierdie mense in ’n bus sou kon laai en na my gemeente kon neem? Daar waar dit ruik na goeie koffie en duur parfuum en waar die dak nie lek nie.
