Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Gemeentes, dié vergoeding is ontmoedigend

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Anoniem skryf: Dit is vir my sleg en ontmoedigend om dié brief te skryf. Maar of streeksinodes móét dit raaksien en/of die Algemene Sinode moet hiermee help.

Ek sien deesdae in die vakatures in Kerkbode dat die mééste kerke ’n kerfbepaling by hulle advertensie plaas. Byvoorbeeld, Gemeente so en so kan tot op kerf 5 betaal, ’n ander kerk weer tot op kerf 7. Party net tot op kerf 3! Daar is talle voorbeelde.

Dit sê vir my dat die meeste NG Kerke finansieel in die moeilikheid óf in die knyp is. En ander gemeentes sommer glad nie kan beroep nie óf ’n diensleraar aanstel met opdrag prediking en versorging.

Hoe werk dit? Ek onthou hoe lank ek aan kuratoriumskuld moes betaal en dat dit ses jaar geneem het om die “regte” kwalifikasies te hê om gelegitimeer te word.

Maar hoe kan ’n mens van iemand verwag wat dalk al 12 jaar in die bediening is om terug te val na ’n kerf 5 toe? Beteken die graad op jou naam dan nie eintlik iets nie? Die meeste leraars, manlik of vroulik, het ’n gesin om te versorg en na om te sien.

Ek weet dat om vir die Here te werk nie oor geld gaan nie, maar graduandi het wel ses jaar geleer om as leraar in ’n gemeente te kan bedien. En daar is talle leraars met doktorsgrade in die NG Kerk, waarvoor geen leraar vergoed word nie of ekstra betaal word nie, terwyl in die buitewêreld dit juis ’n pluspunt sou wees.

Dit is tyd dat die kerk hand in eie boesem steek en dat streeksinodes of die Algemene Sinode na die stand van sake in gemeentes kyk en randsake los waar dit hoort.

Dit moet vir enige student wat teologie gaan studeer ontmoedigend wees as hulle na moontlike beroepskeuses kyk.

As ek nog een brief moet lees oor randsake in die NG Kerk wat niks te make het met die evangelie van Christus nie is ek van plan om die berge in te hardloop.

Die NG Kerk sal wel plan moet maak en raaksien én waarneem dat soveel gemeentes in die knyp is dat die traktement wat ’n leraar verdien óf so klein is óf hy of sy glad nie kan groei in ’n pos nie. As die pos op kerf 5 stop, moet die leraar ’n ander gemeente gaan soek of tevrede wees dat dié se traktement dieselfde gaan bly én daarmee tevrede wees.

Ons bly in ’n land waar alles elke maand duurder word en ons ekonomiese klimaat nie gunstig is nie. Maar as graduandi wat ses jaar geleer het kan die traktemente nie vergelyk met wat inflasie besig is om te doen nie. En dat gemeentes so half amper verwag dat ’n leraar tevrede moet wees. Hoe kan ’n mens bedien as jy nie eens materieel ordentlik kan voorsien nie?

Ek skryf die brief sonder antwoorde. Maar dat daar iets aan die saak gedoen moet word, is nou belangriker as ooit.

  • Die skrywer se naam word op versoek weerhou. – Red.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “Brief: Gemeentes, dié vergoeding is ontmoedigend”

  1. Deon Sieberhagen

    Stem heelhartig saam. Die gemeentes laat jou voel of hulle jou ‘n guns doen as dit tot ‘n vlak 5 kan styg.

  2. Annari du Plessis

    Dit is baie jammer en dit is waar dat mens aan finansies moet dink. Predikante moet ook vir alles betaal, net soos ander mense. Dit is onregverdig om te verwag dat predikante net nie moet dink aan inkomste en uitgawes nie en net moet “vertrou.”

  3. Christo Schoeman

    Heelwat gemeentes trek finansieel swaar, terwyl sommige sterk staan…

    Ek is van mening dat daar tans baie leraars is wat nie waarlik meer kan gaan waar hulle geroep word nie, omdat finansies en bykomende omstandighede hulle verhoed daarvan.

    ’n Klip in die bos: Waarom nie in elke sinode ’n fonds skep wat help met die betaling van bedienaars van die Woord nie? Maak selfs die sinodale bydrae / aanslag hoër vir gemeentes, maar dan betaal die fonds ’n gedeelte van die traktement? Natuurlik is daar ’n hele paar administratiewe dinge om eers uit te sorteer en kriteria wat geskep en geformuleer moet word, maar dan sal Ds. Stadskind dalk meer “oop” wees vir bediening op die platteland of by gemeente X wat voorheen net kerf 5 kon bekostig. In hierdie stadium oorweeg talle leraars nie eers om elders te dien nie – juis omdat daar omgesien moet word na gesinne en ander verantwoordelikhede. Sinodes moet begin anders dink oor hoe om roepingsbewustheid en groei te bevorder onder leraars – dalk is hierdie iets wat kan help?

  4. Ek stem heelhartig saam met die skrywer dat streeksinodes en die Algemene Sinode minder kan fokus op randsake en meer op dag-tot-dag realiteite van leraars en gemeentes. Daarby gesê, dit moet ingedagte gehou word dat die enigste rede hoekom gemeentes laer kerfbepalings adverteer, is dat daar bloot nie meer genoeg die geld in die gemeentes is nie. Die gemeentes doen dit nie uit gierigheid of afguns nie, maar bloot uit gebrek. 
    Daar is minder lidmate, en die lidmate wat daar is, dra minder by. Dinge raak ook vir gemeentelede duurder, en gesinne wat gebrek lei gaan nie meer (soos dikwels in die verlede) bydra tot die gemeente ten koste van die gesin nie. Ek onthou van my kinderdae hoe sekere gesinne nie geld vir klere gehad het nie, maar nogsteeds pligsbetrou bygedra het dat die leraars op oorsese toere gaan.
    Hoekom moet ‘n gemeente meer betaal vir ‘n leraar bloot op grond van ‘n doktorsgraad, as die gemeente dit nie kan bekostig nie? Doktorsgrade is immers spesialisasie in spesifieke areas wat dikwels glad nie toepaslik is op die gemeente se dag-tot-dag werksaamhede nie.
    Dit gebeur ook dat sommige leraars meer aan hulself toe-eien as wat ‘n gemeente kan bekostig, wat lei daartoe dat gemeentes op die ou end gebrek lei en selfs sluit.

Comments are closed.

Scroll to Top