Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Afgevaardigdes by die 97ste vergadering van die NG Kerk in KwaZulu-Natal in Pietermaritzburg het prof Barry Tolmay, predikant van Krantzkloof, as moderator verkies. Tolmay deel hieronder sy indrukke oor die streeksinodesitting en hoe dit is om in KZN kerk van die Here te wees.
Dit is amper soos om in die buiteland te bly! Dit is vreemd dat hulle nie jou paspoort stempel op Van Reenenspas nie … So het ’n Vrystater, wat in Durban gebly het, al 15 jaar gelede gesê.
LEES OOK: Al Kerkbode se sinodestories
Ek bly nou al 20 jaar in Durban en geniet dit nog elke dag. As jy naby die see bly, kry jy omtrent nie winter nie. Die berge is asemrowend. Die pragtige natuurparke en wildtuine in Noord-KZN is fantasties. St Lucia en Sodwana is elke hengelaar se droom.
Dan is daar nog die Middellande by Nottingham Road wat jou inlok in ’n opwindende ander wêreld.

Geen wonder nie dat die ontwerpspan van die 97 ste KZN-sinode in Junie 2024 die volgende tema gekies het: “In Christus ons vreugde”.
Tog is daar ’n ander kant van die munt. Covid-19 het ons provinsie seergemaak. In Julie 2021 was hier wrede “looting” in KZN. ’n Tornado is hierdie week deur Tongaat. Ek het self vir 20 maande tydelik op ’n ander plek gebly, met ingeparkeerde karre, na die storms van April 2022. Die MK-party van oud-president Jacob Zuma het die meeste stemme in die verkiesing van 2024 in KZN gekry …
Hoe kan die KZN-sinode dan hierin vrede vind?
PODSENDING: Kerkwees Vandag | ’n Gestuurde Avontuur + Prentjies uit Namibië (Episodes 1 en 2 met Nico en Tom)
Die vraag is tydens ’n Wandel-in-die-Woord-sessie by die sinodesitting gevra.
Voorspoed-teologie lok mense na plekke waar daar net een kant van die munt is. As dit nie uitstekend en voorspoedig met jou gaan nie, moet jy die fout by jouself soek.
Word KZN dan nou gestraf as gevolg van ons verkiesingsuitslag en al die korrupsie wat in KZN plaasvind, dat selfs die natuur teen ons gedraai het? Paulus sou gesê het: “Beslis nie!”
Hoe vind ons dan vreugde te midde van al die gebrokenheid rondom ons?
Phillip Yancey help ons in dié verband. Hy vra die vraag oor waar die Here is as alles rondom ons ineenstort. Hy kom tot die slotsom dat God die Vader as gevolg van die kruisgebeure van Jesus Christus, self deur trauma gegaan het. Daarom is Jesus Christus, deur die Heilige Gees, by ons in elke trauma wat ons beleef.
KYK: Moderator – ‘Ons gebed is nie klaar nie – bid vir regering wat land vorentoe kan vat’
Daarom kon ons vreugde vind tydens die KZN-sinode. Mense het gelag, heerlik gesmul aan tafels vol lekker kos. Tydens die tafelgesprekke is daar nuwe vriende gemaak. Daar was vreugde omdat niemand gestry het tydens die sinodesitting nie.
Tydens die 2012-sinode het ons vir vier jaar op reis gegaan met die tema: “In Christus saam op pad”.
Ons het in Natal besef ons is ’n familie wat saam reis en somtyds vir mekaar moet wag op die reis.
Die 2016-tema was “In Christus is ons hoop”. Ons het in KZN geleer dat geluk van die Here alleen kom.
Die tema van die 2021-sinode was “Saam met Christus die toekoms in”. Elke sinode het Christus sentraal geplaas en nie ons omstandighede nie!
Vreugde is nie iets oppervlakkig nie. Vreugde is nie ’n oomblik van geluk en viering wat die volgende oggend met teleurstelling en ’n hoofpyn begroet word nie.
Vreugde is om die Heilige Gees toe te laat om ons te oorspoel. Al die oppervlakkige vorme van tydelike geluk te geniet vir wat dit is … tydelik.
Dit is om die vreugde in Christus oor grense te vat. ’n Missionale kerk te wees in KZN. Om nie Zoeloesprekende mense as ’n bedreiging te sien nie. Te ontdek dat hulle ons familie in Christus is. Om nood raak te sien in alle gemeenskappe. Om saam met ander ekumenies te reis en by hulle te leer wat vreugde is as jy honger gaan slaap.
Die feit dat die Afrikaanse NG Kerk ’n absolute minderheid is, het ons verplig om ekumenies fiks te wees. Ons is geroep om God se lig in KZN te skyn. Ons roeping plaas ons op die voorpunt om die missionale kerk te implementeer.
Tydens die sinode is verhale vertel van hoe kerkgeboue nuut aangewend word vir nuwe geloofsgemeenskappe. Durban is die stad waar die meeste Indiërs buite Indië woon. As gevolg van sendingwerk van die NG Kerk in die 60er en 70erjare van die vorige eeu, is meer as 30% van Indiërs in Durban nou Christene. Veel meer as die 10% Moslems in Durban.
Dit gee die Sinode van KZN hoop en vreugde.



Hoe meer ek lees van onse Jesus, hoe nader leef ek na hom.
Op my oudag het ek die vreugde dat die Jacobsgebied Sondagskool onder Hindoes deur CSV-tieners in 1950-jare nou wonderbaarlik onder groot genade ontplooi! Hier in Nieu Seeland in ‘n skool vir apirante sendeling het ‘n sekere student uit Durban spesiaal dank betuig vir die sukses onder sy mense in Durban.