Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Doret Niemandt gesels met Gerbrand Bodenstein: Om dominee te wees in die ‘eeu van egtheid’


Die rol van die kerk en dominee in die samelewing het oor die afgelope honderde jare baie verander. Waar die kerk eens op ’n tyd die middelpunt van die dorp was en jy nie sonder jou dominee se getuigskrif ’n werk kon kry nie, is die kerkgebou nou ingedruk tussen besighede en woonstelblokke en die dominee se opinie, wel, dit is net nie meer so relevant nie. As gevolg hiervan ervaar dominees vandag ’n identiteitskrisis, skryf dr Gerbrand Bodenstein in sy tesis met die titel “Die gereformeerde pastor in die eeu van egtheid”. Kerkbode het meer gaan uitvind.

 

In ons hedendaagse wêreld regeer daar ’n kultuur van “egtheid”, sê Bodenstein. Hy maak gebruik van Charles Taylor se beskrywing van die “eeu van egtheid” (age of authenticity) – dit is geskoei op die idee dat elkeen van ons sy/haar/hulle eie menswees moet ontdek en uitdruk. Geen raamwerke of invloede van buite kan op ons afgedwing word om vir ons te sê wie ons behoort te wees nie, nie die groter samelewing, vorige generasies, politieke ideologieë of enige kerk of godsdiens nie. Elke persoon is vry om hulle eie identiteit uit te kerf uit ’n magdom opsies om die “ware jy” te vind, “uniek” en “eg” te wees en uit te staan van ander. Die kompleksiteit van hierdie eeu van egtheid is dat jou gekose identiteit en uitdrukking daarvan slegs bevestig moet word deur ander, met ander woorde: niemand anders mag wie jy kies om te wees bevraagteken of vir jou sê dat wie jy kies om te wees verkeerd is nie.

Relevansie is net ’n simptoom van die ware krisis, sê dr Gerbrand Bodenstein. Die ware krisis wat die dominee vandag in die gesig staar is hoe ons dink oor God se rol in die wêreld. Die dominee voel ’n dringendheid om relevant te bly en wil die metaforiese bal nou in eie hande vat terwyl God na die agtergrond toe skuif.

LEES OOK | Dana Snyman: ’n Please-call-me van ’n vriend by ’n begrafnis

Dit is dan in hierdie komplekse wêreld, sê Bodenstein, waar die dominee bedien en hard werk om te probeer relevant bly. Waar die dominee eens op ’n tyd ’n hoë status en baie invloed gehad het, bevind die dominee hom-/haarself vandag op die rand van die samelewing. In hierdie soeke na plek en relevansie, ervaar die dominee ’n identiteitskrisis. Die maklikste manier om relevant te bly, is waarskynlik om in te koop in hierdie tydsgees waar niemand vir jou kan sê wat dit beteken om ’n mens te wees nie, om jy te wees nie. Jy moet dan self kies wat vir jou betekenis in die lewe gee. Die “relevante” dominee kan dan Jesus aanbied as die beste opsie of produk vir hierdie betekenis, die beste opsie of produk vir jou identiteit. Maar as Jesus net ’n produk of een van die opsies is, het ons regtig nog vir God nodig in die wêreld?

LEES OOK: Doret Niemandt gesels met Stefan Roos | Hoe om ’n ‘goeie dood’ te sterf

Relevansie is net ’n simptoom van die ware krisis, sê Bodenstein. Die ware krisis wat die dominee vandag in die gesig staar is hoe ons dink oor God se rol in die wêreld. Die dominee voel ’n dringendheid om relevant te bly en wil die metaforiese bal nou in eie hande vat terwyl God na die agtergrond toe skuif. Godsdiens raak ’n mooi lewensfilosofie en ons glo nie meer regtig dat God kan optree of aktief deelneem in die wêreld nie. Om daardie kerkbanke vol te kry, hang dus van die dominee af.

Die alternatief is moeiliker en nie goed vir die ego nie. Bodenstein stel voor dat dominees nie moet inkoop in die eeu van egtheid nie, maar weer God se aktiewe deelname in ons wêreld moet ernstig opneem. Bodenstein beskryf dit as om op God te wag. Ons is nie meer goed met geduld en om te wag nie, dit vat moeite. Dit is ‘n “aktiewe wag” op God om Homself in ons leefwêreld te openbaar.

LEES OOK: Marileen Steyn in conversation with Lynn Gibson | Death, where is your ritual?

In sy tesis noem Bodenstein verskeie situasies en ruimtes waar ons God gereeld kan raaksien as ons op Hom wag:

 

In lyding

Ons sien God werk wanneer ons langs iemand se hospitaalbed sit, sê Bodenstein. In daardie oomblikke van lyding en weerloosheid is dit asof al die pretensie afgestroop word en dit wat betekenis gee weer duidelik word.

 

In gebed

Ons sien God werk wanneer ons lidmate leer bid en saam bid en God in die middel sit, sê Bodenstein. Wanneer ons doelbewus ons fokus skuif en wag op die Here, dan antwoord die Here.

 

In eredienste

Ons moet die erediens declutter, sê Bodenstein. Ons hoef nie allerhande goed in te bou om dit betekenisvol te maak nie. Wanneer ons onsself uit die prentjie haal en God weer in die middel sit, dan is dit ’n ontmoeting met God, ’n ervaring van God. Die eredienste staan en val nie by oulike musiek en mooi prentjies nie, dit gaan oor die skep van ’n ruimte om saam bewus te raak van God.

 

In verhoudings

Ons moet ’n pad stap saam met mense, hetsy met vergaderings, huisbesoek, of koffie drink na kerk. God ontmoet ons tussen mense, sê Bodenstein.

 

Dominees hoef nie so hard te werk om relevant te bly nie. Sukses is nie ’n groot kerkgebou met baie lidmate en moderne branding langs die snelweg nie. Sukses is wanneer ons dit regkry om te wag op die Here. Wag beteken nie om niks te doen nie, maar om so te werk en te leef dat ons bewus is van God in die wêreld, want óns God is aan die werk in die wêreld.


  • Dr Gerbrand Bodenstein is predikant by NG Kerk Stellastraat.
  • Dr Doret Niemandt is predikant van die NG Gemeente Valleisig.
  • Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Doret Niemandt gesels met Gerbrand Bodenstein: Om dominee te wees in die ‘eeu van egtheid’”

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.