Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dana Snyman: ’n Please-call-me van ’n vriend by ’n begrafnis


Moses Makhondwane kom staan langs my by my skryftafel.

Dis my ma, sê hy. Sy het afgesterwe.

Die selfoon waaroor hy pas met iemand in Tswana gesels het, is nog in sy hand.

Ek staan op, sit my hand om sy skouer en sê die gewone, lam trooswoorde. Ai, Moses. Ek is jammer, Moses. Dis sleg, Moses. Sy was lank siek, sy ly nou nie meer nie.

“Hy wys vir my ’n foto van sy ma wat hy op sy selfoon het. ’n Vrou met ’n vriendelike gesig. Sanna Makhondwane.” Foto: Dana Snyman

LEES OOK: Nadia Marais: Die geskenk van stories

Met sy linkerhand se vingers vee hy die trane van sy wang af.

Hy wys vir my ’n foto van sy ma wat hy op sy selfoon het. ’n Vrou met ’n vriendelike gesig. Sanna Makhondwane.

Ek bel City Bug en bespreek ’n buskaartjie van Nelspruit af tot op Potchefstroom – die eerste bus wat in daardie rigting loop. Van Potch af sal hy met ’n taxi tot op Mahikeng, diep in die ou Wes-Transvaal, ry.

Dit is laatmiddag en ek weet nie hoe om Moses te troos nie.

Hoeveel kinders is julle, Moses? vra ek.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Jacqueline de Lange oor haar Kolkata in Pretoria

Twaalf, sê hy. Maar daar is net tien van sy broers en susters oor. Drie van hulle is al dood.

Hoe is hulle dood, Moses? vra ek, wat eintlik ’n simpel vraag is.

’n Kar het die een broer gestamp, sê Moses. Die ander broer het homself doodgemaak. Hy was een van ’n tweeling, maar sy tweeling-boetie is kort na die geboorte in die hospitaal oorlede.

Ek weet niks van Moses af nie, besef ek maar weer.

Eintlik weet ek weinig van hoe swartmense dink en leef. Dit pla my, maar ek doen ook nie juis veel daaraan om dit te verander nie. Soveel van my menings oor swartmense is as kind gevorm. Een van daardie menings is dat swartmense gedurig na ’n begrafnis toe gaan.

LEES OOK: So verskil Jesus se leefwêreld van ons s’n – Marius Nel

Moses se swaer, Johannes Bogosi, het tot met my pa se dood vir hom op Ventersdorp gewerk. Met ’n ompad het Moses by my op Kaapsehoop kom woon. Hy is baie kunssinnig en maak lappieskomberse en klere op die Bernina-naaimasjien wat ’n gawe vrou vir hom gegee het. Ons verkoop sy handewerk. Tussendeur hou hy die huis aan die kant en pas vir Blackie, my hond, op wanneer ek die langpad vat.

Is jy nie honger nie? vra ek vir Moses.

Hy verdwyn in my klein kombuis. ’n Rukkie later kom hy by die deur uit, met ’n toebroodjie in die hand. Die grondboontjiebotter peul by die kante uit.

Deur die venster sien ek hoe gaan sit Moses op die stoeptrappies en eet die toebroodjie terwyl die son agter Nkodwana se berge insak.

Die volgende oggend neem ek hom Nelspruit toe. Voor ons ry, gee ek my selfoon vir hom, en sê: Speel vir ons musiek, Moses.

Moses weet hoe Spotify werk. Gou weerklink Brenda Fassie se stem via Bluetooth oor die bakkie se luidsprekers terwyl ons bergaf ry. Barberton doer in die verte, wasig, soos op ’n uit-fokus-foto. Brenda Fassie sing gereeld in my huis.

Soon and very soon we are going toe see the King, sing sy.

LEES OOK: Labirinte – ’n uitnodiging om al wandelend te bid

Hoe het jou broer homself doodgemaak, Moses? vra ek nog ’n simpel vraag.

Hy het homself opgehang, sê Moses. Ons dink hy het verlang na sy tweelingboetie wat kort na sy geboorte dood is.

Op Nelspruit staan ek by City Bug se terminaal en wag tot Moses op die bus is.

Eintlik moes ek hom Mahikeng toe geneem het, dink ek terwyl ek terug huis toe ry.

Laatmiddag kom daar ’n SMS van Moses af oor my selfoon: Hy is veilig op Mahikeng. Ek probeer my voorstel hoe dit lyk waar hy nou is. Hy het al vir my ’n foto gewys van die huisie wat hy vir hom, sy vrou en twee seuntjies buite Mahikeng gebou het. ’n Sinkhut, in die middel van ’n jaart wat skoongevee is. Nêrens ’n kraan in sig nie.

Die volgende paar dae betrap ek myself dat ek knaend vir Moses bel. Wat gebeur nou daar? wil ek weet.

Hulle het ’n bees gekoop om te slag vir die begrafnis, sê hy.

Terwyl ek met hom oor die foon gesels, kraai ’n hoender op die agtergrond.

Het julle hoenders ook gekoop? vra ek.

Twintig, sê hy.

Die gehuggie waar sy pa en ma – sy pa leef nog – se huis is, se naam is Tsetse. Sy ma het ’n klomp vriende gehad en het baie mense geken. Omtrent die hele Tsetse gaan by die begrafnis wees.

LEES OOK: Luister hier | Prof Malan Nel vertel van die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974

Iewers tussen dit alles stuur Moses vir my ’n please-call-me. Kan ek nie vir hom ’n paar rand in sy Capitec-rekening inbetaal nie? Hy wil vir die manne wat hom gaan help om sy ma se graf te grawe kos en sigarette koop.

Die Vrydagaand voor die begrafnis antwoord Moses nie sy foon nie. Maar ek het hom reeds oor die aand se verrigtinge uitgevra. Die kis waarin sy ma lê, sal in sy pa-hulle se huis wees, in die slaapkamer. Daar sal mans en vroue wees wat sing en hardop met die Here praat, die Here bedank vir sy ma se lewe. Vieruur die oggend sal hulle die kis se deksel oopskroef dat hulle na sy ma kan kyk en haar vir oulaas kan groet.

Sesuur Saterdagoggend sal hulle die kis dra na die begraafplaas waar hulle sy ma gaan begrawe.

Saterdag, vroegoggend, sit ek by my skryftafel en probeer ek my die somber optog na Tsetse se begraafplaas toe verbeel. Moses en ander wat sy ma se kis op hulle skouers dra.

Ek kan nie onthou wanneer laas was ek op so ’n begrafnis nie, ’n tradisionele begrafnis met ’n teraardebestelling. Dit is ’n woord wat ek byna al vergeet het: teraardebestelling. ’n Kragtige, waardige woord.

Soveel mense wil deesdae veras word en wil hê hulle lewe moet in ’n restaurant of iewers gevier word. Met die minste formaliteite as moontlik.

Ek gaan na Spotify toe op my selfoon, skakel my Bluetooth-luidspreker aan en gaan maak vir my ’n grondboontjiebotter-toebroodjie in die kombuis.

I walk with you through the valley of death, sing Brenda Fassie toe ek op die stoep se trappe gaan sit, met my toebroodjie in die hand.

Op Tsetse naby Mahikeng word ’n kis nou die aarde in laat sak. Die Here het gegee en die Here het geneem. Rus in vrede, tannie Sanna.

Opeens voel dit vir my reg om só begrawe te word. Formeel.

Kan ’n mens iemand se lewe werklik vier voordat jy waardig respek betoon het aan die misterie van die dood en wat daarna kom?

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Dana Snyman: ’n Please-call-me van ’n vriend by ’n begrafnis”

  1. Ai, Dana, jy kan darem emosies saamrol in ‘n lekkerlees-, diepdink-storie. Baie dankie!

  2. Naude Lynne

    Dankie Dana vir die onthou van waardigheid by die groet van n geliefde, veral n ma. Wat n dag van verlies is dit nie as ons ouers verloor nie.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.