Hanri October se storie hoe sy haar kinderdroom om ’n onderwyser te word bewaarheid het, is ’n getuienis vir die jongmense van Melkhoutfontein in Stilbaai skryf Leroy Jooste van die Christelike maatskaplike hulporganisasie Badisa.
Hoe gemaak as jy jouself by ’n doodloopstraat bevind? Wanneer jy een oggend opstaan en slegs kan toekyk hoe jou hartsbegeerte saam met die laaste skemer opklaar. Dít is die realiteit wat die boorling van Melkhoutfontein in Stilbaai, Hanri October, vir ’n ruk lank in die gesig moes staar.
Lees ook: Badisa: Marietjie Buys – ’n verskilmaker wat jongmense se drome help waar word
As kind wou Hanri altyd ’n onderwyser wees, maar sy het dikwels gewonder hoe dié droom binne die perke van haar klein gemeenskap sou realiseer. Sy het die swaarkry immers self gevoel en het telkemale gesien hoe ander jongmense húl passie vir oorlewingsredes moes prysgee. Hanri was dus op geen uitkomkans gewaarborg, maar haar gewete sou haar nie selfs dié verskoning ontsien nie. Sy moes vertrou dat God ’n weg vir haar kleinkinddroom in die grootmenswêreld sal baan.
Die pragbeeld van Hanri wat voor ’n groep leerlinge staan, besig om ’n les aan te bied, het grotendeels haar vordering op skool gemotiveer. Dit was daarom ’n groot terugslag toe Hanri haar ma reg aan die begin van die skooljaar in Januarie 2012 verloor het. Dit sal seker moeilik wees om die dood van ’n moeder op ’n tienerdogter se welstand te omskryf. Tog glo ek dat almal weet hoe seer die afwesigheid van ’n eens aanwesige liefde is, en as tiener moes Hanri reeds leer om hierdie leemte te begryp. Hanri was gedwing om die res van haar tienerjare sonder ’n moederfiguur aan te pak, terwyl haar pa (’n ambagsman) sy bes gedoen het om beide rolle te vervul. Nietemin het Hanri getrou aan haar toekomsplan gebly. Sy het steeds gedroom om die skoene van ’n onderwyser vol te staan en beskryf dié beroep as haar “eerste en enigste opsie”. Hanri het die uitdagings in haar gemeenskap eerstehands gewaar en wou juis ’n getuienis vir die jongmense in dié gemeenskap wees. Dit was daarom ’n reuse-tree vorentoe toe Hanri haar matriekjaar in 2015 by die Gerrit du Plessis Sekondêre Skool voltooi het.
Dit was egter ’n groot teleurstelling toe Hanri nie haar studies in 2016 kon voortsit nie. Die gevolg is dat sy vanweë die gebrek aan studie- en befondsingsgeleenthede by die huis moes bly. Hanri het toe besluit om haar vrye tyd as ’n periode vir introspeksie en selfontwikkeling te benut. Sy het van die verskeie opleidingsklasse te hore gekom wat by Ouma Lena se Huis, ’n program van Badisa Stilbaai, in Melkhoutfontein aangebied word. Dié gebou is deur die tagtigjarige Me. Lena Viljoen geskenk en is amptelik in 2009 vir gemeenskapsontwikkeling ingerig. Die gemeenskapsgedrewe ontwikkelingsprogramme wat aangebied word, het onder meer leesprogramme vir kinders, dansklasse, gholflesse by die Stilbaai Gholfklub en rekenaargeletterheidsklasse ingesluit. Die studente van die laasgenoemde klas het ook ’n “Sertifikaat van Rekenaarvaardigheid” ontvang, om hul kans op indiensneming te versterk. Hanri het dit goedgedink om haar rekenaarvaardighede hier te verskerp en dit is ook die plek waar sy ’n vertrouensverhouding met Marietjie Buys opgebou het.
Marietjie het rekenaargeletterheidsklasse by Ouma Lena se Huis aangebied, nadat sy en haar man met aftrede na Stilbaai verhuis het. Marietjie het vir jare in Stellenbosch gewoon en as finansiële bestuurder by die Universiteit Stellenbosch Sentrum vir Pedagogiek (SUNSEP) in die Fakulteit Opvoedkunde gewerk. Hier het sy deur middel van die SciMathUS-program met verskeie studente te doen gehad, wat in voorheen benadeelde gemeenskappe grootgeword het. Marietjie het dus herhaaldelik gesien hoe studente met volhoubare ondersteuning en hulpbronne hul akademiese prestasie kon verbeter. Dit is uiteindelik dieselfde groeigeleentheid wat Marietjie aan Hanri wou gun. Tydens ’n onderhoud noem Marietjie dat sy Hanri se ywerigheid, intelligensie en spontaniteit reeds vroeg opgemerk het. Boonop het Hanri vrywilliglik ingespring om haar mede-studente tydens klasse te help.
Toe Marietjie meer van Hanri se situasie te wete gekom het, het sy en haar man saamgespan om Hanri se droom te ondersteun. Hulle het Hanri met aansoeke by drie universiteite bygestaan en saam gevier toe sy vir ’n B-Ed graad by die Universiteit van Wes-Kaapland aanvaar is. Hiernaas het Hanri haar gemeenskap agtergelaat om die vreemde baas te raak. Hanri het deurentyd in kontak met Marietjie gebly, wat haar ook finansieel tydens die proses bygestaan het.
Hanri beskryf die lewe op kampus as ’n “massiewe aanpassing” en noem dat die Engelse klasse een van die grootste uitdagings was. Sy is immers van ’n klein Afrikaanse dorpie waar sy byna elke gesig en naam geken het. By die Universiteit van Wes-Kaapland is sy deur die gejaag van die stadslewe met sy verskeie tale en kulture omring. Dié flukse jongdame het egter baie vinnig die nuwe ruimte bemeester, die beursvereistes nagekom en haar B-Ed graad suksesvol voltooi. Volgens Hanri het sy ook groot inspirasie uit haar pa se ondersteuning geput, wat tot oor die ouderdom van 60 jaar gewerk het om haar te ondersteun. Op hierdie stadium het Hanri geweet dat God se plan vir haar lewe, die verrykendste pad was wat sy kon neem.
Vandag is Hanri terug in Melkhoutfontein en ontwikkel sy elke dag die verbeelding van jong leerlinge. Hanri glo dat sy geroep is om as baken vir die jonger generasie te dien: “Ek wou fisies betrokke word in die bou van die toekoms”. Sy spreek met nederigheid haar dankbaarheid teenoor Ouma Lena se Huis, haar pa en Marietjie Buys uit en werk elke dag om dieselfde hoop in jongmense te kweek. Op die ouderdom van 26 jaar is Hanri die trotse moeder van ’n tweejarige dogtertjie Haylen en beskou sy Marietjie Buys as familie. Vandag is Hanri se grootste droom dat meer kinders uit die gemeenskap sal styg en ’n verskil in ander se lewens sal maak: “Saam kan ons soveel meer vermag!”.
- Badisa se vrywilligers maak op verskillende maniere ’n positiewe verskil in die lewens van mense in hulle gemeenskappe. Besoek Badisa se webblad om meer uit te vind. Leroy Jooste is ’n fondswerwer by Badisa.
- Hierdie artikel verskyn as deel van ’n inhoudsvennootskap tussen Kerkbode en Badisa.