Met die dood van dr Willem van Zijl (91) op 12 Julie 2024, groet ons ’n leraar wat in sy leeftyd bekendheid verwerf het as uitvoerende voorsitter van die NG Kerk-Uitgewers (NGKU).
Dr Willem en die briljante ds Norval Geldenhuys (1918-1964), is na my mening twee leraars wat die afgelope eeu in Suid-Afrika, meesters was om die Christelike boek in studeerkamers en huise van lidmate te bring. Elkeen se invloed in die boekewêreld en uitgewersbedryf is onbeskryflik groot, wat elkeen ’n legende in hulle leeftyd maak.
Willem Jacobus van Zijl is op 3 Augustus 1932 gebore in die distrik Albertinia en studeer op Stellenbosch waar hy einde 1956 gelegitimeer word. Hy bedien die NG gemeentes Robertson en Port Elizabeth-Sentraal en word in 1966 besturende direkteur en in 1979 uitvoerende voorsitter van die NGKU.
LEES OOK: Universele basiese-inkomste-toelae: Ook NG Kerk wys steun vir plan wat siklus van armoede wil breek
In 1992 raak hy betrokke in die tentmakerbediening by Ebenhaeser, waar hy in 1996 sy emeritaat aanvaar. Hy verwerf ’n doktorsgraad in die Teologie op Stellenbosch met die tema: “’n Kerkhistoriese bibliografiese studie van die boek as draer van die Nederduitse Gereformeerde belydenis in Suid-Afrika, 1652-1965”. Dit word in 1992 uitgegee in boekvorm: Van seepkis na wakis na boekrak.
Ds Willem van Zijl het in die 1970’s en 1980’s die NGKU uitgebou tot ’n sterk uitgewery met kleinhandelafsetpunte in al die groot stede. ’n Depot is ook by die Kweekskool op Stellenbosch geopen, wat verseker het dat in die hoogbloeityd van groot klasse studente boeke kon koop. Talle teologiese handboeke word uitgegee en verkoop, terwyl boeke van ds Solly Ozrovech en ds Izak de Villiers soos soetkoek verkoop. Die NG Kerk se Psalm- en Gesangboek van 1978, is onder leiding van ds Willem uitgegee en het bygedra tot die finansiële sukses van die uitgewery. Die NGKU en sy sustersmaatskappy Lux Verbi, leef as ’n druknaam van NB Uitgewers voort. Na dr Willem se aftrede is hy opgevolg deur ds Stephan Spies, ’n boorling van Schoemanshoek waar ons grootouers kerklik meeleef in die NG Gemeente Kango-Valleie. Met sy entoesiastiese wakker sakebrein, is hy as jong leraar ’n waardige opvolger van ds Willem van Zijl.
LEES OOK: Andrew Kok, ontsluiter van die NG Kerk se geheue, gaan groet
Prof Johannes Froneman skryf: “Willem van Zijl was ’n vernuftige sakeman wat sy leserspubliek goed verstaan het. Met ’n Bertha Smit as redaksiehoof aan sy kant, kon hy ’n wesenlike bydrae maak tot die Christelike boek in Suid-Afrika. Daarvoor kan hy gerus onthou word”. Hy was ’n merkwaardige man met ’n eiesoortige uniekheid in die boekebedryf. Prof Pieter Potgieter onthou ds Willem as ’n briljante strateeg en voorsitter, ’n innemende mens met waardes wie se ingebore liefde vir boeke legendaries is. ’n Merkwaardige mens met ’n eiesoortige uniekheid.
Dr Willem van Zijl se herinneringsdiens in die Strand, word waargeneem deur sy vriend ds Kobus van der Westhuyzen. Hierdie begenadigde man van God en voorheen van die Groote Kerk in Kaapstad, bring die trooswoord uit die Heidelbergse Kategismus, oor ons enigste troos in lewe en dood. Dit bring groot troos aan dr Willem se vrou Arina, familie en vriende.
By geleentheid is ons by ’n kerklike dinee in Kaapstad wat deur die NGKU aangebied word. Saam aan tafel is ds Solly Ozrovech, prof Pottie Potgieter, prof Tobie Hanekom, prof Johan van der Merwe (Hugenote Kollege) en argivaris ds AP Smit. Na ’n gesprek oor of daar boeke in die hemel sal wees, voel ons ongemaklik in die teenwoordigheid van Johannes Calvijn se regterhand in Suid-Afrika, die alom geliefde oom Pottie Potgieter van Stellenbosch.
Op daardie oomblik sluit die sjarmante gasheer, ds Willem van Zijl by ons aan en herinner ons dat daar in Maleagi, die laaste Bybelboek in die Ou Testament en in Openbaring, die laaste boek in die Nuwe Testament, geskryf word oor die gedenkboek wat geopen word en oor die boek van die Lewe met ons name daarin. Die spanning is gebreek. Wens ek kon vir oom Willem van Zijl vandag vra: Is daar boeke in die hemel?