Beweeg stadig en wees deeglik. Hou almal ingelig en wees eerlik, ook oor dit wat jy as leraar en die kerkleierskap nie weet nie. Leef ’n kultuur in van ‘ons’ in plaas van ‘ons s’n’ en ‘julle s’n’. Dit is van die lesse wat hy en sy lidmate geleer het in die sowat vyf jaar wat ’n Afrikaanse NG gemeente en ’n Engelse Presbiteriaanse gemeente ’n pad saam loop om een gemeente te word. So vertel ds Deon Strydom van die Stutterheim Verenigde Gemeente / United Congregation in die Oos-Kaap.
Stutterheim: Bosboudorp tussen die ou Ciskei en Transkei
Hierdie is ’n bedrywige dorp met vier of vyf saagmeule, ’n hoenderplaas en melkerye wat tel as groot werkverskaffers. Die munisipale bestuur is aan en af, soos ’n mens kan sien aan die paaie se slegte toestand en soms swak watertoevoer. So vertel André en Hanlie van Deventer, ’n afgetrede paartjie wat al 33 jaar woon in die skilderagtige dorp aan die voet van die Amatolaberge, tussen die ou tuislande, die Ciskei en Transkei.
Hier is ook ’n klomp klein kerkies. Heelwat van hulle leierskap dien op ’n ‘fraternal’ wat jaarliks met groot geestelike dae soos Lydensweek saam ekumeniese geleenthede aanbied. So lidmate uit verskillende kerke ken mekaar al is dit net van sien, sê Rina, Strydom se vrou en skoolhoof by ’n privaatskool op die dorp.
’n Mens beleef by hulle twee ’n sterk pragmatiese ingesteldheid. Deon (65) vertel hulle het die NG Kerk se ruim pastorie in drie of vier woonstelle opgedeel om dit uit te verhuur as ’n manier om hulle gemeente se inkomste aan te vul. Ook die kerk se saal en kerkgebou is oop vir gebruik deur almal van plaaslike kleuterskole tot die polisie – teen ’n klein bedrag. Hy hou ook sy lyf koster en in Covid-tyd het hy selfs ’n jaar lank skoolgehou toe die pandemie die kerk se finansies geknyp het.
Voor hulle so 15 jaar terug hier kom woon het, was hy onder meer gelyktydig leraar van drie VGK-gemeentes in die voormalige Transkei. Dié ervaring glo hy het hom baie gehelp in die afgelope proses van eenwording.
Twee klein gemeentes wat sonder leraar sou wees
Hy vertel dat hy en die Presbiteriane se leraar, rev Ian Hawkridge, mekaar hier leer ken het. “Al het ons in persoonlikhede baie van mekaar verskil, was ons op dieselfde bladsy, naamlik dat ons altwee gevoel het dit eer nie die Here dat daar soveel klein kerke is op ’n dorpie soos ons s’n nie,” vertel hy en noem dat hulle ook in 2012-13 saam ’n missionale MTh aan Stellenbosch gedoen het.
Hulle gemeentes se stories het ook ooreengestem. Altwee was ouerwordende gemeentes met dalende lidmaatgetalle en krimpende kinderbedienings. Nie een was meer in die vermoë om weer ’n voltydse predikant te kon beroep wanneer hulle huidige leraar binnekort sou aftree nie.
Lees ook: Gqeberha se stadsgemeentes soek saam na oplossings vir krimpende kinderbedienings
Strydom noem ook dat hulle NG gemeente ook by die plaaslike VGK asook ’n naburige NG gemeente met ’n vakante predikantspos navraag gedoen het of hulle sou belangstel in ’n samewerkingsooreenkoms maar die antwoord was nee.
In 2019 het die leierskap van Stutterheim se NG en Presbiteriaanse gemeentes toe saam besluit om ’n proses te begin met eenwording as einddoel. ’n Span het ook gaan kyk hoe werk ’n NG en Presbiteriaanse gemeente wat al vir 22 jaar ’n soortgelyke samewerkingsooreenkoms het op nog ’n Oos-Kaapse dorp, Bedford.
Tydens die Covid-pandemie het die proses ’n bietjie spoed verloor, maar in 2022, die jaar wat Hawkridge afgetree het, was daar nuwe erns om die gemeentes bymekaar uit te bring.
Strydom het in daardie jaar begin om afwisselend Engelse en Afrikaanse dienste te hou in die kerkgeboue van die twee gemeentes wat hulle herdoop het na Toringkerk (NG) en Houtkerk (Presbiteriaans). Hy en sy vrou het ook kort hierna hulle intrek geneem in die pastorie van die Presbiteriane, ’n gebaar wat veral die Engelse lidmate laat voel het hy is nou regtig ook hulle leraar. Soos Verity Nicholas, kerkraadslid en jarelange Engelse lidmaat dit stel, “suddenly he was right there next to our church, it made a great difference to our mindset”.
Die twee gemeentes het onder ’n nuwe naam, Stutterheim Verenigde Gemeente/ United Congregation, begin saamwerk as een gemeente met een WhatsApp-groep, een kerkkalender en een kerkraad.
Bewyse van sukses? Wat sê die mense?
Erediensbywoning klim stadig en wissel tussen 40 en 70 maar daar is vir die eerste keer in jare weer ’n Sondagskool. Die eens Afrikaanse NG Bybelstudiegroep by ’n plaaslike aftreeoord is ook nou ’n ekumeniese een wat deur dubbel soveel mense bygewoon word. Altwee gemeentes se barmhartigheidsbedieninge is verenig in ’n Care Group wat bekend is daarvoor dat hulle hart oop is vir die hele gemeenskap. Die twee gemeentes het ook al ’n paar keer saam basaar gehou wat ’n nuwigheid was vir die Engelse lidmate.
Beperkings van die projek?
Om in jou moedertaal te kan aanbid is iets wat vir baie gelowiges na aan die hart lê. Daar is dan ook sommige wat steeds net die dienste bywoon wat in hulle moedertaal is, maar die meeste lidmate is tevrede dat Strydom met elke diens sy preekteks in beide tale op ’n skerm wys. Soos Van Deventer opmerk, “as ’n mens met ’n oop gees en gemoed gaan, gaan die Here met jou praat”.
Lees ook: Kerk wat werk-reeks: ‘Ons glo projekte moet onafhanklik word’ | Fokus op NG Kerk Pongola in KZN
Daar word soms gesê dat ’n dominee te goed is. In hierdie geval hoor ’n mens by Engelse sowel as Afrikaanse lidmate onsekerheid of hulle nuwe leraar al die rolle wat Strydom met soveel toewyding en energie vervul sal volhou na laasgenoemde se beplande aftrede in Januarie 2026. By navraag sê Strydom dit is nie iets wat hom bekommer nie. Hy vertel hy is reeds besig om van sy take as Bybelstudieleier en koster te delegeer. Verder is hy ook al in gesprek met ds Danie Mouton van die sinodale kantoor om die gemeente volgende jaar te help met die opstel van ’n leraarsprofiel voor hulle beroep.
’n Ander teer puntjie blyk te wees die toekomstige gebruik van die historiese Houtkerk wat groot sentimentele waarde inhou vir van die Engelse lidmate. Strydom noem daar is ’n gevoel by sommige dat die Toringkerk vorentoe meer geskik sal wees vir eredienste omdat dit groter is met ’n goed toegeruste saal en kombuis langsaan op ’n groot terrein. Hy meen egter dit is ’n besluit wat sou kon wag. Daar is egter geen dringendheid om hieroor te besluit nie, sê hy.
Dit het gewerk
’n Mens hoor by almal op die nuwe gesamentlike kerkraad groot waardering dat hy moeite geneem het om almal deurlopend ingelig en deel van die proses te hou. Strydom vertel dit was reg van die begin af vir hulle baie belangrik dat die proses deursigtig moes wees. “Ek het stadig beweeg om twee redes: ek wou niemand agterlaat nie en ek wou seker maak die proses word so deeglik moontlik deurgevoer,” vertel hy.
Dit het hy op verskillende maniere gedoen wat insluit die hou van gesamentlike werkswinkels vir altwee kerkrade, huisbesoeke, die skep van een gesamentlike WhatsApp-groep vir al die lidmate en die uitbring van een kerkkalender. Geleenthede is geskep waar mense goed saamdoen soos koffie drink na dienste, bring-en-deel-etes sommige Sondae asook die saamhou van die basaar.
Dit geld ook die keuse en aanbieding van musiek tydens eredienste. By die Engelse diens is daar kitaarbegeleiding en in die Afrikaanse diens word gesing saam met musiekvideo’s (hulle het al jare nie meer ’n orrelis nie). Strydom vertel hy sorg dat daar liedere uit beide tale tydens elke diens gesing word.
Wat ’n mens ook by altwee taalsprekers optel is ’n besef dat as hierdie eenwording nie gebeur het nie, het nie een van die twee gemeentes meer ’n kerk gehad nie. Soos jarelange Engelse lidmaat, Lyndon Hall, opmerk, “Dit is die bottomline,” met Van Deventer wat met hom saamstem en byvoeg: “Daarom is dit die beste ding wat kon gebeur.”
Raad aan ander gemeentes
Strydom het ’n verslag opgestel oor hulle gemeente se eenheidsproses wat hy ook vir Kerkbode beskikbaar gestel het. Hieruit ’n paar van die insigte wat hy uitlig:
- Beweeg teen die spoed van jou mense. Moet niks forseer nie. Praat eerder nog ’n keer saam en beweeg stadiger as om mense te verloor.
- Skep geleenthede waar mense goed saamdoen.
- Vier die verlede – moenie dit misken nie.
- Hou alle kommunikasie en besluite so deursigtig en gereeld as moontlik.
- Wees eerlik as leraar en kerkraad dat julle nie ‘eksperte’ is nie en dus by geleentheid dinge probeer met hierdie “work in progress” waaroor julle nie seker is nie.
- Roeping: praat gereeld saam rondom julle roeping as individuele gelowiges asook as gemeenskap van gelowiges op Stutterheim.