Ons is in die Hantam vir ’n proeferediens van ’n finalejaarstudent. Voor die diens begin is ons saam met die kerkraad in die konsistorie.
Van agter die ou houtdeure dreun dit in die kerk. Die praise-and-worship-span en gemeente sing “koortjies”.
Koortjies is kort liedere, gewoonlik net enkele versreëls lank, wat op ’n herhalende en meestal opgewekte ritmiese wyse met handeklap gesing word. Byvoorbeeld, toe ons instap sing ons “Heerlik, heerlik, sal die vreugdetoon, eenmaal klink waar vrygekooptes woon, waar ons vergader rondom die troon …” En ek dink iets van my eie gemoed deel die meeste mense wat nou sing. Dit was ’n laaaang week. Maar die lied sê “ten spyte van” jou week, ten spyte van jou maand en jaar, ten spyte van jou lewe … eendag en heerlik en dit kan nou reeds geproe word.
Dan volg die formaliteite. En ’n proefpreek. Na elke spreker se bydrae word nog ’n koortjie gesing, ook na die preek. Die dominee vra ’n ouderling wat die student en sy mense goed ken, om ’n dankwoord te spreek.
“Sukses behels nie wat jy bereik in die lewe nie,” sê die ouderling oor die student. “Dit gaan by uitstek oor die uitdagings wat jy kon oorkom”. En op ’n diep vlak is dit so waar van hierdie jongman. Die eerste uit hierdie gemeente in die Hantam om sy teologiese studies te voltooi, verneem ons. Ook dat sy “Maama”, soos die mense in die geweste na ’n kind se ma verwys, dood is toe hy net ses was. Sy pa, ’n plaasarbeider, was toe alleen met twee klein seuntjies. Ook sy ma wat hy daarna gekry het, verneem ons, is ’n engel van die Here. Dit was nie maklike grootwordjare nie, maar vanoggend vier ons “ten spyte van”. Pa is vanoggend ook in die diens en glimlag groot. En die engel ook.
Sy preektema was “leef ’n lewe van lof, want dit is God se stryd, nie myne of joune nie”. Hy het gepreek uit Kronieke, en ons kon maar luister. Hy ken teologie, maar hy ken op ’n diep vlak ook die lewe. Dit is ’n proefdiens, so dit is dus vanoggend eintlik ’n eksamen wat afgelê is. Maar ons rooipenne het in die binnesakke van ons pakke gebly, want ons vier almal vanoggend die “ten spyte van” van hierdie student, maar heimlik eintlik ook ons eie “ten spyte van”. Al wat vanoggend rooi is, is die tulpe in ons verbeelding, want soos die voorsitter van die kuratorium ons vroeër ingelig het, beteken Hantam “die plek waar die rooi tulp groei”.
Lees ook: Frits Gaum sterf op 84
Die kernboodskap van die student oor ’n lewe van lof, was “ten spyte van”. Ons hoor ook by die ouderling dat die jong prediker se lewe ’n beliggaming daarvan is. En die koortjies wat regdeur die diens gevleg word, pas perfek by die boodskap. Soos wat ons sing besef ek al hoe meer dat die gemiddelde koortjie se boodskap ook “ten spyte van” is. Maar dit is nie ’n leë “ten spyte van” waaroor die koortjies gaan nie. Nee, “omdat Hy leef, sien ek kans vir môre”. “Ten spyte van” het inhoud. Dit is Iemand, soos die koortjie “en baie diep haal Hy my uit” ook lui. Ja, “ten spyte van” gegrond op “Blye versekering” volgens ’n ander koortjie. En deurgaans is daar koortjies wat die ruwe kante van die lewe erken en verwoord, wat aan die ten spyte van wat woorde gee, soos “Bitter is jou stryd”, “Die donker tonnel is lank”, “Here, help my hierdie keer”, “Al woed die storms om my”.
Ons sit na die tyd in ’n stampvol kerksaal en eet skaaptjops en roosterkoek. En in die samesyn beleef ons “Sukses behels nie wat jy bereik in die lewe nie, dit gaan by uitstek oor die uitdagings wat jy kon oorkom”. Die koortjies beaam dat sukses oor “ten spyte van” gaan. Soos een koortjie se refrein tereg lui: “Ek het te ver gekom om nou hier om te draai”. Of soos ons jong prediker ons herinner het … dis nie jou stryd nie.
Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.