“Vergadering, julle is in die hande van twee boere.” Met hierdie woorde het ds Marais Kluge as nuutverkose voorsitter die meer as 100 afgevaardigdes verdaag vir ’n nagmaaldiens om die amptelike opening af te sluit van die 22ste sinodesitting van die NG Kerk in Noord-Kaapland wat van 6 tot 9 Oktober plaasvind in Kimberley.
Dié emeritus-tentmakerdominee, wat tussen sy eerste gemeente en die huidige een in die Vaalhartsbesproeiingskema ook jarelank bees- en -skaapboer was, gaan, soos die tradisie is in hierdie oorwegend plattelandse sinode, slegs as voorsitter optree vir die duur van hierdie kerklike saamtrek vir 84 gemeentes (waarvan 14 gemeentes, so is verneem, Sondagaand nog nie afgevaardigdes gestuur het nie).
Lees ook: Buitengewone sinode: Vrystaters stem vir eenheid ten koste van bevestiging van verbintenisse
Die kerklike streek van meestal klein plattelandse gemeentes het nie ’n sinodale kommissie of moderamen soos van die ander sinodes nie. Die sinode wys die predikant in sinodale diens en die voorsitters van die onderskeie sinodale taakspanne aan om tussen sinodes sodanige rol te vervul.
Kluge is van ’n klein plattelandse gemeente, NG Noorderharts (sowat 10 km van Hartswater af) en sy pasverkose ondervoorsitter, diensleraar (en oud-boer), Tienie Swanepoel, is van NG Gemeente Mareetsane in Noordwes.
Een van sy lidmate is ’n jong ma, Susan van der Linde, wat die vergadering bywoon saam met haar babadogtertjie, Roné. Die kleinding se ma is een van vier bedienaars, waarvan drie vroue, wat bevestig is tydens die nagmaaldiens gelei deur ds Louwtjie Louw. Die ander is Marietjie Stols (Kalahari-gemeente), Lorraine Botha (Strydenburg-gemeente) en Stephen Bennie (Noorderharts-gemeente).
“Dit is die toekoms,” het een leraar na die tyd aan ’n ander opgemerk.
’n Verslag in die agenda blyk die sentiment te onderskryf. Dit lui dat daar reeds 23 gekwalifiseerde bedienaars is in hierdie sinode wat een van die loodsstreke was waar hierdie nuwe teologiese kursus aangebied is. Dit staan positief gegewe ’n scenario dat die aantal beskikbare NG leraars al minder word – tans sowat 900 vir die 1 070 gemeentes van die NG Kerk, soos aangedui in die 2024 Jaarboek van die NG Kerke.
Wat in praktyk hier uitspeel is klein gemeentes wat kan toemaak, of dalk een keer per maand ’n diens het omdat hulle ’n leraar deel met ’n gemeente op ’n naburige dorp wat sover as 100 km weg kan wees.
Nog besprekingspunte sluit temas in soos:
- ’n Herbekyk van emeritusleraars se verpligte aftrede op 65.
- Bekommernis oor uitbranding onder nuwe Woordbedienaars/diensleraars asook ’n versoek vir toestemming om nagmaal en doop te mag bedien.
- Gemeentes wat finansieel swaarkry en verligting versoek van agterstallige bydraes aan die sinode.
- Tafelgesprekke oor die aard en gestalte van kerkverband.
Die teks vir hierdie week se saamtrek kom uit Efesiërs. Ds Gert Barnard van NG Gemeente Louisville het as leraar met die langste jare diens met Skriflesing uit hierdie boek en gebed die vergadering Sondagmiddag geopen in die ruim saal van die NG Gemeente Kimberley-Vooruitsig.
Louw het vanuit dieselfde boek in sy boodskap gesê sy bede vir hierdie sinode is vir ’n oop gemoed vir die nuwe dinge waarmee God in hulle streek besig is. “Here, verlig die oë van ons hart …” het hy onder meer gebid in ’n diens waarin hy Engels en Afrikaans afgewissel het ter wille van die Engelstalige leraars en kerkraadslede onder die afgevaardigdes.
- Hou Kerkbode se webtuiste en sosiale media dop vir nog berigte en foto’s.