Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Pieter de Jager van Reddersburg skryf: As afgevaardigde na die onlangse spesiale sinode van die NG Kerk in die Vrystaat betrag ek dat ’n godsonterende verwydering tussen lidmate toeneem.
So sou dit ook voorgekom het in die gemeente van Korinte waarheen die apostel gestuur is rondom 55 nC. Hy het hulle samekomste nie geprys nie, veral nie tydens hulle nagmaalsvieringe nie. “Dit sal vir julle meer kwaad doen as goed” (1 Kor 11:17). “Daar moet onvermydelik groeperinge (haireseis) onder julle kom, sodat dit duidelik kan word wie die beproeftes onder julle is” (vers19).
Hierdie woord strek veel dieper as die woord “schismata” wat in vers 18 voorkom en as “verdeeldheid” (1983) en as “onenigheid” (2020) vertaal word. Wanneer groeperinge uitgewys word (haireseis), het dit die ingrypende betekenis van dáárdie skeuring wat in die wêreld van die sektarisme floreer. Dan gaan dit om ’n werk van die vlees, die ou natuur van die mens, teenoor die vrug van die Gees (Gal 5:20).
LEES OOK: NG Kerk Vrystaat: Só sê sinodegangers ná vergadering in Bloem
Die kerk beweeg op ’n gevaarlike afgrond. Kompromieë word gemaak om die eenheid van die kerk te laat stand hou, maar ten koste van die waarheid van die Woord waaraan so baie lidmate van die kerk nog vashou. Predikante word versoek om (liewer) nie selfdegeslagverbintenisse (SGV) te bevestig nie, om welwillend op te tree teenoor dié wat met jou verskil. Sou dit beteken dat predikante dan paartjies die seën van die Here ontsê? Hierdie “goue middeweg” van die lou-warm Laodisea-gemeente in Openbaring 3:15 word ’n hoofweg waarvolgens allerhande toegewings gemaak kan word om die ou natuur van die mens te streel. “Diegene wat ek liefhet, berispe en tugtig Ek, wees dan ywerig en bekeer jou” (vers 19).
Elke gemeente is volledig deel van die gemeenskap van heiliges, so ook elke lidmaat. Ons praat van ’n “ecclesia completa” wat volledig toeganklik vir mekaar is. Hulle is “locus standi” op mekaar gerig, bevoeg om in alles voort te gaan met die gawes en talente ontvang. Ongelukkig gun die VS dit nie vir almal nie in die lig dat hulle die Koinonia Sinode as forum van die beswaarde gemeentes nie erken nie. Die voorsitter het bloot die standpunt van die AS herhaal en eintlik so te kenne gegee dat die VS nie ’n volwaardige sinode kompleta is nie.
Die uitslag van die stemme op die AS dui op ’n onrus binne die Vrystaatse kerk wat tekenend is van die hele NG Kerk wat wil terugkeer na die gesag van die Woord. Daar word in groepe van die dolerende gemeentes en ander lidmate reeds gebid om herlewing wat hier moet begin en kan oorspoel saam met ander volke, tale en nasies na die eindes van die aarde. Kom, Here Jesus! Erbarm U oor ons!
