The spirit of leadership: Insights from business and faith deur Reuel J Khoza
Uitgewer: Penguin Random House South Africa, 2024
Resensent: Frederick Marais
Hierdie is só ’n ambisieuse boek dat ek by voorbaat gewonder het of dit nie gedoem is tot veralgemenende oppervlakkige gemeenplase nie? Wie waag dit om besigheid en geloof so direk met mekaar in verband te bring? Wel, dit is gelukkig nie, onder andere omdat die skrywer se ervaring en opleiding lees soos ’n onwerklike samevoeging van dissiplines en professionele ervaring.
Die skrywer, dr Reuel Khoza, is van dié mees prominente Suid-Afrikaanse sakemanne en -leiers van ons dag. Hy is ’n korporatiewe voorsitter en uitgesproke meningsvormer. Hy is tans onder andere voorsitter van Discovery Bank, president van die Instituut van Direkteure Suider-Afrika, kanselier van die Universiteit van KwaZulu-Natal, voormalige voorsitter van onder andere Eskom, Nedbank en was betrokke by die formulering van die King-kodes oor korporatiewe bestuur. Sy kwalifikasies is in uiteenlopende rigtings soos sielkunde, bemarking en besigheidsleierskap.
Die boek begin dramaties met ’n brief wat dr Khoza in 1999 as voorsitter van die Eskom-direksie geskryf het vir die eeufeesvieringe van Eskom in 2023. Die brief is bewaar, en by ’n gepaste geleentheid in 2023 oopgemaak en gelees. In die brief voorspel dr Khoza dat teen 2023, Suid-Afrika en Eskom sal terugkyk hoe die groot uitdagings van ons samelewing suksesvol die hoof gebied is.
Die kontras tussen sy optimistiese voorspelling in 1999 en die werklikheid van 2023 kon nie groter gewees het nie, en dit is waaroor hierdie fassinerende boek gaan. Wat het verkeerd geloop en hoe maak ons dit reg?
Hierdie is ’n boek vir Suid-Afrikaners wat op soek is na ’n gids wat waag om met eerlikheid die foute van onder andere korrupsie in die oë te kyk sonder om te verval in pessimisme. Het ek saamgestem met alles? Nee. Is ek bly ek het die boek gelees? ’n Besliste JA.
Beskikbaar by meeste boekwinkels.
Dr Frederick Marais is Dekaan: Skool vir Sosiale Innovasie by die Hugenote Kollege op Wellington.
