Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Johan Brink (Goudland Sinode) skryf: Met die Algemene Sinode van 2019 word in die agenda gepraat van ons “vasgelooptheid” rondom die besluite oor SGV (selfdegeslagverbintenisse). ’n Mens het gedink die stof sal al ’n bietjie gaan lê rondom die SGV-besluit van die Algemene Sinode en dat daar groter rustigheid in ons kerk kom. Dit blyk egter nie die geval te wees nie. Kyk net na die groot verdeling wat duidelik gewys het in die stemmery tydens die afgelope buitengewone sitting van die Vrystaat Kerk.
Is daar ’n oplossing moontlik?
Ek dink Goudland Sinode het vir die NG Kerk een moontlike oplossing gegee.
Die ASM het by meer as een geleentheid gesê dat Goudland die NG Kerk ’n guns gedoen het deur ons gesprekke met die vorige ASM en ons besluite wat ons geneem het.
Hoe lyk die NG Kerk se struktuur?
Die NG Kerk as geheel bestaan uit 10 verskillende kerke wat selfstandig bestaan maar saam werk op sekere terreine. Dit is tog duidelik dat ons tien selfstandige kerke is wat eie besluite neem. Elke kerk beheer sy eie fondse en bates en eiendom is in die verskillende kerke se name geregistreer.
Die Algemene Sinode is nie ’n kerk (soos mense soms dink) nie. Dit is ’n vergadering van 10 selfstandige kerke wat elke vier jaar vergader met afgevaardigdes uit die 10 kerke.
Besluitneming:
Elkeen van die tien kerk kan dus ook sy eie besluite neem.
Goudland het reeds voor die 2019 vergadering van die Algemene Sinode ons eie besluite geneem ten opsigte van ons siening van die huwelik en seksualiteit. Hierdie besluite verskil van dié van die Algemene Sinode wat per implikasie nie goedkeuring gegee het vir SGV in Goudland nie. Hierdie besluite is bespreek met die vorige ASM in ons gesprekke en die besluit is by die Algemene Sinode van 2023 goedgekeur en so genotuleer.
Beleid:
Dit is dus verkeerd om te praat oor die NG Kerk asof daar net een beleid rondom SGV bestaan. Die ASM het juis met die “ruimhuis”-beginsel ruimte geskep vir meer as een beleid. Goudland se beleid is nie dieselfde as die beleid van die Algemene Sinode nie. Sinode Goudland se beleid tov SGV en wat deel vorm van Goudland se kerkorde verskil dus van die van die Algemene Sinode.
Oplossing:
Ek dink dit is waar die oplossing vir die NG Kerk lê. Ons hoef nie nog sinodes af te stig of ’n nuwe kerk te vorm nie. Die AS van 2023 het besluit dat praktiese maatreëls getref moet word wat dit moontlik maak vir ringe en gemeentes om te skuif na ’n ander sinode toe. Die afgelope ASM het hierdie besluite nou in werking gestel.
Die oplossing vir ringe en gemeentes wat nie in hulle sinodale gebied vrede kan vind rondom Skrifhantering en die besluite oor SGV nie is daarom, wat my betref, welkom om te skuif na ’n sinode met wie se beleid julle saamstem.
Dan is jou gewete nie gebind deur so ’n besluit nie, want in die eerste plek behoort ’n gemeente nie aan die NG Kerk as geheel nie, maar aan die kerk of sinode waarvan julle deel is.
Verskeidenheid:
Die NG Kerk kan dan vorentoe gaan met ware verskeidenheid waar die kerke onderling verskil in beleid oor hoe ons die Skrif lees rondom die een saak maar op ander terreine kan saamwerk.
Johan, dit wat jy skryf is waar, maar dit help nie veel nie. Die gewone lidmaat en persone op straat sien die Algemene Sinode besluit iets en dan word dit op grondvlak gesien as die “Standpunt van die NG Kerk” en alle gemeentes word daarmee vereenselwig. Min stel werklik belang in die onderskeiding soos deur jou aangedui. Daar word net gepraat van die “NG Kerk”. Dit is frustrerend vir die getroue lidmate en die benadeel die getuienis jou getuienis.
Die AS is die NG Kerk, want verteenwoordigers op Streek Sinodes sowel as die AS is NG lidmate en predikante.
Johan, die NGK is deel van die liggaam van Christus wat hom onderskei van die res van die liggaam deur sy unieke naam en daarmee gepaardgaande kerkorde en belydenisskrifte en besluite soos deur die homself geneem. Omdat die kerk ‘n geestelike liggaam is en nie ‘n klub nie, kan geen sinode of ring of gemeente homself op so ‘n manier distansieer van die AS dat dit nie ernstige geestelike implikasies vir daardie sinode, ring of gemeente het nie. Die besluit van die Goudland sinode i.v.m SGV, vrywaar hom nie van die geestelike invloed en die gevolge daarvan nie. Dit is hoekom 1Kor 5:7 ev. sê: ” suiwer dan die ou suurdeeg uit” D.w.s verwyder die sonde onder julle uit. Dan ‘n bietjie verder in 6:15 spel Paulus die gevolge uit wanneer ons saam met seksuele sondes in die selfde liggaam leef. Paulus sê dit is om die liggaam van Christus en dit lede van ‘n prostituut te maak. Die werklikheid en hartseer realiteit Johan is, dat indien jy nie die suurdeug, lees sonde, uit die liggaam kan verwyder nie, moet jy jouself totaal en al van daardie liggaam, lees NGK, losmaak. Om te beweer dat die selfstandige Goudland sinode sy eie besluit neem en dan vrywillig assosieer en deel wil wees van daardie liggaam wat sonde voorstaan, is niks anders as geestelike skisofrenie nie.