Ek is nie ’n opgaarder nie, maar ek is ’n kind van my tyd. En dit is duidelik sigbaar in my huis, asook my verhouding met “goed”. Aan die een kant is my ouers se “hou dit vir ingeval”-mentaliteit deel van hoe ek oor “goed” dink. En aan die kant is ek ’n kind van die 90’s en deel van die MTV-generasie. Hierdie vreemde mengsel van waardes maak dat ek, en baie van my generasie, aan die een kant sukkel om van goed ontslae te raak, maar ook aanhou om meer goed te koop. Die uiteinde is ’n huis vol goed. ’n Klomp daarvan wat selde gebruik word. En ander wat ek net ter wille van sentiment hou – want hoe gee ek ouma se teestel weg? Voeg ’n kleuter hierby en jy het ’n resep vir ’n huis wat uit sy nate bars.
’n Kas vol ouma se teestelle en ’n TedTalk het my onlangs aan die dink gesit. In haar kort motiveringspraatjie “Om van ’n 1 000 dinge ontslae te raak” verduidelik Liz Wright hoe dié projek wat die titel van haar praatjie beskryf, ’n verskil in haar lewe gemaak het. Ek het haar storie so inspirerend gevind dat ek besluit het om my eie klein projek aan te pak. So is my “500 goed ligter”-uitdaging gebore. Aan die hand van ’n paar selfopgelegde riglyne het ek begin September (lente is mos die tyd vir skoonmaak) my huis stormgeloop. En ’n paar maande later is my huis en lewe 500 goed ligter. Hier is wat ek uit die proses geleer het, en ’n paar van my topwenke om van 500 goed ontslae te raak.
Wat ek geleer het?
– Die proses was makliker as wat ek verwag het. Die eerste tree is die moeilikste.
– Minder is toe tog beter. Baie van ons is geneig om te dink stoorspasies is die antwoord vir ’n oorvol kamer of huis. Maak eerder minder as om jou goed iewers te stoor vir “net ingeval”.
– Die meeste van ons besittings hou nie hulle geldelike waarde nie. Moenie goed hou omdat jy hoop dat dit in die toekoms vir jou ryk gaan maak nie. Hou die goed wat funksioneel is.
– Jy gaan waarskynlik nooit weer in daardie broek of rok pas nie. Gee dit eerder vir iemand wat dit kan gebruik as wat dit ongebruik in jou kas hang.
– Betrek jou huismense. Nie net is dit makliker as elkeen in die huis oor sy/haar eie goed besluit nie, maar dit is ook ’n goeie oefening vir ’n huisgesin om saam te doen.
– Ek het net weer ontdek dat dit meer betekenisvol is om goed weg te gee, veral as jy weet iemand anders kan dit benut.
– Om met minder goed omring te wees is vir my goed. Dit maak nie net my fisiese spasie “skoner” nie, maar ook my kopspasie.
My topwenke
– Gee vir jouself genoeg tyd. Die mindermaak-proses het baie langer geneem as wat ek verwag het. Minder-maak gaan hand aan hand met ’n stuk nostalgie en nostalgie neem tyd. Gun jouself tyd om te onthou en te reflekteer.
– Stel vir jouself hanteerbare doelwitte, soos byvoorbeeld teen die einde van die week moet ek 50 goed na die welsynswinkel neem.
– Gee vir jouself toestemming om erfstukke en geskenke, waarvan jy nie hou nie, weg te gee.
– Draai al die hangers in jou kas in dieselde rigting. Sodra jy ’n kledingstuk gedra het, draai die hanger om. Die klere wat na ’n paar maande steeds aan onomgedraaide hangers hang, kan maar gaan.
– Pak die inhoud van jou kombuiskaste op ’n tafel uit. Begin by die kombuistoerusting wat jy nooit gebruik nie. Vra vir jouself die vraag af: ‘Sou ek nou hierdie by ’n tweedehandsewinkel koop?’ As die antwoord néé is, herwin óf skenk dit.
– Gooi ’n laai se inhoud in ’n boks. Sodra jy iets uit die boks haal en gebruik, plaas dit terug in die laai. Dít wat na ’n paar maande steeds in die boks is, kan weggegee of -gegooi word.
– Jy kan nie al jou kinders of kleinkinders se prentjies en kaartjies hou nie. Kies ’n paar wat vir jou baie kosbaar is en raam hulle. Neem foto’s van die res en gooi hulle dan weg. Dieselfde geld vir briewe en poskaarte.
– Probeer soveel as moontlik die goed wat jy mee wegdoen aan welsynsorganisasies of tweedehandsewinkels skenk. Voordat jy die res in die asblik gooi maak seker dat dit nie dalk by ’n plaaslike instansie of gemeente herwin kan word nie.
Na afloop van die proses is ek meer as ooit oortuig dat Terry Guillemets se woorde waar is: ‘Clutter smothers, simplicity breathes’.
Ds Fay van Eeden is predikant by die NG Gemeente Suidoos-Pretoria (Stellastraat).