Christian nationalism and anticommunism in twentieth-century South Africa deur Ruhan Fourie
Uitgewer: CLF Uitgewers (Oorspronklik Routledge), 2024
Resensent: Retief Müller

’n Tradisionele en selfs wesenlike probleem met kerkgeskiedenis is dat dit gewoonlik geskryf word deur kerkgeskiedkundiges. Dit wil sê dit word geskryf deur teoloë wat die kerkgeskiedenis as onderrig en navorsingsveld het, maar wat eintlik as teoloë opgelei is en gevolglik teologies dink oor die hede, verlede en toekoms van die kerk. Daar is natuurlik waarde in so ’n teologiese aanpak tot die kerkgeskiedenis, aangesien kerke dikwels besig is met teologiese formulerings en herformulerings van allerlei sake met raakpunte diep in die verlede. Tog is teoloë nie altyd die beste mense as dit kom by die historiese analise van ’n samelewing nie, want teoloë het gewoonlik nie opleiding ontvang in historiese metodologie nie. Dit is ’n jammerte, aangesien, soos wat Ruhan Fourie so uitstekend aandui in hierdie boek, die kerk onafskeidbaar deel is van die breër samelewing.
Dus, waarskynlik die waardevolste aspek van Christian nationalism and anticommunism is doodgewoon die feit dat dit ’n produk is van ’n bekwame historikus wat erns maak met die kerk as rolspeler in die gang van die 20ste-eeuse geskiedenis. Die Afrikaanse kerke en spesifiek die NG Kerk is dalk selfs belangriker binne die konteks van 20ste-eeuse politieke geskiedenis as wat normaal is vir kerke wêreldwyd gedurende hierdie tydperk. Daar is historiese redes hiervoor, wat die tema van ’n ander boek sou kon wees.
LEES OOK: ’n Historiese blik: Die NG Kerk en die Rooi gevaar
Fourie vra egter die skerpsnydende voorheen ongevraagde vraag oor hoe die tema van antikommunisme ingespeel het op die ontwikkelende diskoers van Christen-nasionalisme soos verwoord deur die belangrikste rolspelers onder die breë NG Kerk-sambreel. Dit lei die leser op ’n reis wat by die NG Kerk kort na uniewording in Suid-Afrika begin, maar uiteindelik ’n verskeidenheid kulturele, politieke en pseudo-politieke instansies en organisasies insluit. Die verweefdheid van hierdie samelewingsfaktore as rolspelers binne ’n diskoers wat nie eintlik daarop uit was om kommunisme as ideologie te verstaan of te ontleed nie, maar eerder om die volk op hol te sit met die vrees daarvoor, word op ’n besonder kundige manier deur Fourie vertolk.
Rooi gevaar, Swart gevaar, Roomse gevaar en nog ander gevare het deur die loop van die Afrikanergeskiedenis opgeduik as verteenwoordigend van volksvreemdheid en aanleidend tot vrees. Fourie se opspraakwekkende voorwoord en epiloog dui onomwonde en akkuraat aan hoe andersheid en vreemdheid nogmaals nuwe gestaltes beklee. Soos in die verlede word hierdie weer geteiken deur die hedendaagse eienaars van regsinnigheid – regsinnig na eie oordeel natuurlik.
Besikbaar by CLF.
Prof Retief Müller is dosent in Mission and World Christianity by VID vitenskapelige høgskole in Noorweë.

Vir ‘n ander perspektief op die boek, sien bv. op YouTube: “Dr Ruhan Fourie: ‘n Gebalanseerde NG Kerk Geskiedenis?”