Dr Marié Britz van NG Kerk Stellenbosch-Moedergemeente, het haar PhD gedoen by Universiteit Stellenbosch. Doret Niemandt het met haar gesels oor ’n ‘skeplepel’ vir die NG Kerk.
Daar word hierdie verhaal vertel van ’n klomp vriende wat saam geëet het. Almal het iets gebring en dit op die tafel neergesit. Terwyl almal geëet en gesels het, was daar een gereg wat onaangeraak op die tafel gelaat is. Hoekom het niemand daarvan geëet nie? Die antwoord was eenvoudig: Daar was nie ’n skeplepel nie. Dr Marie Britz gebruik hierdie metafoor van Margaret Silf om te verduidelik wat ’n geïntegreerde missionale spiritualiteit vir die NG Kerk kan beteken.
In ons eie gereformeerde tradisie het ons die wonderlikste geregte op ons tafel, maar ons het nie altyd skeplepels – die regte hulpmiddels – wat dit vir mense toeganklik maak nie, vertel sy. Ons teologie is so ryk, maar ons weet nie altyd hoe om dit te integreer en deel te maak van mense se lewe nie. Goeie kopkennis is belangrik, maar eers relevant wanneer dit tasbaar in ons lewe is. Ignatius van Loyola se spiritualiteitsoefeninge kan so ’n skeplepel wees. Britz skryf hieroor in haar PhD-studie: “Op weg na ’n geïntegreerde missionale spiritualiteit met die spiritualiteitsoefeninge van Ignatius van Loyola: ’n Gevallestudie onder predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Wes- en Suid-Kaapland”.
Uitdagings en uitbranding
Britz se reis in die bediening was gevul met uitdagings en uitbranding. Daar was altyd hierdie spanning tussen verwagtinge, haar eie en dié van die kerk, en dit wat sy ervaar het. Dit was toe dat sy bekend gestel is aan Ignatius se spiritualiteitsoefeninge. Sy vertel dat dit skielik taal gegee het aan al hierdie goed wat sy in haar bediening en persoonlike lewe ervaar het. Na ’n 30 dae retraite by die St Beuno-spiritualiteitsentrum in Wallis, waar sy Ignatius se oefeninge deurgewerk het, het haar kollegas haar gevra wat sy alles geleer het. “Ek het niks nuut geleer nie,” sê sy. “Ek het alles wat ek reeds geleer het net vir die eerste keer beleef.” Haar verstaanskennis het ervaringskennis geword. Skielik was God en die Bybel weer nuut en lewend. Dit het haar geïnspireer om hierdie oefeninge van Ignatius as hulpmiddel vir geestelike vorming in die NG Kerk verder te ondersoek.
Die modernisme het die tradisionele verstaan van spiritualiteit in die NG Kerk so beïnvloed dat ons al hoe meer ’n skeiding gemaak het tussen liggaam en siel. Die oorheersende spiritualiteit was dus intellektualisties en ander aspekte van menswees en ervarings het agterweë gebly. Hierdie skeiding van ons leefwêreld het veroorsaak dat ons al hoe meer gesukkel het om die lyn te trek van die akademie en teologie na die alledaagse lewe. En dit kan eintlik nie losgemaak word van mekaar nie, sê Britz. Dit is hoekom sy by Ignatius se oefeninge aanklank gevind het – dit was nie teologie nie, dit was ’n 30 dae lange proses, iets wat jy moes deurmaak en ervaar. Dit was ’n proses wat die teologiese konsepte op ’n unieke manier oopgebreek en tasbaar gemaak het.
Stilte, afsondering en refleksie
Britz se navorsing het gefokus op ’n groep predikante van die NG Kerk en hoe hulle deur ’n soortgelyke proses begelei kan word. Die grootste uitdaging wat sy ervaar het, was om predikante te oortuig dat ’n tydperk van stil word, afsondering en refleksie dalk regtig nodig en belangrik is. Predikante wat ingestem het, het op drie 10-dag retraites gegaan. ’n Tipiese dag tydens ’n retraite het bestaan uit vier gebedsure (wat deelnemers self kon indeel in hulle dag), ’n 45 minute sessie met jou spirituele begeleier (waar jy jou ervarings kon deel), ’n refleksiegebed snags (die “daily examen” soos dit algemeen bekend staan), en twee gesamentlike aanbiddingsgeleenthede (nagmaal en voorbidding). Deelnemers het in stilte aan hierdie retraites deelgeneem. Die verbeeldingmeditasies was die hoogtepunt vir die meeste predikante, vertel Britz. Hierdie sessies het die meeste skuiwe teweeggebring.
Britz is oortuig dat Ignatius se oefeninge ’n praktiese rol kan speel in die vorming van predikante in die NG Kerk. En omdat dit gefokus is op onderskeiding en roeping is die ideale tyd om daaraan deel te neem wanneer jy jouself in ’n oorgangsfase bevind. Predikante wat dus aan die begin of einde van hulle bediening is, moet dit oorweeg. Dit kan ook sinvol wees wanneer jy al reeds lank in ’n gemeente bedien en wonder wat volgende kom of wanneer jou 3-jaarlikse sabbatsverlof aanbreek. Dit is egter nie net vir predikante nie – enige iemand wat ’n behoefte het om tot stilstand te kom en hulleself te heroriënteer tot God kan hierby baat vind.
Vyf eenvoudige stappe
Ignatius se oefeninge is vir almal en dit is ook vir elke dag. Terwyl ’n 30-dae retraite of drie 10-dag retraites die algemene formaat is, kan van hierdie praktyke deel van jou daaglikse roetine word. ’n Bekende voorbeeld is die refleksiegebed, of “daily examen”. Dit is die gebruik om jou dag deur die oë van geloof te oorweeg en bewus te word waar God betrokke was. Dit word gewoonlik aan die einde van die dag gedoen en bestaan uit vyf eenvoudige stappe:
- Dankbaarheid – Dink aan al die seëninge wat jy vandag ontvang het, groot of klein, sê vir God dankie.
- Bid vir leiding – Vra God om jou te help om met ’n oop hart na die dag te kyk en dit te sien soos Hy dit sien.
- Ondersoek – Gaan deur die gebeure van die dag, dink aan jou gedagtes, gevoelens en dade, en kyk vir oomblikke waar jy bewus was van God se teenwoordigheid of waar jy ver van Hom gevoel het.
- Herken jou tekortkominge – Erken enige tye gedurende die dag waar jy misluk het of foute gemaak het, dit is ’n kans vir belydenis en berou.
- Hoop vir môre – Kyk na die volgende dag en vra God om jou te help om Hom beter te dien.
Ingatius se refleksiegebed help mense om nader aan God te leef en om meer bewus te raak van hoe Hy in alledaagse oomblikke teenwoordig is.
Dr Doret Niemant is predikant van die NG Gemeente Valleisig.