In 2009 was al die studente by Universiteit Vrystaat se fakulteit teologie van die NG Kerk en die meeste was mans. Dié prentjie lyk vandag baie anders. Nie net is daar meer vroue nie, maar NG studente is by verre in die minderheid. Hy dink ’n belangrike uitdaging vir die NG Kerk en haar studente is om deel van die diverse en ekumeniese gesprek in die klasse aan die fakulteit te bly, sê prof Kobus Schoeman. Kerkbode het Schoeman, wat vanjaar uittree, gevra wat is volgens hom die boodskap wat hierdie veranderinge vir gemeentes inhou?
Kerkbode (KB): Net kortliks, vertel meer oor jou eie loopbaanreis tot nou?
Kobus Schoeman (KS): Ek is in 1986 gelegitimeer as deel van ’n klas van 30 NG studente. Gretha Heymans was deel van ons finalejaarklas, maar sy is eers vier jaar later gelegitimeer (as eerste vroue NG predikant). Sy was daardie jaar die enigste vrouestudent in die hele fakulteit.
Ek was vir meer as twintig jaar voltyds predikant in verskeie gemeentes voor ek in 2009 beroep is na die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Ek is aangestel as ’n voltydse dosent in die Departement Praktiese Teologie. My fokus binne praktiese teologie was gemeentestudies en leierskap (hy was ook vanaf 1988 by die gemeente-opnames van Kerkspieël betrokke).
Lees ook: Marileen gesels met prof Kobus Schoeman : Praat eers met die ‘ander’ en dán oor kerkwees
KB: As jy moet vergelyk tussen 2009 en nou, hoe verskil die samestelling van die finalejaarklas?
KS: Die geslag van die studentekorps het drasties verander, waar daar in 2009 enkele vroue onder die studente in die klas was, is hulle vanjaar meer as die helfte van die klas.
Die denominasies waaraan die studente behoort, lyk ook radikaal anders. In 2009 was al die studente in die klas van die NG Kerk. Vanjaar se klas het net drie NG studente. Hierdie drie vorm deel van die groep studente wat kom vanaf kerke met onder andere ’n gereformeerde belydenis. Daar is ook studente vanaf kerke wat as charismaties (“Pentecostal”) beskryf kan word sowel as studente vanaf “African Initiated or Independent Churches”.
Dit lei tot fassinerende gesprekke in die klas oor wat in die verskillende gemeentes gebeur.
Lees ook: Kuratorium van die Vrystaat: Ontmoet die klas van 2024
KB: Is (verskeidenheid van geloofstradisies) iets wat jou bekommer?
KS: Ek sou eerder van uitdagings as bekommernisse praat. Ek dink ’n belangrike uitdaging vir die NG Kerk en haar studente is om deel van die diverse en ekumeniese gesprek in die klasse aan die fakulteit te bly. Gemeentes kan nie eiesoortige kulturele eilande wees nie, maar is deel van God se koninkryk. Studente moet as deel van hulle opleiding aan die ekumeniese diversiteit blootgestel word. Dit is waar hulle die vaardighede leer om saam te werk en vennootskappe te sluit. Gemeentes en die NG Kerk het dit baie nodig.
KB: Waarmee help die nuwe opleidingsbane (diensleraars en bedienaars) in teologiese opleiding gemeentes?
’n Gemeente se bediening is meer as die werkvermoë van ’n voltydse geordende predikant. Dit is veral waar van kleiner gemeentes ongeag of hulle in stedelike of plattelandse kontekste geleë is. Die diverse bane in teologiese opleiding skep die geleentheid vir gemeentes om self te onderskei wat die formaat en omvang van die leierskap is om haar roeping en bediening te kan uitvoer.
Wat is vir jou die belangrikste verskil(le) tussen toe jy ’n teologiese student was en die prentjie vandag vir voornemende leraars?
Die praktyk en gemeentelike blootstelling wat ons gehad het, behalwe vir ’n paar klaspreke, was vir drie weke teen die einde November in ’n gemeente. Jy het daarna voor Kersfees in ’n gemeente gaan aflos. Studente het vandag die geleentheid om ’n meer geïntegreerde en op ’n deurlopende basis gemeentelike bedieningsvorming te ontvang. My oordeel is dat dit ’n wenslike verbetering is.
Op ’n teologiese vlak was die gesprek veral in 1986 oor apartheid en die belydenis van Belhar. ’n Paar van ons het toe reeds aangedui dat ons die belydenis van Belhar aanvaar en onderskryf. Die uitdaging vandag bly om eenheid, versoening en geregtigheid ’n groter werklikheid in die kerk en gemeenskap te maak.
KB: Volgens onlangse verslae is die aantal leraars en diensleraars wat tans afstudeer nie voldoende vir die behoeftes van NG gemeentes van die toekoms nie. Wat sou jy graag wou sien dat gemeentes hoor en ter harte neem?
KS: Die Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode wys dit (die tendense) al vir meer as ’n dekade uit. Gemeentes ervaar ’n tekort aan finansiële hulpbronne, maar die tekort aan voltydse predikante gaan nogtans toeneem. Dit stel uitsonderlike uitdagings aan teologiese opleiding en ook die kerk.
Elke gemeente moet haar roeping in die koninkryk van God binne haar plaaslike gemeenskap onderskei. Die nie-geordende leierskap (ouderlinge en diakens) moet verantwoordelikheid vir die bediening aanvaar. ’n Voltydse of deeltydse leraar ondersteun die kerkraad in dié verband.