Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Brief: Enkele riglyne om leraars ouer as 70 jaar in gemeentes as leraars aan te stel

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Albin Bowler van Bellville skryf: Die vraag is nie of predikante en diensleraars ouer as 70 jaar in gemeentes aangewend behoort te word nie, maar eerder volgens watter praktiese riglyne.

LEES OOK: ‘Jy moes ’n testament opstel … op ouderdom 18’ – Bun Booyens oor diensplig en die uitwerking van ’n gebrek aan afsluiting

Dit is ’n feit dat heelwat gemeentes, veral op die platteland, uitdagings beleef om leraars te lok. Daar is leraars ouer as 70 jaar wat medies geskik, energiek en innoverend is en nog belangrike bydraes in gemeentes kan en wil maak. Medici noem dikwels dat 70 jaar tans die 60 jaar van destyds is.

Ringe en streeksinodes behoort hieroor spoedig met gesprekvoering te begin en beskrywingspunte op te stel. Heelwat ringe staar al etlike jare uitdagings hieroor in die gesig sonder dat die saak behoorlik op algemene sinodale vlak aandag kry.

Hier volg enkele praktiese riglyne:

– Drie partye is betrokke (nie behoort te wees nie): ring, kerkraad en leraar. Die kerkraad stuur ’n verslag aan die ring met aanbevelings. Een van die take van ringe in dié verband is om seker te maak dat kerkrade objektiewe besluite neem.

– Stel leraars op ’n kontrakbasis aan, bv leraar in bestaande pos by die spesifieke gemeente se kontrak is maksimum 12 maande en word jaarliks onderhandel. Iemand van buite se kontrak is maksimum nege maande. Indien die kerkraad ’n leraar wil heraanstel, word kontrakte daarna elke 12 maande herbeding. Dus, ons praat hier van tydelike kontrakposte tot voordeel van gemeentes.

– Alle leraars na ouderdom 70 jaar ontvang reeds ’n pensioen. Sekere voordele val dus weg (bv geen bydraes tot pensioenfondse ter sprake nie). ’n Leraar kan dus ’n gemeente op hierdie wyse geld bespaar. Hierdie besparing kan dan vir ander sake in die koninkryk van God gebruik word, bv hulpverlening vir gemeentelede wat slegs SASSA-toelaes ontvang (selfs by ’n ander gemeente, ens).

– Hierdie is nie ’n situasie waar ’n leraar ’n beroep na 70 jaar aanvaar bloot om ’n ekstra inkomste te verdien nie.

– ’n Leraar kan ook nie aandring dat die kerkraad hom/haar moet aanstel na die ouderdom van 70 jaar nie.

– Daar moet egter ’n verpligte afsny-ouderdom wees, bv maksimum 80 jaar, ongeag ’n uitstekende gesondheidstoestand.

– Nog minder kan die leraar aandring op ’n sekere traktement-bedrag. Die kerkraad nooi die leraar uit (beroep leraar) teen ’n billike traktement wat die gemeente kan bekostig, maar kerkrade behoort weg te bly van top traktementskale (selfs al kan hulle dit bekostig). Dit is goed om ds Bossie Muller se brief aan Kerkbode van 20 Augustus 2019 weer te lees by 

Bogenoemde riglyne behoort ook vir alle leraars na die ouderdom van 65 jaar te geld. Hierdie skrywe wil graag die gesprek oopmaak vir ringe, kerkrade en leraars oor die aangeleentheid.


** Lees nog briewe: https://kerkbode.christians.co.za/category/briewe/

** Skryf vir ons: https://kerkbode.christians.co.za/lesersbrief/

** Ondersteun ons publikasie: https://kerkbode.christians.co.za/vriende/

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Brief: Enkele riglyne om leraars ouer as 70 jaar in gemeentes as leraars aan te stel”

  1. Albin Bowler is duidelik goed ingelig oor die tekort aan predikante, veral in meer afgeleë kleiner gemeentes. Die kerk moet kennis neem van sy sinvolle voorstelle.
    Dis ook opmerklik dat dieselfde beginsels ook al meer in die korporatiewe omgewing in ag geneem word. Wetlik word ‘n aftree ouderdom vrywillig ooreengekom tussen werknemer en -gewer. Andersins word die afdwing daarvan as onbillik en diskriminerend beskou.
    ‘n Aftree ouderdom is net ‘n getal. Daar is baie beter, aanvaarbare en regverdige maniere waarop aftrede bepaal en as nuttige proses bestuur kan word.
    Die Sinode van Noord-Kaapland het reeds sinvolle besluite geneem en is DV eersdaags in gesprek met ons kerkverband hieroor. Dit sal goed wees om hiervan ‘n oop en opbouende gesprek te maak, ook tot heil van die kerk van Christus.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.