“Ek dink daar is baie mense wat afsluiting soek,” sê Bun Booyens in ’n onderhoud vir dié Kollig-episode oor sy nuwe boek TROEP, wat eersdaags by Penguin verskyn.
Booyens het uiteenlopende vertellings ná gesprekke met meer as 100 oud-dienspligtiges opgeteken en georden. Só klink enkele van die temas:
INKLAAR – My ma was banger as ek.
’N KAPELAAN ONTHOU – Genade tussen die ongenade.
PT – Julle wil mos nie saamwerk nie.
LANDMYN – Die duiwel se niggie.
HOM ONTHOU EK – ’n Bruin soldaat in ’n wit basis.
SOLDATETAAL – Woorde, frases en afkortings.
STERFTES – 23 jaar, 6 maande, 3 weke en 2 dae.
Bronne verskil oor hoeveel mense in die Grensoorlog gesterf het, verduidelik Booyens. Die SA Militêre Veterane-organisasie Internasionaal bereken die sterftesyfer aan Suid-Afrikaanse kant vir die tydperk 26 Augustus 1966 tot 21 Maart 1990 as volg: Totale aantal sterfgevalle 2 573. Sowat 30% sneuwel in aktiewe diens terwyl ander oorsake goed soos vliegongelukke en vernaam motorongelukke insluit.
“Ek dink wat mense se geloofsbelewenis verander het in die weermag, was die tyd toe jou lewe veronderstel was om in alle rigtings oop te vou en te navigeer volgens jou eie keuses, was jy daar in ’n situasie waar jy na die dood moes kyk. Jy moes ’n testament opstel op ouderdom 18 … En jy het ’n dog tag gehad om jou nek: Nommer, rang, naam, bloedgroep. En kerkverband.”
- Koop die boek HIER.
Wat is die rede waarom 18-20 jariges die Apartheidsoorlog moes voer? Die Eerste en Tweede Vryheidsoorloe is deur volwasse mans (Burgers) gevoer.
Na ses jaar in die Operasionele gebied as Sektorkapelaan en ‘n doktorale proefskrif getiteld: “Die Godsdiensbelewing van die Nasionale Dienspligtige onder Operasionele Omstandighede” is ek jammer dat Bun as ‘n vorige NDP of buitestaander sonder ‘n breë perspektief soveel te sê het. Sou graag insette wou gelewer het, maar dit blyk dat hy net ‘n samevatting van NDPs se belewing wou gee.
Ek is tans besig met ‘n eboek op die invloed van PTSD op ‘n generasie manne wat betrokke was by transgrens operasies in Angola, maar in Engels.
Baie dankie ds. Bun Booyens vir die boek. Ek is egter bevrees dat die boek te laat is. Dit moes in 1992 of 1993 verskyn het, om enige impak te hê. Hoeveel familiemoorde het ons in die negentiger jare beleef, moorde waar oud-troepe en soldate nie meer lig kon sien nie en so ‘n einde aan hul lyding gemaak het nie.
Die oorlog was wreed, soos alle oorloë. In ‘n handomkeer moes die soldate aanvaar dat die “vyand” nou nie meer die vyand is nie…… hoeveel pastorale begeleiding in die stille plaasgevind het, weet ek nie, maar kan my indink dat soldate by die leeraars om hulp aangeklop het. Wat van die soldate wat nie ingebind is in ‘n gemeente nie?
Dat die weermag nie die nodigheid van die “debriefing” destyds gesien het is teleurstellend. Dieselfde geld egter ook vir die ANC en MK wat ook nooit iets onderneem het nie. Die gruweldade by Quadro en ander ANC kampe is Afrika staan uit soos ‘n seer duim.
Mag God insig gee hoe om hierdie versuim, wat nou meer as 30 jaar terug lê, by te werk. Baie wonde is nou al genees, maar die letsels bly!
HEER, ontferm U oor ons! Kyrie eleison!