Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dawie de Wet van Willowmore skryf: Baie dankie aan Jan Otto (KB 17.02.2025) vir jou opbouende kommentaar op my kursoriese antwoord aan André Mouton (KB 10.01.2025.) Jou metafoor van die evangelieboodskap as ’n magneet is treffend.
André het ook gereageer en vir my ’n pertinente vraag gevra: “Danie, ek wil graag hoor wat jy dink die meeste nodig is in ons kerk. Oordeel van ’n broer wat anders dink of om nederig te luister met die doel om eenheid in Jesus aan te moedig.”
Dawie sal antwoord:
’n Dominee doen vroeër vanjaar huisbesoek by ’n afgetrede egpaar. Hulle was aktiewe gemeentelede, maar kom die afgelope jare nie meer kerk toe nie. Toe hy vra waarom, vertel hulle stukkie vir stukkie hoe negatief en vernederend hulle sekere “kerkmense” se optrede teenoor hulle ervaar het. Daarom kyk hulle liewer Sondae TV-kerk as om hulle “siele te versondig deur in hierdie mense vas te kyk”. Die dominee lei toe die gesprek na hulle geloof in Jesus as hulle Verlosser en hulle beaam dadelik dat hulle die evangelie van Jesus van harte glo. Daarna verduidelik hy wat die lydensweg en kruisdood vir die Here Jesus gekos het – dat Hy stukkend geslaan en daar op Hom gespoeg is, dat sy dissipels Hom verlaat en soldate spykers deur sy hande en voete gekap het. Ten spyte van dit alles het Hy gesê “Vader vergeef hulle …”
Toe vra die dominee: “Was die pyn, verwerping en vernedering wat die Here moes ly, nie baie erger as die vernedering wat julle deurgegaan het nie?” In die gesprek wat gevolg het, noem die dominee dat hy seker is hy gaan hemel toe, en wil ook graag seker wees dat hulle ook daar sal wees. Daarom meen hy dat hy sy plig sal versuim as hy hulle nie in liefde waarsku nie. Hy lees toe Matteus 5:15: “As julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie vergewe nie.” Jesus self sê dus as jy nie dié wat jou kwaad aandoen, van harte vergewe nie, word jou sonders ook nie vergewe nie.
LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: ’n Seun genaamd Vrolik, ’n Kind genaamd Vrede
Dit was ’n lewensveranderende gesprek vir daardie egpaar.
André, ek deel hierdie praktiese ondervinding om te bewys jou vraag impliseeer ’n keuse tussen twee noodsaaklike elemente van die evangelie van Jesus. Ek het in hierdie gesprek met liefde geluister, maar moes ook in liefde die veroordelende element van die evangelie uitlig. Die een sonder die ander is ’n halwe waarheid wat mense verlore laat gaan.
Ten slotte: Ek hoop jy verstaan waarom ek woke stereotipes verwerp. Daarvolgens het jy my in die blik van “fundamentalisties en veroordelend” gedruk. Ek dink eerder vanuit ’n Bybelse wêreldbeeld. Die boek The eye is the lamp of the body: Worldviews and their impact deur BJ van der Walt (2008) verduidelik dit. Dan verduidelik Christianity and wokeness deur Owen Strachan (2021) waarom die verdeling van mense in “onderdrukkers” en “slagoffers” die Bybelse waarhede erodeer.
