Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: ’n Seun genaamd Vrolik, ’n Kind genaamd Vrede


Sondagoggend vroeg, 2 Februarie, het ek in ’n klein gemeente wakkergeword, in die groot pastorie aan die hoofstraat – die enigste teerstraat deur dié klein dorpie. “Met sy erfenisgroen dakke en witgekalkte historiese huise is Philippolis die Vrystaat se Stellenbosch,” skryf Karel Schoeman. “Oudste nedersetting in die Transgariep,” noem Jens Friis sy pragboek oor Philippolis, waar 41% van die dorpsmense Afrikaans praat, 29% Xhosa, 26% Sotho, 1% Engels.

LEES OOK | Pastorale brief: ‘Ons skryf uit ʼn diepe besorgdheid aan julle, met ʼn hartsgebed dat God Hom oor ons almal sal ontferm’ – ASM Dagbestuur aan gemeentes van NGK

In sy voorwoord tot ’n vroeëre publikasie oor die dorp – “Vesting in die Transgariep” – skryf die jong dominee Bertie Haasbroek in Julie 1997 (toe ons gesin óók by hulle in die pastorie oornag het): “Skaars vyftig meter van die statige kerkgebou, gesny uit die gees van die Gotiek, tuur die een kanonloop van Adam Kok skuins oor die kerktoring die verte in … kanonloop en kerktoring, profete oor die toekoms?” Die skets van dié twee – kanonloop en kerktoring – voorop die boek oor Philippolis, herinner aan die treffende voorblad van die Nederlandse kerkhistorikus dr Cock Blenk se “Kerk- en Wereldgeschiedenis van de 20e Eeuw” (1988).

LEES OOK: Uit my Kerkdagboek: Dit is op jóú, die voorletters van Jesus

In Wittenberg in Duitsland, staan daar oorkant die bekende Schlosskirche van Luther, ’n Russiese oorlogstenk uit 1949, en skryf Blenk oor sy voorbladskets: “De bakermat van de Reformatie werd onder de voet gelopen door het Russisch communisme.” ’n “Magtelose Kerk”, noem ’n duidelik besorgde Blenk sy eerste paragraaf oor die twintigste eeu. Opmerklik, want die boek verskyn in 1988, skaars ’n jaar voor die onverwagse val van die Berlynse Muur! Min van ons kan regtig die toekoms en wat nog aankom, onderskei …

Staan elke generasie nie voor dié keuse nie? Kanonlope kan baie vorms aanneem. ’n Vurige saluut met ’n regterarm uitgekap die lug in. ’n Swaaiende wysvinger waarskuwend oor ’n TV-skerm in die vroeë tagtigs. ’n Grynslag van ’n gekaapte president op ’n troon by ’n kerkbyeenkoms. Hoe onderskei ons tussen wat goed is en reg, en wat nie? Is die keuse so duidelik, want kom die een nie al te dikwels in die gedaante van die ander nie? Verlei jou onverhoeds?

LEES OOK: Uit my Kerkdagboek: Moet die dag van klein dinge nie geringskat 

Dit is waaroor ek in die oggendkoelte daardie Sondag – midde-in ’n bitter droë somer hierlangs – loop en dink, in Philippolis se teerstraat, voor die kerk uitgestrek. Elders rammel dit in die bladsye van die Sondagkoerant. Laat weet ’n vriend: “In die klein gemeentes hou ons liefde boek van die foute van die ledemate, ons ondersoek ry op, ry af, na links, na regs mekaar se kwaad …” (TT Cloete). Voor die kerk, net binne die hekkie, staan stil grafsuile vir die dienaars van die Woord wat hier gesterf het – sommige, ín hulle bedieningsjare. Colin Mackenzie Fraser, oorlede 27 Februarie 1911. Tobias Ballot Muller, oorlede 25 Oktober 1918, ouderdom 34 jaar. Christoffel Johannes van Niekerk, skielik dood in Junie 1947. “Opgerig deur ’n dankbare gemeente.” Carin van Schalkwyk, 7 Maart 2022. “Leraar van die Gemeente Philippolis en die VGK Bergmanshoogte. Haar afsterwe laat ’n groot leemte.”

Ek draai links, stap oor die smal straat, na die NG Kerkkantoor se kant toe. Die groot houtpaal van Eskom toring die lug in, die grys ankerdraad skuins die grond in. Rondom is ’n rooi-en-wit waarskuwingslint nou gespan, sper dit af. Drie dae tevore – Donderdagaand – is die lewelose liggaam van die sewejarige Reagen Vrolik hier gekry. Alleen. Sy hartseer Graad 2-juffrou, Ingrid Engelbrecht by Bergmanshoogte Primêre Skool, sê hy was “woelig en geselserig, met engelvlerkies”. By sy ouma gewoon. Donderdagaand ná donker was daar swaar donderweer, ’n bietjie reën, ’n kaalvoetkind iewers heen op pad. ’n Skok van ’n kragpaal dalk die oorsaak, word berig. Die ewigheid in. Sal dié seuntjie genaamd Vrolik onthou word? Wie moet hieruit leer, die fout kom regmaak? Hoeveel kinders nóg? Drie op ’n te besige, te vinnige pad buite Bloemfontein; twee by ’n gevaarlike kruising agter Durbanville – net in die laaste week van Januarie. Op die Vlakte nóg ’n sewejarige in kruisvuur. Vrolike kinders was hulle almal. Terwyl ons, die grootmense … Ja, waarmee is ons in hierdie voorjaar besig? In die klein én groot gemeentes? Ook hier by ons in die stad, rég onder ons kerkvensters, het ons een oggend die lewelose liggaam van ’n hopelose hawelose gekry. Tot vandag toe weet ek nie sy naam nie. En ek wonder: Het hulle dalk in ’n laaste oogopslag nog die kerktoring gesien, gehoop? Of dalk reeds die beter Anderkant?

LEES OOK: Uit my Kerkdagboek: ’n Kerk bewustelik op weg …

In Philippolis het die einste Jens Friis en die gemeenskap meer as R6 000 bymekaargemaak vir die begrafnis van die seuntjie genaamd Reagen Vrolik. En die nuwe dominee – Louwrens Scheepers, vir wie se bevestiging ek daardie Sondag in Philippolis was – het die treurende gesin gaan troos. Want “God is anders as ons … Gods liefde is geheueloos” (TT Cloete). God maak nie onderskeid nie. Want God het ook eens ’n Seun verloor, genaamd Vrede. “Wonderbare Raadgewer” (Jesaja 9). In sý tyd was daar nog nie kanonne nie, maar wel kruise. Digby die tempel in die groot stad, net so naby soos die hope klippe aan die sinagoges. Ironies dat Hý juis daarheen gestuur was om te kom sê, te kom wys dat dit ook ánders kan. Dat Hy – die Vredevors – lig sal bring vir hulle wat in die donkerte leef en sterf; dat Hy reg sal spreek vir die naamloses, die stemloses; dat Hy die swaarde sal vat en omsmee in ploegskare (Jesaja 9). Dat kinders weer geseënd sal wees, en vrolik.

Nou toe. Sondag, 2 Februarie 2025 was maar één bladsy uit die afgelope maand se dagboek. Soveel vergaderings, so baie verpligtinge. Ry hierheen, bel soontoe. Skryf die verslag. Maak gou. Gaan sien die kollega. Open die skool, die seminarium, die fakulteit. Reminder: Die zoom begin oor ’n halfuur. Onthou ons soek jou teks vir Sondag! Onthou … Nee, stóp! Wat jy móét onthou is die seuntjie genaamd Vrolik en die Kind genaamd Vrede. Dié twee. En om te bid dat ons sal kies vir waarop dit régtig aankom, wanneer die kanonne so begin rammel.

  • Ds Jan Lubbe is predikant by die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.