Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Dit is op jóú, die voorletters van Jesus


Rondom my, voor in die liturgiese ruimte, ’n see van “kindergesiggies, soos die sterre se liggies, al die pêrels vir Jesus se kroon” (Hallelujalied 336). Dit is die eerste groot Sondag van die jaar, 19 Januarie, die kerk is vol, katkisasie begin, die jaar van ons Heer 2025 open. Ons gemeente – soos in Ortodokse-, Katolieke en Protestantse Kerke wêreldwyd én die NG kerke hier aan die suiderpunt van Afrika – gedenk vanjaar die Belydenis van Nicea; daardie eeue-oue woorde oor Christus wat ons almal saambind: “Lig uit Lig”. Afgelope Kersdag het ons dit gesing, Lied 348: “Stille nag, heilige nag! Jesus-kind, lank verwag, Lig uit Lig, uit die Vader se ryk, word uit liefde aan mense gelyk.” Vir ons tieners is daar ’n T-hempie gereed, voor op die bors die woorde “Lig uit Lig”; op die mou, “Nicea 1 700”.

LEES OOK: Uit my Kerkdagboek: Moet die dag van klein dinge nie geringskat 

Vir Lydenstyd beplan ons ’n preekreeks oor die hart van Nicea se belydenis van Christus, “wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, wat selfs vir ons gekruisig is …” Vir die Pinkstertyd vanjaar: “Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker …” Vir Koninkrykstyd in September: “Ons glo in God, Skepper van hemel en aarde, van alle sienlike en onsienlike dinge.” Dit is die jaar van Nicea, eeue ver van ons verwyder; oor land en see, duisende kilometers na ’n ander wêreld, ’n byna onvoorstelbare konteks, lank, lank gelede …

Hoe deel jy dít met kinders, in ’n “kindermoment” in die erediens? Daardie groot woorde uit die eerste Konsilie van die Christelike Kerk in Mei en Junie 325 ná Christus?

LEES OOK: Uit my Kerkdagboek: ’n Kerk bewustelik op weg …

Wel, eintlik kan ons nie oor die Konsilie van Nicea praat sonder om die naam van keiser Konstantyn te noem nie, of hoe? Die keiser wat die bloedige vervolging van Christene gestop het; wat ’n dekreet uitgevaardig het dat die Christelike geloof ’n wettige godsdiens in die Romeinse Ryk mag wees, tussen ander (dit is terloops eers by die Konsilie van Konstantinopel in 381 nC dat keiser Theodosius die Christelike geloof tot Romeinse “staatsgodsdiens” verklaar het – iets anders as vryheid van godsdiens). Konstantyn, wat bepaal het dat geen ter dood veroordeelde meer gekruisig mag word nie; wat vasstel dat ’n weggeloopte slaaf nie meer in sy of haar gesig gebrandmerk mag word nie – mense dra die beeld van God. Konstantyn, wat die eerste dag van die week – Sondag – tot rusdag proklameer, ’n dag vir aanbidding; wat Christene toelaat om kerkgeboue te mag oprig. Konstantyn, wie se ma Helena ’n Christen was en vir haar seun se bekering gebid het.

LEES OOK: Uit my kerkdagboek: ‘Ons het nie ’n kerk nie, Oom’

Die stof vir ’n kinderverhaal tydens die erediens begin bymekaarkom. Dié Konstantyn wat volgens oorlewering op weg na die beslissende veldslag teen Maxentius oor wie die volgende keiser sou word, op ’n helder middag ’n visioen gehad het; teen die skerp sonlig in ’n teken in die hemel gesien het en die woorde in hoc signo vince gehoor het – “in hierdie teken, oorwinning”. Die teken? Die Christusmonogram! Ek wys vir die kleintjies ’n mooi kleurafdruk daarvan en vra: “Waar sien julle hierdie teken in ons kerk?” ’n Dogtertjie wys dadelik na die Liedboek, wat ek juis regop voor op die tafel neergesit het – “daar!” Toe sien ’n seuntjie dit skerp raak en roep uit: “Daar op jóú!” En hy wys na die Christusmonogram op die liturgiese band om my skouer, ja.

Dit was Konstantyn wat die Konsilie van Nicea byeen laat roep het, onder andere, om uitsluitsel te kry oor die teologiese vraag na Wie Jesus werklik was, die Christus. Of Konstantyn self in Jesus geglo het? Daar ís die verhaal oor sy doop, láát in sy lewe, as verswakte. Later in die erediens deel ek dit met die ouers en res van ons gemeente, dat Konstantyn ’n Romeinse keiser was; soos die ander, ook magsbehep, korrup, wreed. Was daardie gebeure in die vierde eeu op weg na en anderkant Nicea, dus die bevryding van die Christelike geloof tot ’n salige getuienis òf ’n verslawing daarvan aan die mag en prag van die koninkryke van hierdie wêreld? Geboorte of sondeval? Soos in onsself óók, altyd dié vermengdheid, dié spanningslyn tussen lig en donkerte?

Terug na gisteroggend se diens. Ek vra vir die tieners wat beteken die Christusmonogram, dié teken wat Konstantyn blykbaar gesien het? En wat hy, ja, later op die vaandels en skilde van sy soldate laat aanbring het – sien, wéér daardie tragiese “vermengdheid”; “Jesus se soldaatjies, ja meneer!” Terwyl Hý die Vredevors was, “wat ter wille van ons neergedaal het uit die hemel, vlees geword het … gely het” (Nicea). Die tieners tas na hulle fone. Een antwoord: “Dit is die voorletters van Jesus se Naam!” Ek word stil: lanklaas het ’n kind se antwoord my só getref. Die Christusmonogram, die eerste twee Griekse letters “xhi” en “rho” van die Naam “Xhristos”, die Gesalfde, die Gestuurde, “eniggebore Seun van God” – die hartsbelydenis van Nicea. “Die voorletters van Jesus se Naam” …

LEES OOK | Nadia Marais: Geseënd is die swerwers

Dit is eers toe ek huis toe ry, dat ek besef wat ek regtig uit die mond van dié twee kinders gehoor het: “Daar op jou … is die voorletters van Jesus se Naam”! Die Heidelbergse Kategismus sê dat dít is waarom ons “Christene” genoem word; ons dra sý ampstitel, “Christus” – profeet, priester koning. Só is in die Reformasie die lyn vanaf Nicea deurgetrek: Hy was en is dié “Lig uit Lig”, en Hy’t vir sy volgelinge gesê nou “is julle die lig vir die wêreld” (Matteus 5:14). Arme Petrus en Thomas. Arme Konstantyn. Arme ons. En tóg bied “Nicea 1 700” ryke stof vir ons besinning vanjaar oor wie ons in sý Naam is, en waartoe Hy ons roep. Onthou, die voorletters van Jesus se Naam rus op jou. Wat ’n genadeteken!

Ds Jan Lubbe is predikant by die NG Kerk Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen van die NG Kerk.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.